Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Lesers herleef Westdene-busramp: Ek onthou die bloedstollende gil
Dertig jaar gelede het die Westdene-dam in Johannesburg 42 kinders se 'watergraf' geword nadat 'n bus in die dam gery het. Netwerk24-lesers herleef die dag en deel hulle gedagtes op Facebook.

'Almal dra die seer, soos 'n swart baadjie'

Vier mobiele hyskrane het die rampbus ná ses uur uit die water gehys.

Macde Swart: Ek sidder steeds as ek aan daardie dag dink. Die bloedstollende gil van my buurvrou in ons woonstelblok toe haar sopnat en verslae kind afgestrompel kom in die gang – hy leef! Die rou snikke van vaders en moeders daardie nag wie se kinders nie huistoe gekom het nie, daardie seer het ons almal aangetrek en gedra soos 'n swart baadjie, elke jaar.

Alta Spolander: Ek dink die volgende dag was die moeilikste in my lewe. Om in die klas sit terwyl die name een vir een uitgeroep word en die stilte wanneer een van ons verlore maats se naam geroep word.

Hannelie Le Roux: Ek kan die onthou . . . my sus het vertel hoe hulle op RAU se dak gestaan en kyk het hoe die reddingspoging aangaan.

​Bets van Aswegen: Kan dit nog onthou soos gister. Mede-kollega se kind was op daardie bus, en die angs wat hulle deurgemaak het, was onbeskryflik!

Stefaan de Jager: Ongeveer 21 kinders is saam in die Westdene-begraafplaas begrawe. Ek onthou nog die gesig van hierdie lykwaens wat van voor af by my verbygekom het terwyl ek uit die stad op pad was na Florida waar ek daardie tyd gewoon het.

Meisie van der Wath: Ja, ek onthou dit baie goed. Ek het op 'n sentrale gewerk en iemand se familie het daar gebly en iemand het ingeskakel en net gesê help my, my kind is dood in 'n busongeluk. Toe het ek haar gehelp met die mense waarmee sy wou praat, want sy was só geskok. Ek sal dit nooi vergeet nie.

Ek moes alleen die nuus lees, vertel Niekie van den Berg

In my uitsaailoopbaan wat oor meer as drie dekades gestrek het, was díe dag , 'n dag wat my as 't ware amper geknak het. Ek huil baie maklik. Nie soos in grens nie, die trane loop net mildelik by my oë uit, in my keel. Ek het geen beheer daaroor nie. Die dag moes ek elke kind wat dood is, die vermistes, die ouers se leed by by die hospitaal . . . álles moes ek lees. 

Hardop, in die openbaar, oor die eter van die Afrikaanse Radiodiens. Uur na uur het die lys langer geword en my trane meer geloop. Ek kon later nie my hartseer meer wegsteek nie. Die Huisgenoot het later geskryf die nuusleser was nie lekker nie. Dié dag het ek die middag gesien vroue huil in die TV-gebou by die SAUK in Johannesburg. 

Ek het nie verstaan nie, totdat ek die vieruur-nuus begin lees het . . Vyf, ses, sewe, nege, elf uur-bulletins. Ander mediamense was op die toneel. Die ontvou van die hartseer voor hulle oë, die dooies, afwagtende ouers, nooddiensmense. Daar kon jy seker huil dat almal dig sien. Ek moes alleen in S1 sit en die langerwordende lys oor en oor lees. 

Daar was nog nie selfone en sosiale media nie. Ek kan nie onthou hoeveel name daar 11 uur was nie. Toe ek later die aand terugry huistoe, was die pad oor die damwal gesluit. Ek moes 'n ompad ry na Victoriastraat in Triomf. Vandag nog verbeel ek my ek sien die bus se dak onder die water glim. Dis nie maklik om te praat as jy hartseer is nie . . . Nuuslees is 'n verskrikking.

Luister: Philip de Bruin op die ramptoneel

Philip de Bruin was een van die eerste Beeld-verslaggewers op die toneel van die Westdene-busramp. Hy onthou hoe ouers desperaat na hul kinders gesoek het en die lyke wat langs mekaar op die brug neergelê was. ​Luister na sy hartroerende vertelling van Westdene se donker dag.

​Lees nog:

■ ​​Die Westdene-busramp: 30 jaar later

■ 30 jaar ná die Westdene-busramp: ‘Dit is elke jaar moeilik’

■ Westdene-busramp: ’n Mens kan nooit weer dieselfde wees nie, sê prof. Nelus Niemandt

Koerantuitknipsels, die hospitaal en verlore 'maatjies'

Enett Kokkie de Kock: Dit was baie erg vir die maatjies ook Die volgende dag en dae daarna leë sitplekke waar jou maatjies gesit het. Ons dink aan die ouers. Ons eie kinders was in die skool daardie jaar. Van my eie skoolvriende se kinders is in die vreeslike dag skielik weggeneem. Dink aan julle almal.

Meisie Langenhoven Scholtz: Ek sal dit nooit vergeet nie want ek was daar . . . my vriendin se broer was op die bus.

Meisie van der Wath: Ja ek onthou dit baie goed. Ek het op 'n sentrale gewerk en iemand se familie het daar gebly en iemand het ingeskakel en net gesê help my, my kind is dood in 'n busongeluk toe het ek haar gehelp met die mense waarmee sy wou praat, want sy was so geskok. Ek sal dit nooi vergeet nie.

Carlo Kuyer: 30 jaar terug was ek 8 jaar oud en in standerd een toe my Juffrou Kearns koerantuitknipsels teen die muur plak van die ongeluk.

Onika Louw: Daai was een van die slegste dae in my lewe. Ek het gewerk by JG Strijdom (vandag die Helen Joseph-hospitaal). Sjoe, ek wil nooit weer so iets beleef nie.

Adele van Vuuren: My nefie Riaan Lira was 14 jaar oud. Hy is in Alberton begrawe waar sy pa gebly het. Ek sien nou nog sy papnat skoolbaadjie en tas wat my oom huis toe gebring het. Dit was vreeslik.

Nicolene White Fourie: Ek was sewe jaar oud en ek onthou dit. My ouers was net so ontsteld en ek kon nie verstaan hoekom nie. Hulle moes verduidelik. Nie lank na dit nie, moes ons Johannesburg toe en het daar verby gery. Hulle het toe vir my gewys waar dit gebeur het.

Dorothy du Toit: Ek was 12 en sal dit nooit vergeet nie. Drie van my familie is daai dag oorlede. Die begrafnis was vreeslik. Om al daai wit kissies te sien was erg. Ek het twee weke gelede weer met my man daaroor gepraat en gesê dit was vreeslik die dag van die begrafnis. Alles was so deurmekaar en so ongelooflik hartseer.

Luister: Jan de Lange praat oor lykshuis, moedelose ouers

'Mamma, ek weet nou hoekom Mamma so gehuil het'

Ek was 'n eerstejaar-verpleegstudent by JG Strijdom Hospitaal (het skaars drie maande verpleeg) toe die ramp gebeur het en ek sal daai dag nooit, ooit vergeet nie!
Judy Nortje Smith

Anna-lene Mc Carthy: Was op toneel en nooit besef my niggie Tanya Pieters was een van die slagoffers nie. My neef Pieter Koekemoer, 'n polisieman wat by die redding betrokke was, het my ingelig. Die toneel was onwerklik en hartverskeurend.

Maria Cronje: Ek was net Maandag by die begraafplaas, om blomme op my ouers se graf te sit, en ook daar gestop om na die grafte te kyk, dit is awesome dat al die kinders so bymekaar in 'n spesiale stukkie grond begrawe is, kan ook dit goed onthou, sal dit nooit vergeet nie.

Estè Freysen-Odendaal: Ek was maar net 8 jaar oud, maar ek onthou hoe my ma gehuil het voor die radio en sy het nie eers enige van die slagoffers geken nie - vandag, soos ek hier lees sit ek in trane, ek is nou self 'n mamma en kan verstaan hoekom my Ma so gehuil het vir al die ander moederharte daardie swart dag. R.I.V.

Carmen Goodrich: I was only 13 when this happened but I will NEVER forget it because I used to catch the bus to school and back home again. My heart bleeds for these parents and I pray for comfort for them and the knowledge that their loved ones are in the loving arms of God. I think the worst thing in life is to bury a child. R.I.P. dear Westdene children.

Sarie Van Niekerk: Ek was een van die joernaliste wat dae, weke lank aan die artikels geskryf het en net nou die dag het ek vir iemand gesê daar is in my baie lang loopbaan as joernalis baie hoogte en laagtepunte gebeurtenisse wat my vandag nog, lank nadat ek afgetree het, wat helder voor die oog is, so asof dit net gister gebeur het, en hier die is een van daai gebeurtenisse. Die dapperheid van maatjies wat oor en oor weer in die water geduik het om hul maatjies te probeer help en dan natuurlik die hardverskeurende smart van die ouers.

Aletta Theron: Ek was sewe jaar oud toe dit gebeur het en magies ek onthou al die hartseer van daai dag, dis 'n dag wat niemand ooit sal kan vergeet nie.

Andre Jansen Van Vuuren: Ek onthou dit soos gister. Ek het daai aand as 'n std 6-leerling soos 'n baba gehuil.

Breghie Pottas: Ek was so twee jaar gelede by hul almal se grafte in Wespark. So hartseer soos hulle almal saam in die bus was, so is hul almal langs mekaar begrawe. Ek was vier jaar oud daai tyd maar hul storie het my baie aangeraak. R.I.V Westdene-engele!

Judy Nortje Smith: Ek was 'n eerstejaar-verpleegstudent by JG Strijdom-hospitaal (het skaars drie maande verpleeg) toe die ramp gebeur het en ek sal daai dag nooit, ooit vergeet nie!

Nicky Du Plooy: Ek onthou dit of dit gister was! So hartseer! Veral as jy iemand ken wat twee niggies in daardie busramp verloor het! Kan nie glo dis al 30 jaar nie!

Rhoda Steyn: Ek het net begin werk na skool, my bestuurder het daardie dag twee van haar kleinkinders verloor in die bus. Ek sal nooit die hartseer in die kantoor daardie dag vergeet nie.

Amanda van der Westhuizen: Vandag dink ek aan die ouers van my maatjie, Vinette, wat gesterf het. Tannie Zendra en oom Piet, ek bid vir julle.

Vera Fourie: Ek onthou dit soos gister. Ek het in Hillbrow gewerk. Ons het die dag na die ramp na die dam gery. Ek self het niemand van die ramp geken nie, maar die hartseer was ondraaglik vir my.

Susan Ryall: Ek kan nog onthou hoe geskok ek na die foto gestaar het in die koerant daai dag. As ek reg kan onhou het dit gebeur op die dag wat die skole gesluit het vir vakansie!

Melinda Franklin: Hulle sou nou 51 gewees het. Ons het iemand in die busramp verloor.

Hester James: Seker een dag in my lewe wat my altyd rillings gee, my hart is nou nog seer vir al die ouers en familie van daardie jong lewens wat weggeruk was.

Kyk: 'n Oorlewende herroep die 'donker dag' by die dam

– Saamgestel deur Annami Mailovich en Daphné Grundling

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.