Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Koei op wildplaas gestroop wyl sy kalf

’n Wildboer in Noordwes het eergister afgekom op die karkas van ’n renosterkoei wat gestroop is terwyl sy besig was om te kalf.

Die kalfie, wat halfpad gebore was, is ook dood, het die boer van die Zeerust-omgewing gister vertel.

Hy wil nie sy naam of dié van sy wildplaas van sowat 3 500 ha bekend maak nie uit vrees vir nóg aanvalle.

Die boer het boonop gister op nog ’n karkas, dié keer van ’n bul, afgekom. Albei renosters is vermoedelik verlede week gestroop toe dit volmaan was. Hulle is doodgeskiet voordat hul horings uitgekap is. Die bul is sowat ’n kilometer van die koei gevind.

Die karkas van die dragtige renosterskoei wat gestroop is terwyl sy op ’n wildplaas in Noordwes gekalf het.
Ek weet nie wat om te doen nie – ek loop op en af. Dit gaan nie vir my oor die geldwaarde van die renosters nie, hulle is my familie.

“Ek kan nie sê hoeveel emosies daar in my is nie,” het die boer gister gesê.

“Ek weet nie wat om te doen nie – ek loop op en af. Dit gaan nie vir my oor die geldwaarde van die renosters nie, hulle is my familie. Ons is baie erg oor hulle. Ons het ’n foto van elkeen en kan hulle van mekaar onderskei.”

Die boer het 15 jaar gelede met agt renosters begin boer. Nou het hy sowat 20. “Dit duur lank om renosters te vestig. Ek voel so opstandig.”

Volgens die boer is ’n dragtige renosterkoei sowat R800 000 werd en ’n bul R600 000.

Dit is onduidelik hoe die stropers op die plaas met ’n verskeidenheid wildsoorte gekom het. Dit is met geëlektrifiseerde draad omhein.

Die boer gaan nou Boesmans van Griekwastad se wêreld haal om op sy plaas te kom woon, dit te patrolleer en spoor te sny.

“Hulle praat Afrikaans en meng nie met die plaaslike bevolking nie. Ons sal hulle met tweerigtingradio’s toerus. Dis vir hulle ook ’n manier om geld te verdien.”

Die boer bied ’n R50 000-beloning aan vir inligting wat kan lei tot die arrestasie van die skuldiges.

Die Valke en die departement van natuurbewaring het die plaas gister besoek.

Volgens Paul Ramaloko, Valke-woordvoerder, is DNS-monsters van die karkasse en monsters van oorblyfsels van die horings geneem.

“Dit word gestoor en wanneer iemand met horings vasgetrek word, kan ons die DNS vergelyk om te kyk of dit ooreenstem met monsters wat op ’n toneel gevind is.”

Ramaloko het gesê stropers is al op dié manier vasgetrek. “Ons het (vroeër) ’n passing gekry op ’n renoster wat in die Krugerwildtuin gestroop is en kon die skuldiges daarvoor arresteer.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.