Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
15-jarige maande lank doodgemartel
Ma in trane toe Alex de Koker aan moord skuldig bevind word
Alex de Koker, en sy werknemer, Michael Erasmus (22), is Vrydag aan die moord van Raymond Buys (15) skuldig bevind. Hier is hy en sy vrou, Johanna Marais, oomblikke ná die uitspraak. Foto: Mary-Ann Palmer

Wilna Buys, ma van Raymond (15), het Vrydag in trane uitgebars toe streeklanddros Retha Willemse die eienaar van Echo Wild Game Rangers-opleidingskamp, Alex de Koker, en sy werknemer, Michael Erasmus (22), aan moord op haar seun skuldig bevind het.

Lees ook: ​‘Jy word geslaan tot jy soos hy is’

Willemse het Erasmus en De Koker ook skuldig bevind aan kindermishandeling en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Buys het ná die uitspraak snikkend gesê sy het gemengde gevoelens en is gebroke en verlig dat albei mans aan moord skuldig bevind is.

Raymond is aan die begin van Januarie 2011 maande lank stelselmatig doodgemartel terwyl hy sogenaamde opleiding as veldwagter ontvang het.

De Koker het emosieloos na die uitspraak geluister, terwyl Erasmus net sy kop geskud het.

Buys het tussen die trane deur gesê die afgelope vier jaar was vir haar “loutere hel”.

“Ek het sielkundige berading ontvang, ek het selfmoord probeer pleeg, byna ’n alkoholis geword en my familie van my weggestoot,” het sy gesê.

Buys het gesê haar vriend, Gys Nezar, het haar deur hierdie tyd gedra.

Betsie Erasmus, Michael se stiefma, het gesê sy is diep geskok dat haar seun ook aan moord skuldig bevind is. “Die kind kan nie tronk toe gaan nie. Hy het nou ’n babadogtertjie wat net 5 dae oud is. Michael het opdragte uitgevoer wat De Koker aan hom gegee het.”

Willemse het in haar uitspraak die gebeure by die opleidingskamp as “tragies” bestempel. Van die dokters wat die lykskouing gedoen het, het in verslae geskryf dit was die ergste vorm van kindermishandeling waarmee hulle nog te doen gehad het, het Willemse in haar uitspraak gesê.

Sy het De Koker as “ ’n leuenaar en patetiese getuie” beskryf.

Sy het voorts gesê Erasmus was ’n gewillige deelnemer aan die reeks aanrandings op Raymond, wat in Maart 2011 tot sy dood gelei het.

Tania Otto, bestuurder van die nie-regeringsorganisasie, Women and Men against Child Abuse, het die uitspraak as “uitstekend” beskryf.

Sy het gesê sy was verbaas dat albei mans aan moord skuldig bevind is.

Kort ná die uitspraak het De Koker, wie se lang hare kort afgesny is, sy vrou, hard en innig gedruk.

De Koker en Erasmus sal op 16 en 17 April gevonnis word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.