Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Blind in ’n hoofstroomskool

Toe Ying-Shan Tseng (18), wat blind gebore is, in 2018 besluit het om van die Pionierskool vir siggestremdes na die Worcester Gimnasium te skuif, was haar besluit grootliks daarop gebaseer om meer onafhanklik te wees.

Ying-Shan se besluit was ’n reuse-uitdaging vir haar en die skool, maar sy wou deel wees van ’n gewone skool wat meer geleenthede sou bied.

Sy het gister matriek met twee A’s geslaag.

“Ek wou hoofsaaklik op ’n plek wees waar ek meer onafhanklik is met my oog op voorbereiding vir universiteit, omdat jy daar meer onafhanklik moet wees,” sê die gewese matrikulant van die Worcester Gimnasium.

“Die ander rede was as gevolg van my vakkeuses. Pionierskool het in daardie stadium ’n beperkte aantal vakke gehad.

“Maar ek wou ook weer deel wees van ’n groot klas en ’n groter groep leerlinge. By Pionierskool was ons net ’n paar leerlinge in die klas. Ek wou ook meer mededingend wees, maar ek wou ook daardie ekstra motivering teenoor my akademie hê,” vertel sy met ’n glimlag.

Ying-Shan was in Johannesburg in ’n hoofstroomskool. Sy en haar ouers, oorspronklik van Taiwan, het na Worcester verhuis toe hulle van Pionierskool hoor.

Ying-Shan Tseng is ook ’n baie talentvolle musikant. Nie net kan sy klavier speel nie, maar sy bekoor ook gehore met haar stem.

Volgens Ying-Shan het sy vooraf besluit sy wil nie anders behandel word net omdat sy blind is nie.

“Toe ek van Pionierskool na Worcester Gim toe gegaan het, het hulle gesê dat blinde leerlinge altyd voor in die klas moet sit. Maar ek wou dinge anders doen. Ek het besluit om net ‘normaal’ te wees en met die stroom saam te gaan.

“Ek het ook vir die onderwysers gesê ek wil nie voor in die klas sit nie en deel hiervan was sodat hulle nie heeltyd aanpassings moet maak as gevolg van my nie, maar dat ek eerder by hul manier van goed doen aanpas,” vertel sy.

Ying-Shan het ook ’n ander struikelblok oorkom.

Sy het binne drie maande op haar eie haar weg binne die drieverdiepingskool gevind, soms sonder die begeleiding van ander leerlinge.

Sy bieg dat dit aanvanklik moeilik was, maar met behulp van vriende en klasmaats het dit makliker geraak.

“Dit was nogal skrikwekkend, maar ek was gelukkig genoeg dat my klasmaats en vriende aangebied het om my te help.

“In die begin het ek meestal hulp van my vriende gekry, maar dis moeilik om altyd iemand by jou te hê om jou te help. Ek het dus probeer om na sekere plekke op my eie te gaan.

“Hoewel ek vir drie jaar daar was, was daar steeds plekke waarheen ek nie op my eie kon gaan nie.

“Maar ek sê altyd, die beste manier om ’n nuwe plek te leer ken, is deur nou en dan so bietjie te verdwaal. Die volgende keer dat jy verdwaal, weet jy dat jy by ’n vorige plek was,” lag sy.

Ying-Shan is ook ’n baie talentvolle musikant. Nie net toor sy met note op die klavier nie, maar sy bekoor ook mense met haar stem.

Sy vertel dat sy as baba reeds haar voetjies en hande op die maat van musiek begin stamp het en kon al sing nog voordat sy kon praat en sy kon ’n speelgoedklawerbord op gehoor bespeel.

“My ma sê ek het van musiek gehou nog voordat ek gebore was,” skerts sy. “My ma was lief daarvoor om musiek te luister toe sy swanger was met my, spesifiek na die radiostasie Classic FM. Sy was dus nie verbaas toe ek ook begin hou van klassieke musiek nie.”

Ying-Shan sê haar eerste optrede was toe sy vyf jaar oud was waar sy ’n klavierstuk opgevoer het, asook Suid-Afrika se volkslied gesing het.

Sy het lank net op klavier gefokus en eers jare later, op 11-jarige ouderdom, met sanglesse begin en as ’n solis ontpop.

Sy is in 2009 as die mees inspirerende junior kunstenaar in die Nasionale Eisteddfod-akademie aangewys. In 2010 is sy as die beste musikant tussen vyf en 15 jaar by die Suid-Afrikaanse byeenkoms van uitvoerende kunste aangewys. Verlede jaar was sy ook ’n finalis in die Suid-Afrikaanse skoolkoor-eisteddfod waar sy die provinsiale kompetisie in die sopraan-kategorie gewen het. Sy het ook met die trofee vir die beste Wes-Kaapse solis weggestap.

Ying-Shan is opgewonde om vanjaar haar by die Universiteit Stellenbosch aan te sluit waar sy musiek gaan studeer.

“Musiek was nog altyd my lewe en ek hoop om eendag ’n musiekonderwyser te wees. Ek het nog altyd goeie onderwysers gehad en ek hoop om ook eendag ’n goeie een te wees.”

Meer oor:  Matriek2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.