Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
2019 se matrieks stof voorgangers uit
angie
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die matriekuitslae Dinsdagaand vroeg in Midrand bekend gemaak.

Die nasionale matriekslaagsyfer vir 2019 is 81,3% – drie persentielpunte hoër as 2018 se slaagsyfer van 78,2%.

Dis die goeie nuus wat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Dinsdag in Midrand gegee het.

“Ek is gereed om uit te tree. Sê vir die president. Ek kan nie vir meer vra nie,” het ’n oorstelpte Motshekga geskerts.

Pres. Cyril Ramaphosa het sy tevredenheid met die nasionale slaagsyfer in 'n verklaring uitgespreek.

Dié slaagsyfer is die hoogste sedert 1994 en die eerste keer dat die gekombineerde slaagsyfer die 80%-kerf oorskry.

"Die uitslae is 'n triomf en 'n duidelike teken dat die regering se groot belegging in onderwys en in bystand vir leerlinge en onderwysers asook onderwys-infrastruktuur, resultate lewer," het Ramaphosa gesê. 

Die syfer sluit die leerlinge in wat voorheen gedruip het en nogtans na die volgende graad deurgesit is.

Die uitslae is 'n triomf en 'n duidelike teken dat die regering se groot belegging in onderwys en in bystand vir leerlinge en onderwysers asook onderwys-infrastruktuur, resultate lewer
Pres. Cyril Ramaphosa

Die Vrystaat het met die hoogste slaagsyfer in die land van 88,4% stof in al die ander provinsies se oë geskop. Dis ’n verbetering op sy vorige slaagsyfer van 87,5%. Gauteng is kort op sy hakke met 87,2%, gevolg deur Noordwes (86,8%). Die Wes-Kaap is vierde met ’n slaagsyfer van 82,3%.

“Ons moet die Oos-Kaap gelukwens, wat die grootste vordering getoon het,” het Motshekga gesê. Die Oos-Kaap se slaagsyfer het sedert verlede jaar met byna ses persentielpunte gestyg.

Panyaza Lesufi, die LUR van onderwys in Gauteng, het van oor tot oor geglimlag toe hy hoor sy provinsie sluit ses van die tien streke met die hoogste slaagsyfer in die land in. Gauteng, as ’n provinsie, is met ’n slaagsyfer van 87,2% kort op die Vrystaat se hakke.

Al die toppresteerders van die kwintiel-vyf-skole kom uit die Wes-Kaap.

Die getal leerlinge wat in aanmerking vir voorgraadse studie kom, het van 172 043 tot 186 058 toegeneem. Gauteng het die meeste voorgraadse studente met 43% van sy matrikulante wat vrystelling gekry het. Limpopo het met 23,5% die laagste syfer vir voorgraadse studie behaal.

Die getal leerlinge wat vir ’n naskoolse diploma in aanmerking kom, is 144 672, wat 2 972 meer as die vorige jaar is. In 2018 het 141 700 leerlinge hiervoor in aanmerking gekom.

In 2019 het altesame 156 884 matriekkandidate onderskeidings behaal, wat minder as die 157 880 in 2018 is.

Die provinsies wat die meeste onderskeidings opgelewer het, is KwaZulu-Natal (41 901), Gauteng (37 422) en die Wes-Kaap (24 704).

* Makgabo Reginah Mhaule, adjunkminister van die departement van basiese onderwys, het gesê die matriekuitslae sal van 00:00 bekend wees op die departement se webtuiste. In die geval van iets soos beurktrag, sal die uitslae teen 06:00 Woensdagoggend beskikbaar wees. Die Wes-Kaap se uitslae sal vanaf 12:00 bekend wees.

Vinnige feite

* 617 429 voltydse leerlinge en 170 954 deeltydse leerlinge het die nasionale seniorsertifikaat afgelê. Dit is ’n totaal van 788 383 matrikulante wat verlede jaar hierdie eksamen afgelê het.

* Die eksamen is in 6 872 eksamensentrums afgelê.

* 41 000 merkers het verlede jaar se vraestelle gemerk.

* 8 miljoen vraestelle is gedruk en 7,6 miljoen is geskryf.

* Volgens Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene en gevorderde onderwys en opleiding, is die eksamen nie onder verdenking nie. Geen vraestelle het uitgelek nie.

* 67 vakke is geskryf.

Die top-tien-streke in die land:

1. Tshwane-Suid in Gauteng: 93,3%

2. Gauteng-Noord in Gauteng: 90,7%

3. Tshwane-Noord in Gauteng: 90,6%

4. Fezile Dabi in die Vrystaat: 90,3%

5. Namakwa in die Noord-Kaap: 89,9%

6. Bojanala Platinum-streek in Noordwes: 89,6%

7. Sedibeng-Oos in Gauteng: 89,6%

8. Gariep in die Vrystaat: 88,9%

9. Ekurhuleni-Noord in Gauteng: 88,8%

10. Johannesburg-Wes in Gauteng: 88,7%

Provinsies

1. Vrystaat: 88,4%

2. Gauteng: 87,2%

3. Noordwes: 86,8%

4. Wes-Kaap: 82,3%

5. KwaZulu-Natal: 81,3%

6. Mpumalanga: 80,3%

7. Noord-Kaap: 76,5%

8. Oos-Kaap: 76,5%

9. Limpopo: 72,2%

Meer oor:  Matriekuitslae  |  Angie Motshekga  |  Matrieks 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.