Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Angelique gryp toe sommer alle kanse aan ná taai stryd

Nie net was dit vir Angelique Filter (18) ’n groot skok om in gr. 5 uit te vind sy het artritis nie, maar sy moes ook daarna jare daarmee leef sonder enige sukses met ’n behandeling. Vandag is dit egter ’n ander storie.

“ ’n Mens leer om daarmee te cope. Daar is geen ander moontlikheid nie. As ek terugdink, besef ek dat dit eintlik moeilik was, maar daardie tye het ek nie altyd so gedink of gevoel nie,” sê dié gewese matrikulant van die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes met ’n glimlag.

Angelique op haar gelukkigste op die verhoog. Sy het ’n liefde vir drama ontwikkel toe sy weens artritis nie sport kon doen nie.Foto: VERSKAF

Die uitdagings het haar egter nie ondergekry nie, want weens die feit dat sy nie sport kon doen nie, het sy ’n liefde vir drama ontdek. Nadat sy gister matriek met agt A’s geslaag het, sien sy uit daarna om vanjaar drama aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer.

“Dit is lekker, want dit is ’n ervaring om ’n ander karakter te word en die wêreld deur ander oë te sien. Die kreatiewe energie en die mense en die hele gevoel is vir my lekker. Ek hou ook daarvan om mense te laat lag en hou veral van komedie.”

In gr. 10 het sy aan die nasionale toneelkompetisie deelgeneem en haar oë het oopgegaan vir die wêreld van drama.

“In gr. 3 het ek ná skool begin deelneem by Ira Blanckenberg se Stageright-dramaskool en ek het altyd aan eisteddfods deelgeneem. Ek het nog altyd daarvan gehou om op te voer, maar ek het nooit gedink dit gaan my lewe word nie. Parel Vallei het soveel geleenthede in drama vir my gebied en die passie vertroetel en toe word dit my hele lewe en toekoms.”

In gr. 5 was haar vingers baie opgeswel en sy en haar familie was baie bekommerd daaroor. Daarna was die swelsel in haar knieë en orals anders. Dit het egter ’n lang tyd gevat voor artritis by haar ge­diagnoseer is.

“Ons het toe begin om medikasie te soek om dit onder beheer te kry. Dit was die moeilike deel, want elke immuunstelsel reageer anders op elke medikasie.

“Ons het kortisoon probeer, maar dit het my vreeslik laat opswel en ek was soos ’n groot bubble van ’n mens. Ek moes ook baie keer hospitaal toe om die vog uit my knieë te laat dreineer.”

Ek dink tydens die artritis moes ek maar positief bly, want dit is al hoe jy kan lewe en aangaan.

Teen gr. 8 het hulle uiteindelik die regte medikasie gevind wat ’n immuunonderdrukker was.

“Met dié medikasie het ons die artritis onder beheer gekry en leef ek nou ’n baie normale lewe. Daar is natuurlik newe-effekte, maar dit was die minste,” sê sy.

Op ’n tyd het sy gedink sy gaan altyd met artritis moet lewe, want elke medikasie voor dit het net ’n tydjie gewerk. Sy het egter altyd geloof en hoop gehad.

“Ek dink tydens die artritis moes ek maar positief bly, want dit is al hoe jy kan lewe en aangaan. Dit was ongelooflik nadat ons die medikasie kon kry en ek kon terugkeer na normaal. Al die swelsel was weg. Ek het egter nooit te gewoond geraak daaraan nie, want ek was altyd seker dit gaan terugkom. Toe ons eers agterkom die medikasie werk, was dit wonderlik.

“Dit is nie net dat jy pyn het nie, jy raak so depressief, want jy is opgeswel in jou gesig en orals. En dis nie wie jy is nie. Om dan net weer normaal te voel . . . ek het goed gevoel,” sê sy stralend.

Sedert verlede jaar was dit egter moeilik en het Angelique gereeld geïsoleerd en angsbevange gevoel, want met Covid-19 was daar altyd ’n hoë risiko. “Daar was baie onsekerheid. Alles kan perfek wees en ek kan ’n lekker tyd hê saam met my vriende hê, maar dit kan ook tragies wees as ek sou siek word. Maar eerder veilig as jammer.”

Noudat sy uitsien na ’n nuwe hoofstuk, is sy ook ’n bietjie bang oor hoe Covid-19 haar 2021-planne kan kelder, maar die opwinding is veel groter. “Artritis het gelei tot my passie vir drama en goeie punte, want ek het baie gefokus op my werk. En ná alles gryp ek nou alle geleenthede aan en maak die beste daarvan!”

Meer oor:  Matriek2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.