Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
6 kwessies oor die matriek-uitslae

470 000 leerlinge het net ‘weggeraak’. Dit is tyd dat daar in die beste belang van skoolgangers opgetree word, berig Landi Slatter.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, spog met die hoogste matriekslaagsyfer sedert 1994. Foto: Felix Dlangamandla

Kenners meen die matriekslaagsyfer is goed en wel, maar nie regtig iets om oor opgewonde te raak nie.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, was Dinsdagaand verheug omdat 81,3% van 2019 se matrieks deurgekom het, teenoor 78,2% in 2018.

Maar onderwyskenners het aan Rapport gesê die uitslag moet om verskeie redes krities bekyk word:

* Waar is dié 470 000 gr. 1’s van 12 jaar gelede?

Volgens die departement van basiese onderwys se jaarlikse School Realities-verslag was daar in 2008 1 090 254 gr. 1’s in openbare skole. Uiteindelik het net 616 754 heeltydse kandidate verlede jaar matriek geskryf. 409 906 van hulle het geslaag.

Dit beteken meer as 470 000 leerlinge het “weggeraak”.

Kenners: Die ware slaagsyfer is eintlik 42%.

Dr. Nic Spaull, ’n onderwyskundige aan die Universiteit Stellenbosch, sê as ’n mens in ag neem hoeveel leerlinge in 2009 in gr. 2 was, is die ware slaagsyfer 42%.

Prof. Mary Metcalfe, onderwyskenner en -navorser, sê die behoud van leerlinge in die stelsel is van kritieke belang. “Die retensiekoers is baie laag en te veel van ons leerlinge verlaat die skool sonder enige formele kwalifikasie.” Sy meen wel die deurvloeikoers is besig om te verbeter.

* Party skole doen byna enigiets om hul slaagsyfer van 100% te behou.

“Straddling” is wanneer skole kinders wat sukkel, vroeg identifiseer en hulle dan hul eindeksamens in twee paaiemente laat skryf – vier vakke saam met hul matriekgroep en die ander die daaropvolgende jaar.

Melanie Buys, onderwysspesialis van die Skoleondersteuningssentrum (SOS), sê skole beveel by leerlinge aan om eers die aanvullingseksamen in Februarie te skryf. Hul uitslae word met die bekendmaking van die uitslae as “pending” aangedui.

Party skole hou leerlinge in gr. 11 terug of moedig hulle aan om eerder byvoorbeeld wiskundige geletterdheid as wiskunde te neem.

Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fed­sas), bestempel dié praktyke as ’n “siek spul”. “Politici plaas druk op amptenare en amptenare op skoolhoofde en dan skoolhoofde op die leerlinge. Dit is tog nie in beste belang van die leerlinge nie!”

* Duisende minder skryf wiskunde en rekeningkunde.

In 2019 het 14 178 minder leerlinge as in 2018 wiskunde geskryf en 12 972 minder rekeningkunde.

Spaull sê: “As die rede hiervoor is dat provinsies probeer om hul slaagsyfers kunsmatig te verbeter, is dit ’n baie kommerwekkende neiging.”

Hy meen dis belangrik om te kyk na hoeveel leerlinge slaag in vakke wat vir hul verdere studie nodig is, soos wiskunde en wetenskap, asook hoe goed hulle slaag.

“Dit help nie om in isolasie na die slaagsyfer te kyk nie,” sê Spaull.

Buys sê dit is vir die SOS kommerwekkend dat leerlinge aangemoedig word om eerder “makliker” vakke te neem.

“Wiskunde en rekeningkunde loop hand aan hand en wanneer leerlinge sukkel met die een, is dit waarskynlik dat hulle ook sal sukkel met die ander.”

Metcalfe sê die getal leerlinge wat rekeningkunde neem, neem al jare lank af. “Ek dink die professie moet betrokke raak by die onderwysdepartemente om te kyk wat hieraan gedoen kan word.”

* Party skryf matriek in paaiemente.

Ingevolge die beleid vir veelvuldige eksamengeleenthede kan leerlinge wat sukkel, byvoorbeeld drie vakke in November skryf saam met die res van die groep en die laaste vier die daaropvolgende Junie.

Die departement het in 2019 aangekondig dié beleid word uitgefaseer juis omdat dit skole die geleentheid gee om leerlinge terug te hou. Hul punte word dus nie ingereken nie sodat die skool sy 100%-slaagsyfer behou.

Elijah Mhlanga, departementele woordvoerder, het bevestig die beleid sal nog net tot Junie vanjaar geld.

* Nie-Afrikaanse en nie-Engelse leerlinge kry “vergoeding”.

Ingevolge die taalvergoedingsbeleid kry alle leerlinge wat ’n Afrika-taal buiten Afrikaans of Engels as hul eerste taal geregistreer het, 3% ekstra van die punte in hul nietaalvakke.

Mhlanga verduidelik as so ’n leerling byvoorbeeld 240 punte vir wiskunde kry, kry hy 7,2 punte (3% van 240 punte) by vir ’n totaal van 247,2. Die SOS meen dié beleid trek die syfers skeef.

* By al hoe meer skole slaag niemand nie.

By 18 skole landwyd (waarvan die helfte in Limpopo is) het nie ’n enkele kandidaat wat geskryf het, deurgekom nie. Verlede jaar was daar 12.

“Dit ontneem leerlinge van ’n hoop op die toekoms,” sê Buys.

Spaull en Metcalfe meen albei beter onderrig moet al op laerskoolvlak plaasvind.

Metcalfe sê as kinders met begrip kan lees teen die tyd dat hulle tien jaar oud is, sal dit reeds baie help.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Matriekuitslae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.