Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
LM Radio terug op SA lug
Chris Turner van LM Radio met die herbekendstelling van dié radiostasie in Mosambiek. LM Radio gaan binnekort ook in Suid-Afrika op mediumgolf uitsaai. Foto: Verskaf

PRETORIA. – LM Radio gaan weer in Suid-Afrika uitsaai en selfs Afrikaanse musiek speel.

Dié Mosambiekse radiostasie het pas by die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) ’n lisensie gekry om in Gauteng op die mediumgolf-frekwensie (AM) uit te saai op 702 kHz. Latere uitsending na ander provinsies word nie uitgesluit nie.

LM Radio het van 1936 tot 1975 op kortgolf uit Maputo – tot in daardie stadium bekend as Lourenço Marques – uitgesaai.

Dié onafhanklike stasie was baie gewild onder jong Suid-Afrikaners omdat LM veral pop- en rockmusiek uitgesaai het wat nie deur die staatsbeheerde SAUK lugtyd gegee is nie.

LM Radio is ná onafhanklikwording in 1975 gesluit, maar het in 2010 weer ’n uitsaailisensie gekry. Dis die enigste Engelse radiostasie in Mosambiek. LM staan nou vir “Lifetime Music”.

Chris Turner, wat die stasie in Mosambiek laat herleef het, het gesê van die inhoud van die radiostasie sal vir Suid-Afrika aangepas word, byvoorbeeld in die geval van verkeersnuus. Die res sal egter dieselfde bly, met sterk klem op musiek en ’n “intieme” aanbieding.

Die voertaal bly Engels, maar musiek van ander tale, waaronder Afrikaans, sal ook gespeel word.

“Ons keer terug na die radioformaat van die 1970’s waar die omroeper meer direk met die luisteraar praat, eerder as die omroepers met mekaar,” het hy gesê.

Ander mediumgolf-stasies wat Okosa-lisensies gekry het, is talkSPORT 540AM in Gauteng en Magic 828 in Kaapstad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.