Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Mathys rits rond in nuwe rolstoel
Mathys Roets wys hoe maklik dit is om die Segfree-rolstoel te ry. Foto: verskaf

Rolstoelryers kan ook onafhanklik wees, vet pret hê en hope avontuur beleef.

Só wys Mathys Roets deur voluit te leef.

Dit is vanjaar vyf jaar sedert sy motorfiets­ongeluk naby Dewetsdorp hom in die onderlyf verlam gelaat het. Sedertdien het hy egter al geski, gholf gespeel en kilometers se wedlope afgelê X en nou wys hy ook hoe baie sports ’n mens in ’n rolstoel kan hê.

Hy is nou op ’n musiek-toer in die Vrystaat en gaan vandag ook van sy besoek in Bloemfontein gebruik maak om vir gestremde studente aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) twee superrolstoele op die Kovsie-kampus te wys. ’n Paar studente sal ook die geleentheid kry om die stoele self te toets.

“Die stoele is ontwikkel om vir ouens in rolstoele net meer opsies te gee vir avontuur, pret en beweeglikheid,” sê hy.

Sy sakevennoot, Mario Stoltz, het met die konsep vir ’n Segfree-stoel vorendag gekom nadat Mario se vrou, Tharina, ná ’n motorongeluk in 2012 in ’n rolstoel is.

Die Stoltz-egpaar, wat drie dogtertjies het, was altyd gek na avontuur en wou voortgaan met die lewe wat hulle altyd gehad het.

Vandaar die rystoel wat 22 km/h kan ry en vir die ryer hope vryheid gee om gemaklik en vry rond te beweeg. ’n Mens gebruik jou eie gewig om die rolstoel vorentoe en agtertoe te laat ry. Jy beur bloot met jou lyf vorentoe of agtertoe en die stoel ry in die betrokke rigting sonder dat jy jou hande hoef te gebruik om dit te laat beweeg.

Die Scootfree is soos ’n klein motorfietsie wat ontwerp is om aan enige gewone rolstoel gehaak te word en waarmee die ryer dan lekker vinnig kan rondrits. Dit kan tot 30 km/h ry.

“Op rolstoel-skoue sien ’n mens dikwels net goed soos handdoekrelings vir gestremdes en niks opwindends nie,” sê Roets. Hy hoop die stoele, wat enig in hul soort in die land is, sal nou daardie opwinding bring.

 Hy is ook vanaand om 19:30 vir ’n vertoning in Inni Skuur in Bloemfontein te sien.

Mathys Roets wys hoe maklik dit is om die Scootfree-rolstoel te ry. Foto: verskaf

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.