
Annika Streicher Foto: Verskaf

Bianca Lombaard Foto: Verskaf

Stantin le Roux Foto: Verskaf
Leerlinge van die Hoërskool Langenhoven in Riversdal meen die tweede vraestel vir besigheidstudies was beslis makliker as die eerste vraestel.
Die vraestel het uit drie afdelings bestaan. Afdeling A het kortvrae oor besigheidsrolle en -geleenthede gehad, terwyl afdeling B gegaan het oor besigheidsrolle, -geleenthede en ’n diverse vraag ingesluit het, waar die leerlinge twee uit die drie vrae moes kies. Afdeling C het oor twee verskillende vrae van elke onderwerp gehandel het. Leerlinge moes een uit dié afdeling kies.
Annika Streicher sê die vraestel was billik en die tyd was perfek.
“Vraestel 2 was beslis beter as vraestel 1. Ek het beter as in vraestel 1 geskryf. Dit was ’n billike toets. Ek het lekker geskryf.”
Annika sê daar was ’n paar vrae wat baie dinkwerk van haar geverg het.
“Besigheidstudies is maar baie skryfwerk en baie punte, so jy moet mooi dink om alles te onthou.”
Sy sê sy het baie hard geleer vir dié vraestel.
“Dis belangrik in besigheidstudies dat jy fokus. Jou konsentrasie moet tot die einde 100% bly.”
Annika gaan Vrydag die eerste vraestel vir lewenswetenskappe skryf.
Bianca Lombaard sê sommige vrae in die vraestel was uitdagend, maar oor die algemeen was die vraestel billik.
“Ek het beter geskryf aan vraestel 2, alhoewel beide vraestelle uitdagende dele gehad het. Ek glo ek was voorbereid genoeg om te sê dat ek heel billik geskryf het.”
Bianca sê sy het genoeg tyd gehad om klaar te skryf en ook weer deur haar antwoorde te gaan.
“Ek moes by sommige vrae twee keer dink voordat ek dit kon beantwoord. Dié vrae het oor die veiligheid en diversiteit in die werkplek gehandel.”
Bianca sê ter voorbereiding vir die vraestel het sy baie hard geleer en ook haar bes gedoen.
Bianca skryf Woensdag rekenaartoepassingstegnologie.
Stantin le Roux van die Hoërskool Tygerberg stem nie saam met die res van die matrieks nie en sê vraestel 2 was vir hom moeiliker as vraestel 1.
Stantin sê hy het egter wel lekker geskryf.
“Dis altyd aangenaam om besigheidstudies te skryf. Ek het ook oorgenoeg tyd gehad om klaar te skryf. Daar was nog ’n half uur oor toe ek klaar was.”
Hy sê hoewel hy lekker geskryf het, was daar tog vrae waaroor hy regtig hard moes dink.
“Ek het by die langvraag oor menseregte en inklusiwiteit in die besigheid ’n bietjie vasgehaak. Dit was nooit ’n langvraagopsie vir my nie, maar ek kon dit darem deeglik beantwoord.”
Stantin sê hy leer hard vir al sy vakke maar doen ekstra moeite wanneer dit by besigheidstudies kom. Dit is sy gunsteling-vak.
Hy skryf Vrydag die eerste vraestel vir lewenswetenskappe.