Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kinderporno: Onnie se saak na streekhof
Gregory Robinson gister buite die Potchefstroomse landdroshof. Foto: mary-ann palmer
Bert Viljoen vroeër toe hy in die Lichtenburg-landdroshof verskyn het. Foto: mary-ann palmer

Potchefstroom. – Gregory Robinson, een van sewe Suid-Afrikaners wat verbind word met ’n beweerde internasionale kinderpornografie-netwerk, se saak is gister in die landdroshof na die streekhof oorgeplaas.

Dié 46-jarige onderwyser verskyn op 20 Maart weer op aanklagte van die besit van kinderpornografie. Sy borgtog is verleng.

Talle bewysstukke is in Robinson se besit gevind, het die hof vroeër gehoor. Hy woon in Potchefstroom, maar het in Carletonville aan die verre Wes-Rand skool gehou.

Volgens Jan Ellis, Robinson se prokureur, kon hy tot dusver niks vind wat bewys sy

kliënt is by ’n internasionale sindikaat betrokke nie.

Luidens ’n brief van die direkteur van openbare vervolging wat vroeër in die hof in Potchefstroom voorgelees is, behels die ingewikkelde en omvattende ondersoek na die beweerde netwerk onder meer dat 84 DVD’s bekyk moet word. ’n Dokter moet die kinders daarin se ouderdomme bepaal.

Bert Viljoen (54) van Lichtenburg in Noordwes word ook by die netwerk betrek. Hy was hoof van die regshulpsentrum in dié dorp, maar het kort ná sy arrestasie in September verlede jaar bedank. Viljoen verskyn weer op 4 April in die Lichtenburg-landdroshof.

Die polisie het vroeër gesê die beweerde netwerk is oopgevlek deur ’n organisasie wat in Kanada gesetel is.

Oorsee is in 2013 348 mense – sportafrigters, onderwysers en dokters – in verband met kinderpornografie gearresteer. Internetadresse van rekenaars waarop kinderpornografie in Suid-Afrika afgelaai is, is glo aan die plaaslike polisie verskaf en plaaslike verdagtes só hier geïdentifiseer.

Die Suid-Afrikaanse verdagtes (die ander is Charles Ashford, Andries Venter, Neil Malherbe, Fred Human en ’n Johannesburgse sakeman teen wie klagte verlede jaar teruggetrek is, maar weer ingestel kan word) is sedert Augustus in ’n landwye klopjag vasgetrek.

Die polisie het op 672 DVD’s, 25 boeke, 39 eksterne hardeskywe, 22 geheuestokkies, 9 selfone, 8 skootrekenaars, 2 tablette en 2 kameras beslag gelê.

Die polisie moet nog bepaal of die verdagtes ook kinderpornografie versprei en vervaardig het, het lt.genl. Solomon Ma-kgale, nasionale polisiewoordvoerder, vroeër gesê. Die polisie ondersoek ook of enige Suid-Afrikaanse kinders vir die pornografie gebruik is.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.