Kyle Abbott – hy moes plekmaak vir ’n ‘vierde’ gekleurde speler.
Die Proteas is in die middernagtelike ure voor die halfeindstryd in die Wêreldbeker-kriekettoernooi deur ’n SMS van Krieket Suid-Afrika (KSA) aangesê om ’n ekstra gekleurde speler in die span te sit.
Die opdrag het gekom van Haroon Lorgat, uitvoerende hoof van KSA, en is gestuur aan Russell Domingo, Protea-afrigter.
Hy is glo voor ’n ultimatum gestel: om te kies tussen Kyle Abbott en Vernon Philander of Rilee Rossouw en Farhaan Behardien.
Dié politieke inmenging het die span in chaos gedompel ure voordat hulle verlede Dinsdag op die veld moes stap teen Nieu-Seeland.
Die Proteas het die wedstryd verloor.
Domingo het lank met AB de Villiers, Protea-kaptein, beraadslaag nadat hy die SMS ontvang het en daar is besluit om Rossouw te behou.
Aan Beeld is gesê ’n “woedende” De Villiers én Philander het aanvanklik geweier om te speel, maar dat hulle “gedwing” is.
Hoewel KSA dit Maandag ten sterkste ontken het, het bronne in die Protea-kamp dit aan Beeld bevestig.
Na verneem word, wou De Villiers en Domingo hê Abbott moet speel, maar Lorgat het geweier om dié span goed te keur aangesien dit net drie gekleurde spelers – Hashim Amla, JP Duminy en Imran Tahir – gehad het.
Lorgat het Domingo, wat ook op die nasionale keurpaneel dien, 01:00 (Nieu-Seeland-se tyd) – 13 uur voordat die kragmeting op Eden Park begin het – in ’n SMS-boodskap daarvan verwittig.
Philander het 14 lopies en vier bylopies in sy eerste boulbeurt afgestaan en moes uiteindelik met syfers van 0/52 in agt beurte tevrede wees.
Suid-Afrika is uit die toernooi geboender toe hulle op dramatiese wyse met vier paaltjies van die voorlaaste aflewering deur die tuisspan geklop is.
Philander het die Proteas se kwarteindstryd teen Sri Lanka misgeloop weens die linkerdyspierbesering wat hom ook uit drie groepwedstryde – teen die Wes-Indiese Eilande, Ierland en Pakistan – op die kantlyn gehou het.
Ons het ’n keurpaneel wat die afrigter (Domingo) en onafhanklike lede insluit en hulle het al die spanne gekies tydens die Wêreldbeker-toernooi.
Haroon Lorgat
Vernon Philander. Foto: Getty Images
In sy afwesigheid het Abbott nege paaltjies, teen ’n boulgemiddelde van 14,44, platgetrek.
Lorgat het die beweerde inmenging by navraag as “onsin” afgemaak.
“Daar was en is geen politieke inmenging in die kies van die span nie,” het Lorgat gesê.
“Ons het ’n keurpaneel wat die afrigter (Domingo) en onafhanklike lede insluit en hulle het al die spanne gekies tydens die Wêreldbeker-toernooi.”
Nóg De Villiers nóg Philander was Maandag bereikbaar vir kommentaar.
Domingo en Tony Irish, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse spelersvereniging (Saca), het geweier om kommentaar te lewer.
Dié skok volg kort op die hakke van KSA se aankondiging dat streng nuwe rasvoorskrifte volgende seisoen in plaaslike franchise- en amateurkrieket ingestel gaan word.
Daarvolgens sal elke franchise-span minstens ses gekleurde spelers, waaronder drie swart spelers, vir elke wedstryd moet kies.
Dieselfde geld provinsiale amateurspanne.
Beeld sê:
Philander hoef lankal nie meer te bewys hy hoort in die nasionale krieketspan nie.
Gert van der Westhuizen, Beeld se sportredakteur, skryf:
Vernon Philander is die grootste verloorder in die
politieke herrie wat rondom die Proteas se span vir die
Wêreldbeker-halfeindstryd losgebreek het.
Ondeurdagte politieke inmenging doen spelers soos
Philander ’n groot onreg aan. Hy hoef lankal nie meer te bewys hy hoort in die
nasionale krieketspan nie.
Ongelukkig sal sommige mense hom nou altyd as ’n
sogenaamde kwotaspeler beskou. En dit is die allerlaaste ding wat dié bouler
van wêreldgehalte is. Hy was al meer as een keer ’n wedstrydwenner vir die
Proteas. Hy sal dit weer wees as dié omstredenheid nie ’n negatiewe invloed op
sy loopbaan het nie.
Die regering moes al lankal transformasie gedryf
het deur toe te sien ordentlike en behoorlike ontwikkeling vind op voetsoolvlak
plaas. Só sal spelers van gehalte na vore kom; nié deur inmenging wat net een
doel het nie: Om politieke punte aan te teken.
Minister: ‘Ek was nie betrokke’
Fikile Mbalula, minister van sport, het enige betrokkenheid by die spankeuse ontken.
Die ANC het Maandag groter transformasie van die
Suid-Afrikaanse krieketspan geëis.
Gwede Mantashe, die party se sekretaris-generaal,
het die Proteas in ’n verklaring ná ’n vergadering van die party se nasionale
uitvoerende komitee “hartlik gelukgewens”, maar bygevoeg: “Krieket Suid-Afrika
moet dringend aandag gee aan die behoefte aan transformasie. Die enigste
Afrikaan in die span, Aaron Phangiso, is die enigste speler wat in die hele
toernooi nooit ’n speelkans gekry het nie.”
Fikile Mbalula, minister van sport, het enige
betrokkenheid by die spankeuse ontken.
Mbalula het die naweek gesê bewerings dat hy die
spankeuse beïnvloed het, word gemaak deur “wanhopige apologete van apartheid,
’n klein groepie sterwende dinosourusse”.
“Ons sal nie deur hul moedswilligheid ontmoedig
word nie.”
Mbalula het die Proteas in die loop van die
toernooi ondersteun, ook verlede Woensdag met onder meer twiets soos “Moer
Hulle !!! A.B (sic)” en “En hier kom Dale Steyn, vinniger as die Gautrein.
Steyn Remover.”
Adv. Anton Alberts, VF Plus-LP, het gesê dit is
betreurenswaardig dat ’n skitterende speler in dié onsmaaklike situasie beland
het deur die ANC-regering se “bedenklike beleid van kwotas in sport”. “Kwotas
dryf opkomende sportsterre uit die land en vernietig ander se drome en ideale.”
– Jan Gerber