Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kubane kos SA baie geld

Die eerste Kubaanse wateringenieurs het stil-stil hul opwagting in Bloemfontein en in Kimberley gemaak.

Hulle kom teen sowat R600 000 per jaar in die departement van waterwese werk.

Boonop kos hul hotelverblyf, met etes ingesluit, die regering nog derduisende rande per maand. Hulle moet ook tussen hul verblyf- en werkplek vervoer word.

■ ​Kubane gaan Vrystaatse kinders leer

In Bloemfontein het Oneida Omoya, ’n vroulike wateringenieur, haar by die departement van waterwese aangemeld. Hoewel sy ’n salaris van sowat R50 000 per maand verdien – dieselfde salaris as dié van ’n adjunkdirekteur op posvlak 12 – kos haar verblyf in die Protea Willow Lake-hotel vir bed, ontbyt en aandete sowat R40 000 per maand.

Omoya word boonop elke dag van haar hotel tot by die werk in die Bloem-Plaza en terug vervoer. Haar kontrak van drie jaar geld van Februarie af.

Haar kollegas by die werk sê sy verstaan nie Afrikaans of Engels nie en sit net heeldag op kantoor en doen niks nie.

■ Pollux: Knap Kubane kán moersleutel swaai

Kido Tshabalala, plaaslike kommunikasiebestuurder van die departement, ontken dat Omoya nie Engels kan praat nie. “Omoya kan Engels praat,” het hy gesê.

Volksblad, susterkoerant van Die Burger, het Omoyo egter persoonlik ontmoet en die kommunikasie was bitter moeilik. Met die hulp van ’n tussenganger kon vasgestel word dat sy 47 jaar oud is, bykans twee maande in Bloemfontein bly en reeds twee weke se oriëntering in Pretoria gehad het.

Sy kon ook haar adres, die Protea Willow Lake-hotel in Nelson Mandelarylaan, bevestig.

’n Woordvoerder van die hotel gebel het gesê dit kos sowat R40 000 per maand vir ’n regeringsamptenaar kom daar te bly – wat oornagverblyf en twee etes per dag insluit.

Sputnik Ratau, kommunikasiebestuurder van die nasionale departement van waterwese, het bevestig die eerste 34 wateringenieurs wat sy departement aangestel het, is reeds in Suid-Afrika en dat een van hulle in Bloemfontein en twee in Kimberley ontplooi is.

■ Kenners wonder oor proses om Kubane na VS te bring

“Ons het verstaan die mense het gekom om hier te werk.

“Twee soorte aanstellings word gedoen: die wateringenieurs wat ons departement ingevoer en aangestel het, en diegene wat deur die res van die regering aangestel word.”

Ratau het bevestig die wateringenieurs se vergoeding is tussen R500 000 en R600 000 per jaar (soos op posvlak 12) en dat hulle dieselfde as ’n adjunkdirekteur verdien. Ook dat hul hotelverblyf, wat etes insluit, bykomend betaal word.

“Ons sou nie wateringenieurs aangestel het wat nie Engels magtig is nie. Hulle moet minstens Engels praat of iemand hê wat hulle hiermee kan help,” het hy gesê.

Ratau ontken die opleiding van die Kubaanse ingenieurs is swak en dat dit by dié van Suid-Afrikaans opgeleide ingenieurs afsteek.

■ ​‘Kubane sal krisis in SA nie afweer’

“Kuba lewer van die beste ingenieurs en dokters ter wêreld op. Ons het hul opleiding met dié van ons ingenieurs vergelyk.”

Twee Kubaanse wateringenieurs het in Februarie in Kimberley aangekom. Hulle is Boy Fanchez en Rebeca Fernandez.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse premier, Ace Magashule, het gesê die wateringenieurs wat die regering vir die Vrystaat aangestel het – bykomend tot dié wat die departement van waterwese aangestel het – kom eersdaags hier aan.

" Bekommerd en omgekrap"

Groot kommer heers in Suid-Afrikaanse ingenieurskringe oor die 34 Kubaanse ingenieurs wat hier kom werk.

’n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs (Saice) het gesê hy is diep bekommerd en erg omgekrap oor dié stap.

“Geen politieke inmenging moet by dié poste betrokke wees nie en mense moenie op grond van hul velkeur aangestel word nie,” het Manglin Pillay, uitvoerende hoof, gesê.

Hy het bygevoeg groot kommer bestaan veral oor die wateringenieurs wat ingevoer is “om ’n dreigende waterkrisis in die land te probeer afweer”.

“Suid-Afrika het van die beste hidro-ingenieurs ter wêreld, maar hulle word in hul eie land misken.

“Sonder die hulp en bystand van Suid-Afrikaanse ingenieurs, wat die land se hidrologie en geologie baie goed ken, sal die Nasionale Ontwikkelingsplan nie slaag nie.”

Stanford Mkhacane, voormalige president van Saice (2014), het gesê plaaslike siviele ingenieurs kan nie verkwalik word indien hulle soos vreemdelinge in hul eie land voel nie.

Volgens Mkhacane is die Kubane nie lede van die Raad vir Ingenieurs van Suid-Afrika (Ecsa) wat internasionaal kragtens die Washington-verdrag geregistreer is nie.

Hy het gesê Ecsa erken ook nie die kwalifikasies van die Kubaanse ingenieurs nie.

Marie Ashpole, woordvoerder van Saice, het gesê die 34 Kubaanse ingenieurs sal die land oor die volgende twee jaar R35 miljoen kos. Daar is egter ook onberekende kostes.

“Hulle ontneem Suid-Afrikaanse ingenieurs van die geleenthede vir opleiding in die praktyk en om in ’n werksgeleentheid geplaas te word.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.