Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kommer oor duur water
Lesotho-Hooglandskema lewer reeds van Donderdag aan klein Caledonrivier
Die Katsedam in Lesotho waaruit die Vrystaat ook in die toekoms water sal kry. Foto: CONRAD BORNMAN

DIE dringendheid van die situasie was só groot dat die Lesotho- Hoogland-waterskema reeds van Donderdag af water in die klein Caledonrivier by Clarens lewer om die Mangaung-metro in Bloemfontein se waterkrisis te verlig.

Wie egter vir dié peperduur water gaan betaal, sal nog besluit moet word.

Matlakala Motloung, adjunk-direkteur-generaal: kommunikasie van die minister van waterwese en sanitasie, Nomvula Mokonyane, sê geen besluit is nog geneem oor presies hoe die kontrak met Lesotho aangepas word om ook vir die Vrystaat water te gee nie en wie vir die duurder water sal betaal nie. “Sekere prosesse moet nog afgehandel word.”

Motloung was verbaas om te hoor die water loop al.

Dié water word volgens ’n betroubare ingeligte reeds van Donderdag af teen tussen 4 en 10 m³ per sekonde in die Klein Caledonrivier by Clarens vrygelaat.

Water van die Lesotho-Hooglandskema kos R2,20 per kiloliter rou water, terwyl die metro tans 18,7c per kiloliter vir rou water van die Welbedachtdam af betaal.

Trevor Balzer, waarnemende direkteur-generaal van die nasionale departement van waterwese, het op Donderdag se waterkongres in Bloemfontein gesê die “papierwerk” tussen Suid-Afrika en Lesotho sal later uitgesorteer word om ook vir die droë Vrystaat water van Lesotho te bring.

Hy het gister erken die water loop al.

Nie almal dink egter dit is ’n blink plan om van Lesotho water te kry nie.

’n Bloemfonteinse wateringenieur, wat anoniem wil bly, sê bo en behalwe die prys van die water en wie gaan betaal, meen hy die probleem is dat die water dalk oor die 200 km wat dit in die Caledonrivier na Bloemfontein gebring moet word, verlore kan raak. Maseru en Ladybrand onttrek ook daagliks water uit die Caledonrivier, asook boere wat nie gereguleer word nie.

“Wie gaan die water polisieer?”

Hy meen om water van die Lesotho-Hooglandskema te bring is net ’n politieke skuif om inwoners te troos. “Dit koop tyd.”

Rossouw Botes, DA-raadslid van die metro, sê sy kommer is ook wie vir die duur water gaan betaal. ’n Gemiddelde huishouding in Bloemfontein gebruik maandeliks 35 kiloliter water.

“Die DA is verlig om te verneem dat water reeds uit die Lesotho-Hooglandskema losgelaat word om water vir die Welbedachtdam aan te vul. Mangaung kry 67% van sy water uit die dam.”

Botes sê dit is ook vir die DA verblydend dat ná soveel maande se pleidooie, klagte by die polisie, mosies in die Mangaung-raad en openbare vergaderings, dit uiteindelik tot die regering se besluitnemers deurgedring het om bykomende water te verskaf. “Alleen op dié manier kan ’n krisis voorkom word.

“Die vraag is of die minister van waterwese die duurder water van Lesotho gaan subsidieer?”

Botes sê die verbruikers kan mos nie 11 keer meer vir water betaal nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.