Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Leraar in die pekel oor Facebook-foto
Hy ‘verbreek Kategismus deur met gays te meng’
Die foto van ’n werkgeselligheid wat ds. Philip Olivier van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) in Groblersdal in die moeilikheid by die kerk laat beland het. Die foto is geneem by Triarc, ’n onderneming wat versekering aan gay mense v

’n Dominee van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) is moontlik sy werk kwyt weens ’n sosiale foto van hom saam met gay mense.

Ds. Philip Olivier van die Groblersdal-gemeente het dié ­foto, wat geneem is op ’n geleentheid van ’n versekeringsmaatskappy wat spesifiek die gay- en lesbiër-mark bedien, op sy Facebook-blad geplaas.

Die kerk voer in ’n klagstaat aan sy leerstellings bepaal uitdruklik sy ampsdraers moet “wegvlug van hierdie dinge” en dat die dominee die Heidelbergse Kategismus verbreek deur met “homoseksuele mense” te meng. Die kerk verwerp homoseksualiteit as sonde.

1 Timoteus 6:11 word dan in die klagstaat aangehaal oor die “vermaning aan amps­draers”.

Dit lui: “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg en jaag na die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.”

Olivier beskuldig nou sy kerkbroers daarvan dat hulle die sondaars is en onbybels teenoor hom optree.

“Hul optrede is ’n onreg teenoor my. Hulle is liefdeloos, onmenslik, bevooroordeeld en genadeloos.”

Olivier se moeilikheid het begin toe hy die foto op sy Facebook-blad geplaas het en ook aangedui het dat hy opleiding deur die onderneming Triarc ontvang om versekeringsprodukte te verkoop.

Die kerk beskuldig hom nou daarvan dat dié inskrywing daarop dui dat hy ’n tweede beroep beoefen wat volgens die kerk “ongeoorloof” is.

Die kerk beweer ook in sy klagstaat dat Olivier hom verder voorgedoen het as ’n huweliksbevestiger terwyl hy nie by die departement van binnelandse sake geregistreer is nie.

Olivier word ook daarvan beskuldig dat hy ’n kerkleerstelling oortree omdat hy nie sy persoonlike finansies kan bestuur nie en meer skuld aangegaan het as waarvoor hy ’n inkomste ontvang.

“Dit is alles bogstories,” sê Olivier. “Ek het in finansiële moeilikheid beland toe ek vir Mieder (sy jonger broer) probeer help het om sy dwelmprobleem te oorkom.

“Ek het duisende rande se skuld aangegaan om vir sy rehabilitasie te betaal, maar hy het in Desember selfmoord gepleeg.

“Sy selfmoord was die begin van ’n baie hartseer tyd in my lewe.

“Ek het die kerkraad hieroor genader en openlik met hulle oor my finansiële posisie gepraat. Daar was nie werklik enige ondersteuning van die kerk nie,” sê Olivier.

“Ek was desperaat.”

My optrede was heeltemal wettig en die kerk het geen been om op te staan nie.

Sy suster Mariza Dique se man, André, mede-eienaar van Triarc, het toe voorgestel dat Olivier die eksamens aflê om versekeringsprodukte te kan verkoop.

Volgens hom het hy wel die eksamen afgelê, maar het dit nie deurgekom nie.

Hy het dus nooit vir Triarc gewerk nie, sê Olivier.

Hy het wel een aand ’n sosiale geleentheid saam met André by die onderneming bygewoon waar ’n foto van hom en die res van die personeel geneem is en die foto later op sy Facebookblad geplaas.

Daar is ook ’n fopdosser op die foto.

Volgens Olivier het hy wel op huwelikseremonies gepreek, maar ’n huweliksbevestiger het altyd die huwelike wettig bevestig.

“My optrede was heeltemal wettig en die kerk het geen been om op te staan nie,” sê hy.

Volgens Olivier het hy reeds om verskoning gevra indien hy die kerk se goeie naam deur sy optrede in die gedrang gebring het, maar hy sê die kerkraads­lede volhard in die poging om van hom ontslae te raak.

Ds. Willem van Schalkwyk, wat gister se tugverhoor gelei het, sê afgevaardigdes van 12 gemeentes in twee ringe het gister se verhoor bygewoon om te verseker dat dit objektief is en daar nie teen Olivier gediskrimineer word nie.

Hy wou hom nie uitlaat oor die regverdigheid van die klagtes nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.