Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
2020-matrieks sou beste groep nóg kon wees

Was dit nie vir die uitdagings weens die koronaviruspandemie nie, glo die onderwysdepartement die matriekklas van 2020 sou die beste nóg sedert die aanvang van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen gevaar het.

Die matriekklas van 2020 se slaagsyfer, wat leerlinge insluit wat bevorder is, is 76,2%. Dit is ’n daling van 5,1 persentasiepunte. Die matriekgroep van 2019 se slaagsyfer was met 81,3% vir die eerste keer bokant die 80%-kerf.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Dinsdag die nasionale en provinsiale slaagsyfers bekend gemaak.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, op Maandag se bekendmaking van die matriekslaagsyfer vir 2020. Foto: GCIS

“Dis jammer dat ons nie die 80%-plafon, wat ons verlede jaar bereik het, kon haal nie. Maar ons waardeer die veerkragtigheid wat ons skoolgemeenskap getoon het teen so ’n verpletterende pandemie om ’n aanneemlike slaagsyfer te bereik,” sê sy.

“Ons is trots op die 2020-groep wat deursettingsvermoë gewys het in die uitdagings waaraan ons onderwysstelsel nog nooit blootgestel was nie.”

Meer as ’n miljoen leerlinge het die NSS-eksamen verlede jaar afgelê, wat dit die grootste groep nóg maak. Dit sluit voltydse en deeltydse kandidate in, asook leerlinge wat in Mei/Junie 2020 die gewysigde senior sertifikaat-eksamen sou skryf.

’n Rekordgetal van 440 702 leerlinge het geslaag. Die getal leerlinge met universiteitsvrystelling is 210 820 en die getal leerlinge wat vir ’n nagraadse diploma in aanmerking kom, is 150 600.

Volgens Motshekga het die onderwysstelsel stabiliteit begin bereik en dui die aantal leerlinge wat universiteitsvrystelling gekry het op die gehalte van die slaagsyfer.

Sowat 65 500 van die kandidate wat die eksamen afgelê het, was leerlinge wat na matriek bevorder is, waarvan 24 244 geslaag het. Sonder die leerlinge wat bevorder is, is die 2020-slaagsyfer 81,2% – ’n daling van 1,1 persentasiepunte vergeleke 2019.

Meer seuns as meisies het die eksamen afgelê en geslaag, maar meer meisies het universiteitsvrystelling gekry en onderskeidings behaal.

Die matriekklas van 2020 het ’n totaal van 177 435 onderskeidings behaal, met KwaZulu-Natal, Gauteng, die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en Limpopo wat die meeste onderskeidings opgelewer het.

Provinsiale uitslae

Met ’n slaagsyfer van 85,1% het die Vrystaat, soos in 2019, die beste gevaar. Gauteng is met 83,8% kort op sy hakke, gevolg deur die Wes-Kaap met 79,9%.

Die res van die provinsies se slaagsyfers is as volg:

- KwaZulu-Natal: 77,6%

- Noordwes: 76,2%

- Mpumalanga: 73,7%

- Limpopo: 68,2%

- Oos-Kaap: 68,1%

- Noord-Kaap: 66%

Distriksuitslae

Die tien distrikte met die hoogste slaagsyfers in die land is as volg:

- Tshwane-Suid (Gauteng): 89,6%

- Johannesburg-Wes (Gauteng): 88,1%

- Gauteng-Noord (Gauteng): 87%

- Johannesburg-Noord (Gauteng): 86,9%

- Sedibeng-Oos (Gauteng): 86,8%

- Fezile Dabi (Vrystaat): 86,5%

- Thabo Mofutsanyana (Vrystaat): 85,8%

- Metro-Noord (Wes-Kaap) en Ekurhuleni-Suid (Gauteng): 85,4%

- Motheo (Vrystaat): 85,2%

Motshekga sê dit is indrukwekkend dat al dié distrikte ’n slaagsyfer van hoër as 85% het.

Sy het beklemtoon dat Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, het bevind dat, ondanks kommer oor twee vraestelle wat uitgelek is, was daar geen sistemiese onreëlmatighede wat die algehele eksamen se geloofwaardigheid in gedrang bring nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.