Die matriekklas van 2020 het weens die Covid-19-pandemie omstandighede deurgemaak wat geen van hul voorgangers deurgemaak het nie, sê pres. Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief.
“Die moeilike omstandighede wat húlle tot nou toe oorkom het, sou selfs van die gehardste volwassenes gepootjie het.”
Sowat 1,1 miljoen kandidate begin Donderdag om vanjaar se Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen af te lê.
Die eksamen eindig op 15 Desember.
Weens die koronavirus-inperking en die
gevolglike sluiting van skole, is vanjaar se Junie-eksamen met die November-eksamen gekombineer.
Ramaphosa sê vanjaar se matriekeksamen sal weens die pandemie onder ongekende omstandighede afgelê word.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, praat met matriekleerlinge aan die Tshepagalang Secondary School in Lethabile naby Brits gedurende 'n besoek in Augustus aan skole in die Noordwes. Foto: Deaan Vivier
Die president sê omdat die Junie- en November-eksamen gekombineer moes word, sal vanjaar se matriekeksamen die grootste openbare eksamen wees wat tot nog toe in Suid-Afrika geadministreer is.
“Die klas van 2020 moes omstandighede oorkom wat hul voorgangers nie geken het nie. Baie aanpassings moes gemaak word – nie net om die leerplan betyds af te handel nie, maar ook om verlore ure in te haal.
“Nie almal het toegang gehad tot leerplatforms en ander hulpbronne nie en dit het tot meer spanning bygedra.”
Behalwe dat baie van hulle weens die inperking vir maande lank nie hul maats gesien het nie, kon hulle ook nie aan sport of vermaak deelneem nie, skryf die president.
Ramaphosa sê dit was net so ’n moeilike jaar vir die land se onderwysers, maar ondanks al die uitdagings het die meeste van hulle teruggekeer skool toe om die akademiese jaar te help red.
Hulle het die leerlinge eerste gestel en gewys onderwysers tel onder die land se voorste staatsamptenare.
“Ek salueer ons onderwysers wat daar was toe die leerlinge hulle op hul nodigste gehad het.”
Op sommige plekke, soos in Dendron naby Polokwane in Limpopo, het toegewyde onderwysers hul huise oopgestel om leerlinge te help.
Die president praat ook met lof van besighede en universiteite wat in dié moeilike omstandighede ’n groot ondersteuningsrol gespeel het deur tegnologie beskikbaar te stel sodat leerlinge aanlyn klasse kon bywoon.
“Sonder die ondersteuning van ouers, familielede en gemeenskappe sou die pad vir die matrieks nóg moeiliker gewees het. Ons dank hulle vir dié ondersteuning,” sê die president.
“Wanneer julle die eksamenlokaal instap, dra julle nie net jul eie drome vir sukses en dié van jul families met julle saam nie. Julle dra ook die hoop van alle Suid-Afrikaners.
“Ons is ontsaglik trots op julle en wens julle alle voorspoed toe,” skryf Ramaphosa.