Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kanker eis Berna Ackerman (79)
’n Vroeëre foto van dr. Berna Ackerman. Foto: verskaf

’n Bekende oudmusiekdosent en skrywer, dr. Berna Ackerman, is oorlede ná ’n kort stryd teen lewerkanker.

Sy is Maandag in die ouderdom van 79 oorlede.

Volgens haar oudste dogter, Dora Ackerman, is haar ma verlede Dinsdag met lewerkanker gediag­noseer nadat sy ’n ruk lank gesê het sy voel nie lekker nie.

Sy was tot haar aftrede in 1995 ’n musiekdosent aan die Universiteit van die Vrystaat nadat sy vroeër self musiek gestudeer het.

Voorheen was Berna jare lank musiekonderwyser aan die Hoërskool Sentraal, Hoër Meisieskool Eunice, Hoër Meisieskool Oranje en die Bloemfonteinse Onderwyskollege. Sy was ook ’n talentvolle skrywer van vervolgverhale soos Met ’n ompad, Halfstuiwer-mossie en Seuntjie met ’n vlek.

Haar boek Liesbet Delport se oorlogboek was semi-outobiografies oor haar as Bloemfonteinse kind ten tyde van die Tweede Wêreldoorlog. Hulle het almal by Tafelberg-uitgewers verskyn.

Liesbet Delport se oorlogboek is ’n voorgeskrewe Afrikaanse boek by haar alma mater, Oranje, en het ’n aantal pryse, soos die M-Net-boekprys en die ATKV-prosaprys, verower.

Lees ook:

Clive Rice: Hy baklei teen septisemie

Krieketwêreld bring hulde aan Clive Rice

Clive Rice: 'n Vegter wat dit gehaat het om te verloor

Clive Rice sterf

Kyk: Só word krieketheld Clive Rice onthou

“My ma het baie mense deur haar musiek, skryfwerk en betrokkenheid by die kerk geraak. Ons sien dit nou in die reaksie wat ons met die tyding van haar dood ontvang.

“Haar oudstudente is getuienis van die invloed wat sy op hulle gehad het,” het Dora gesê.

Berna se pa, Koos Cloete, was destyds ’n proefleser by Volksblad en het die rubriek Stop van myne help skryf.

Benewens Dora word Berna ook oorleef deur nog ’n dogter, Corlia Jannasch, en twee kleinkinders.

Corlia het haar ma se liefde vir musiek geërf en is ’n musiekonderwyser in Sasolburg. Dora het weer haar ma se liefde vir boeke gekry en is ’n bibliotekaris aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie.

Corlia het gesê sy is bly oor die verskil wat haar ma in mense se lewe kon maak.

Die begrafnis vind voorlopig Woensdag om 14:00 uit die NG kerk Langenhovenpark plaas.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.