Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Man had ‘nie beheer’ toe hy Poena en sy pa skiet
Retief Liebenberg

Toe Retief Liebenberg sy dogter se kêrel en dié se pa doodgeskiet het, was hy in ’n toestand van dissosiasie.

Dit blyk uit prof. Jonathan Scholtz, ’n kliniese sielkundige van die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria en wat ’n private sielkundepraktyk bedryf, se verslag oor Liebenberg.

Sholtz het voormiddag vir die verdediging begin getuig in Liebenberg se verhoor in die Noord-Gautengse hooggeregshof.

Liebenberg, wat ’n onderneming het wat bykomstighede aan voertuie aanbring, staan in dié hof op twee moordklagte tereg.

Hy word daarvan aangekla dat hy Poena Visser (19) en dié se pa, Dewald Visser (47), opsetlik en onregmatig by sy huis op die Ebotse-landgoed in Benoni doodgeskiet het. Die skietery was op 31 Oktober 2013.

Poena se lyk is met vier skietwonde in Liebenberg se kombuis gekry en Visser sr. se lyk met vyf skietwonde by trappe in die huis naby die voordeur.

Scholtz sê in sy verslag ná “ekstreme provokasie” en nadat Liebenberg deur albei Vissers aangerand is, het hy uiterste vrees ervaar wat sy dade geaktiveer het.

“Hy het uit selfverdediging opgetree, in teenstelling met sy persoonlikheid en sy waardes in ’n desperate poging om sy dogter veilig te hou en homself te beskerm.”

Volgens Scholtz was Liebenberg tydens die skietery in ’n toestand van dissosiasie, en hy het op ’n onwillekeurige manier opgetree sonder bewustheid van of beheer oor sy optrede.

“Hy was nie in staat om te onderskei tussen reg en verkeerd nie en/of om op te tree volgens so ’n besef in die tyd wat hy die skote afgevuur het nie.”

Scholtz het getuig Liebenberg kom uit ’n gelukkige gesin en is die jongste van vyf kinders. Volgens Liebenberg se familie het hy nie gedragsprobleme op skool gehad nie en is hy ’n deeglike sakeman en goeie pa.

Die saak duur voort.

- Poena en Liebenberg se dogter, Chevonne (nou 22), was destyds in ’n verhouding waarteen haar ouers gekant was. Hulle was sowat vier maande in ’n verhouding.

Luidens getuienis het Poena en Chevonne dié dag in haar ouerhuis gestry en haar pa het Poena gevra om die huis te verlaat.

Poena se pa het opgedaag en die Visser-mans het Liebenberg geslaan, is getuig. Liebenberg het toe geskiet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.