Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
2020 se topmatrieks vereer

Sy is trots op wat die klas van 2020 vermag het ten spyte van die koronaviruspandemie.

So het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Maandag gesê tydens die bekendmaking van die land se matriekslaagsyfer en 2020 se topmatrikulante.

Sommige van die toppresteerders was teenwoordig op die funksie wat vir hulle gehou is, terwyl ander die verrigtinge van agter hul rekenaarskerms dopgehou het weens inperkingsregulasies.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, op Maandag se bekendmaking van die matriekslaagsyfer vir 2020. Foto: GCIS

Motshekga het die nasionale slaagpersentasie van 76,2% onder groot toejuiging aangekondig. Dit is egter 5,1 persentasiepunt laer as 2019 se slaagpersentasie van 81,3%. “Ek is steeds tevrede. Ek het ’n bloedbad verwag weens die pandemie,” het Motshkega gesê.

Reynhardt Buys (18) van die Hoërskool Pearson in die Oos-Kaap was die land se toppresteerder. Hy was ook die topmatrikulant vir kwintiel 5-skole, en ook die derde beste matrikulant in wiskunde.

“Hierdie is enige akademikus se droom. Ek het altyd gehoop vir ’n topposisie in die provinsie, maar nie gedink ek sal nasionaal meeding nie,” het Buys aan Cara-Lee Dorfling gesê.

Reynhardt Buys van die Pearson High School in die Oos-Kaap is die land se topmatrikulant vir 2020.

Hy sê hy het homself “reggeruk” en veral op hoërskool ekstra tyd agter die boeke deurgebring. “Die onderwysers het my ook natuurlik baie gehelp. Hulle was altyd gereed om vrae te beantwoord en te help. Ook ons vriende het mekaar ondersteun, hoewel ons geen verwagtinge vir enige prestasies gehad het ná die jaar wat 2020 was nie.”

Hy sal vanjaar aktuariële wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) in die Wes-Kaap studeer.

Openbare skole word ingedeel van kwintiel 1 – die armer skole met min hulpbronne – tot kwintiel 5 – die meer gegoede skole met die meeste hulpbronne.

Daniel Emmis (21) van die Transoranje-skool vir dowes in Gauteng is die toppresteerder in die kategorie vir gehoorgestremdes. Saam met hom is Panyaza Lesufi (links), Gautengse LUR vir onderwys, en Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.
grafika
grafika
grafika
grafika
grafika
grafika

Daniel Gouws (19), wat aan die Hoërskool Hermanus in die Wes-Kaap gematrikuleer het, was die land se topleerling in wiskunde. “Dit is ’n ongelooflike gevoel en ek is baie opgewonde en dankbaar daaroor,” het Gouws aan Netwerk24 gesê. Hy gaan vanjaar elektriese ingenieurswese aan die US studeer.

Verran Naidoo (18) van die Rondebosch Boys High School, ook in die Wes-Kaap, was die tweede beste leerling in wiskunde.

Willem Kurpershoek (18), wat aan die Hoërskool Middelburg in Mpumalanga gematrikuleer het, sê “dit voel ongelooflik” om deel van die land se toppresteerders te wees.

Hy is as die tweede beste leerling in kwintiel 4-skole aangewys en hy gaan vanjaar medies studeer aan die Universiteit van Pretoria.

“Ek het nie gedink ek sal een van die toppresteerders wees nie, maar ek het daarvoor gehoop. Ek het net my bes gedoen en my harde werk het nou vrugte gedra,” sê Kurpershoek.

Karla Reinecke (18) van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, Gauteng, is die land se topmatrikulant in fisiese wetenskappe. Saam met haar is Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys. Foto: GCIS

Sy sussie, Greta, was 2019 ook een van die land se topmatrikulante. Sy is was ook Mpumalanga se toppresteerder.

Die kwintiel 4-kategorie se topmatrikulant was Dipika Somaroo (18) van die Effingham High School in KwaZulu-Natal, met Jana Geyser van die Hoërskool Rustenburg wat die derde beste leerling in kwintiel 4-skole was.

As deel van departement se beleid van inklusiwiteit is leerlinge met spesiale behoeftes ook vereer.

Willem Kurpershoek, wat aan die Hoërskool Middelburg in Mpumalanga gematrikuleer het, was die tweede beste presteerder in kwintiel 4-skole.

Daniel Emmis (21) van die Transoranje-skool vir dowes in Gauteng was die toppresteerder in die kategorie vir gehoorgestremdes. Sinoyolo Ngubane (18) van die Kwathintwa School for the deaf in KwaZulu-Natal was tweede in dié kategorie en Khadeejah Hansrod (20) van die Fulton School for the deaf derde.

Die land se topmatrikulante is ook vereer met ’n skootrekenaar van MTN. “Die afgelope jaar het ons matrikulante getoets. As erkenning vir hul harde werk sal MTN ’n skootrekenaar vir die land se top-33 leerlinge skenk, asook vir die top 15-leerlinge in elke provinsie. Die top-15 leerlinge op nasionale vlak in Inligtingstegnologie en Rekenaartoepassingstegnologie, asook leerlinge met spesiale behoeftes, sal ook skootrekenaars ontvang.

“Ons wens die klas van 2020 hartlik geluk met hul prestasies ten spyte van die jaar se uitdaging,” sê Kusile Mtunzi-Hairwadzi, hoofbestuurder van die MTN SA-stigting in ’n verklaring.

• Karla Reinecke (18) van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, Gauteng, is die land se topleerling in fisiese wetenskappe.

• In kwintiel 3 het Lerato Tuba van die Tsogo Secondary School in Brits in Noordwes met die louere weggestap.

• Die toppresteerder in kwintiel 2 is Tapiwa Maobvera van die Micha Kgasi High School in die Bojanala-omgewing in Noordwes.

• Die toppresteerder in kwintiel 1 is Blessing Mlambo van die I.R Lesolang Secondary School in Mabopane in Gauteng.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Matriek 2020  |  Matriekuitslae  |  Matriekeksamen  |  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.