Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Laaste groot jagter’ Toppie Kruiper sterf in sy slaap
Dawid Kruiper. Toppie was die seun van dié ontslape en legendariese Khoi-San-leier, wat in Junie 2012 oorlede is.

/Urugab Tokar (Toppie) Kruiper, die laaste !Khomani-San-jagter en hoofspoorsnyer van die Boesmanraad op Andriesvale in die Kalahari, is Woensdagmiddag in sy slaap oorlede.

Volgens Oupa Jan Pieterse, ’n vriend van die Kruiper-familie, het Kruiper Woensdag van hoofpyne gekla en gesê hy gaan net ’n bietjie slaap.

“Hy het nog gevra dat ons net ’n ogie oor sy kleinkind hou, maar hy het nooit weer wakker geword nie,” het Pieterse gister gesê.

Sy broer, John Kruiper, het inmekaargesak toe hy die nuus gehoor het, het Pieterse Donderdag gesê.

Toppie was die seun van die ontslape en legendariese Khoi-San-leier Dawid Kruiper, wat in Junie 2012 oorlede is.

Volgens Vinkie van der Westhuizen van die Suid-Afrikaanse San-instituut was Toppie die hoof van die veldskool wat Dawid Kruiper gestig het om !Khomani-San-kinders weer van die veld en hul herkoms te leer. By dié skool het hy kinders en ook voornemende veldwagters geleer om die geheime van die natuur te leer ken en om spoor te sny.

Pieterse het Donderdag gesê Toppie was maar 43 jaar oud en dat sy dood ’n geweldige verlies vir die !Khomani-San- en die Khoi-San-gemeenskap is. “Hy was die laaste wat nog al die kennis gehad het.

“Hy was ons laaste groot jagter.”

Pieterse het gesê Toppie het in die laaste paar weke nog sy planne gedeel om ook met kleuters van die ouderdom van drie af te begin werk.

“Hy wou graag met die jongspan begin werk om vir hulle die geskiedenis, staaltjies en kultuur op so ’n jong ouderdom te leer. Toppie het gesê die jeug is moeilik, maar die klein kindertjies kan meer geleer word van kleins af. Dit was sy droom.”

In 2012 het die SAUK ’n dokumentêr oor Toppie vervaardig en sy reis na Namibië om sy eerste grootwildjagtog op die Boesman-manier vas te lê. In die dokumentêr het Toppie oor sy wel en weë en verlange na die ou manier van die Boesman-leefstyl vertel.

Toppie word deur sy vriende en familie as ’n saggeaarde mens met ’n vlymskerp sin vir humor en liefde vir die natuur beskryf.

“Ek het net verlede week nog so lekker vir een van sy grappe gelag.

“Ek is so spyt ek het nooit sy stories wat hy om die kampvuur vertel het, neergeskryf soos wat ek altyd wou doen nie,” het Van der Westhuizen Donderdag gesê.

Begrafnisreëlings is nog nie getref nie, maar volgens Pieterse sal Toppie moontlik op Saterdag 25 Julie in die begraafplaas op Witdraai by sy familie begrawe word.

 

 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.