SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
Matie-rektor: ‘Vorentoe, Stellenbosch!’
Prof. Wim de Villiers, die nuwe Matie-rektor, het vandeesweek sy visie vir dié universiteit uitgestippel. Hier volg ’n verkorte weergawe van sy toespraak.

Maties moet vorentoe!

Ek is ’n trotse alumnus van die Universiteit Stellenbosch. Ek weet egter ook goed dat die Stellenbosch van vandag nie die Stellenbosch van gister is nie, en ook nie van môre nie. Dit is hoe dit hoort.

Die lewe is dinamies; niks bly dieselfde nie. Dit beteken ons het altyd die opwindende geleentheid om onsself te verander, te transformeer. Dít is waarop ons moet fokus – om vorentoe te gaan.

Baie van die harde werk om ons tot hier te bring, is verrig deur my voorganger, wyle prof. Russel Botman. Ek bring graag hulde aan hom. Hy het Stellenbosch op ’n pad van verandering gelei, ’n reis van hoop. En vandag pluk ons die vrugte daarvan.

Stellenbosch is een van die beste universiteite in die land. En op die gesaghebbende Times Higher Education-ranglys tel ons onder die top-300 universiteite ter wêreld, en onder die top-20 in Brics-lande. In die QS World University Rankings by Subject is Stellenbosch “nou onder die wêreld se elite-instellings in tien vakke”, waaronder biologiese wetenskappe, chemie en wiskunde. In landbou en bosbou is ons nommer een in die land. Alle eer aan ons personeel en studente vir dié prestasie.

Dit beteken egter nie dat daar geen ruimte vir verbetering is nie.

Daar is wel kommer gelug oor transformasie, inklusiwiteit en diversiteit, en ook ons institusionele kultuur en simbole op die kampus. Daar is ook kommentaar oor ons taal­beleid, wat deur sommige mense as uitsluitend ervaar mag word.

Dui hierdie kommentaar bloot op die normale kwale en skete van ’n universiteit in sy laat 90’s? Of dui dit op ’n onderliggende toestand wat ons welstand as instelling bedreig? Kom ons ondersoek dit verder.

Die noodsaaklikheid vir transformasie is al geruime tyd deel van die Suid-Afrikaanse landskap – ook in hoër onderwys. Dit lyk vir my of daar op twee maniere oor transformasie gedink kan word. Aan die een kant hou dit verband met die nodigheid vir verandering in die lig van Suid-Afrika se geskiedenis van rassediskriminasie en uitsluiting. Aan die ander kant is transformasie in onderrig en navorsing ’n imperatief om die toekoms wat ons wil hê, te bou – vir onsself, vir ons universiteit, vir ons land en vir ons kontinent.

Ek fokus dan nou eerstens op die regstelling van die foute van die verlede. In hierdie verband het die US in die jaar 2000 ’n belangrike stap geneem toe hy formeel sy “bydrae tot die ongeregtighede van die verlede” erken het. Hiermee het die universiteit verskoning gevra vir apartheid, wat ek graag wil herhaal.

Die universiteit het egter nie daar gestop nie, maar ook ’n verbintenis verklaar tot “regstellings- en ontwikkelingsinisiatiewe” – spesifiek om toegang tot die universiteit te verbreed vir diegene wat in die verlede uitgesluit is bloot op grond van velkleur.

In 1990, die jaar waarin Nelson Mandela vrygelaat is, het Stellenbosch slegs 762 swart, bruin en In­diër-studente gehad. Vandag het ons meer as 11 200, of bykans 38% van ons studentekorps. En ons gaan nog verder vorder die volgende paar jaar. Ek glo ons kan dit doen.

As ons kyk na ons personeel­diversiteit, is 43% van ons werk­nemers swart, bruin of Indiër – alhoewel hierdie syfer na 20% daal ten opsigte van akademiese personeel. Daar is dus inderdaad baie ruimte vir verbetering. Dít is ook die geval ten opsigte van die verteenwoordiging van vroue, veral op senior akademiese en bestuursvlakke. Aan albei fronte – ras en geslag – werk ons egter hard daaraan om groter gelykheid te bereik, en ek glo ons kan dit doen.

Daar is die redenasie dat ons nie voorsien in die behoeftes van studente wat nie Afrikaans magtig is nie. Die teendeel word ook aangevoer.

Ons moet eerstens besef onderrigtaal is ’n komplekse kwessie wat versigtige oorweging en deeglike be­spreking vereis. Kom ons neem dan as ons uitgangspunt die US se nuwe taalbeleid, wat in November verlede jaar deur die Raad aanvaar is – ’n beleid wat meertaligheid voorstaan. Hiervolgens is die US verbind tot Afrikaans as akademiese taal, maar gebruik ons ook Engels om alle Suid-Afrikaners toegang te gee, en bevorder ons Xhosa waar doenlik.

Stellenbosch is nie ’n Afrikaanse universiteit nie; Stellenbosch is nie ’n Engelse universiteit nie; Stellenbosch is nie ’n Xhosa-universiteit nie; Stellenbosch is ’n wêreldklas- meertalige Suid-Afrikaanse universiteit – een van min in hierdie kategorie, wat bitter nodig is in ’n land met 11 amptelike tale.

Dís hoe ons probeer verseker dat taal nie ’n versperring is nie, maar ’n hulpmiddel vir sukses – veral in diverse opvoedkundige konteks.

Die kwessie van Suid-Afrikaanse universiteite se institusionele kultuur en die pas van transformasie geniet tans baie aandag, en Stellenbosch is noodwendig deel van hierdie debat. Nóú is die tyd om die denk­leierskap wat ons nastreef, te beoefen. Ons kan van die huidige debat ’n positiewe groeigeleentheid maak. Hoe? Deur indringend te kyk na ons vordering – in sowel hierdie jong demokrasie van ons wat eergister mondig geword het, as hier by Maties, waar ons oor drie jaar eeufees vier.

Ons moet praat oor waar ons staan en waarheen ons op pad is. Daarvoor het ons ’n konstruktiewe gesindheid nodig. Dit moet ’n “gesprek sonder grense” wees, soos Johan Degenaar, dit noem. Of ’n “oop gesprek”, wat deur N.P. van Wyk Louw gedefinieer is as “gesprekke waarin jy oor alles kan praat; waar geen standpunt te ‘gewaagd’ is nie, en wat nooit in belediging, twis of woede ontaard nie”.

Die “oop gesprek” is enersyds “die vrye uitspreek van eie mening” en andersyds “die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ’n wisselwerking ontstaan”. As jy hierdie wisselwerking tussen “sê” en “luister” het, kry jy ’n sterk “sirkulasie van gedagtes”. Dít is wat benodig word in die transformasiedebat – gesprekvoering sonder grense, ’n oop debat waarin idees vrylik kan sirkuleer en waardeur ons by weder­kerige begrip kan uitkom.

Dit bring my by die tweede manier om oor transformasie te dink – as noodsaaklikheid vir die skep van die toekoms wat ons wil hê. Dit geld in ál drie ons kernaktiwiteite – leer en onderrig, navorsing en gemeenskaps­interaksie.

Om te leer – en om te onderrig – is om te transformeer. Dit verander ­lewens. Ek het self die mag van onderwys ervaar, en het al herhaaldelik gesien hoe ’n passie vir kennis en uitnemendheid ons meesleur.

Ek deel graag met u ’n storie wat hierdie idee goed illustreer. Dit gaan oor een van ons studente, Claudia Ntsapi, en ek vind haar verhaal baie inspirerend. Sy het pas begin met haar PhD in fisiologie, nadat sy in Maart vanjaar haar MSc-graad hier verwerf het.

Claudia het in Eldoradopark, Johannesburg, grootgeword, waar sy aan die Sekondêre Skool Kliptown gematrikuleer het. Sy wou graag universiteit toe gaan om chemiese ingenieurswese te studeer, maar moes eers haar punte verbeter.

Baie leerders in ons land ervaar hierdie probleem. Hulle beskik oor die nodige talent en motivering, maar ervaar struikelblokke weens agterstande in ons skoolstelsel.

Toe hoor Claudia van ’n oorbruggingsprogram genaamd SciMathUS, wat staan vir Science and Mathematics at the University of Stellenbosch [wetenskap en wiskunde aan die US]. Sy het ingeskryf en vinnig besef sy wil eintlik BSc studeer. Sy sê: “SciMathUS het my kans gegee om my ware passie te ontdek, eerder as om ander mense se raad te volg.”

Sedert 2002 het meer as 1 100 studente die SciMathUS-program voltooi, en baie van hulle het daarna universiteitsgrade in geneeskunde, ingenieurswese, wetenskap en die ekonomiese en bestuurswetenskappe verwerf. Dit is 1 100 jong Suid-Afrikaners wat deur opvoeding omvorm is, en van hulle af kring ’n uitwerking reg deur die samelewing uit.

Benewens ’n plek van leer en onderrig, is ’n universiteit ’n plek van navorsing – en dít is ook ’n aktiwiteit wat transformeer, wat omvorm, wat die mag het om die wêreld te verander, ook hoe mense dink.

Die samelewing kyk toenemend na universiteite vir oplossings vir sowel plaaslike probleme as wêreldwye krisisse. Die US as navorsingsintensiewe instelling kan hiermee help. Ons uitdaging is om plaaslik relevant te wees en terselfdertyd globaal mededingend. Ons moet fokus op unieke areas waarin ons bepaalde kundigheid het, en ons moet samewerkingsnetwerke in Suid-Afrika, die res van ons vasteland en wêreldwyd bou.

Die US streef nog altyd na diensbaarheid en gemeenskapsbetrokkenheid. Eers was “gemeenskap” eng gedefinieer, maar mettertyd het ’n evolusie gekom – van die US as “volksuniversiteit” na “nasionale bate” wat nie net sommiges dien nie, maar die hele gemeenskap.

Verlede jaar het die US R588 miljoen in beurse en lenings aan 37% van ons studente uitbetaal. Hiervan het 55% aan swart, bruin en Indiër-studente gegaan, gebaseer op meriete en finansiële behoeftigheid. Aangesien groter diversiteit vir ons ’n prioriteit is, wil ons selfs meer werwingsbeurse toeken. Dit is ’n gulde geleentheid vir bemagtiging.

Ek reik graag uit na lede van die gemeenskap oral. Kom ons beweeg almal saam vorentoe. Dit sal die belangrikste strewe van my tyd as rektor en visekanselier wees: Vorentoe, Stellenbosch! Forward! Siyaya!

Prof. Wim de Villiers lewer sy inhuldigingsrede.Foto: Edrea du Toit
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.