Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Blydskap en trane toe matrieks uitslae kry

Toe hy sy matrieksertifikaat oopmaak en sien hy het ’n goeie punt vir wiskunde behaal, was hy uit die veld geslaan.

“Ek kan gaan studeer wat ek wil studeer,” sê Jandrie Visagie, wat verlede jaar aan die Hoërskool Montana op Worcester gematrikuleer het. “Ek was ’n senuweebol, want ek het gedink ek sou dit druip, maar ek het nie!”

Jandrie sê sy eindeksamen was uitdagend omdat sy pa, Abraham, wat in Hermanus woon, op ’n dag skielik in ’n kruidenierswinkel inmekaargesak het.

Daniël Faure, wat verlede jaar ’n matriekleerling aan die Hoërskool D.F. Malan in Bellville was, hou sy matrieksertifikaat omhoog nadat hy en al sy klasmaats matriek geslaag het.

“Ek was net klaar met een van my vraestelle toe my stiefma bel en sê iets het met my pa gebeur. Hy moes in die waakeenheid opgeneem word en was in ’n geïnduseerde koma.”

Jandrie sê dit is nie duidelik wat sy pa oorgekom het en of dit aan sy bloeddruk of suikervlakke te wyte was nie, maar hy was baie bekommerd en sy gedagtes was regdeur die res van die eksamen by sy pa. Abraham is uiteindelik ontslaan.

Jandrie het die vyfde plek opgeraap in sy skool se toptien, met Carli Jacobs in die eerste plek, Talisa van Wyk tweede, Chevonne Ashley derde en Baredine Swanepoel en Niel Fourie gesamentlik vierde.

Oudleerlinge van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch spring van blydskap. Van links is Taylor Hendrikse, Mia Schoeman, Katryn Groenewald, Lize Burger, Sibbie Smith, Cimòn van der Westhuizen, Thina Gabavana en Nichola Viviers. Foto: Betti Erasmus

Jandrie gaan vanjaar ’n droom verwesenlik deur inligtingstegnologie aan die Pearson Institute of Higher Education te studeer.

Mari-Anna Kühn en Gerhard Kühn van Stellenbosch was oorstelp van vreugde om te hoor hul seun, Michiel, het ’n gemiddeld van 96% en tien A’s behaal as matriekleerling van Paul Roos Gimnasium.

“Dit was ’n baie groot oomblik vir ons gesin,” sê Michiel. “My ma se trane het geloop en my pa was oorstelp van vreugde daar waar hy in Johannesburg was.”

Michiel sê hy het so baie vakke geneem omdat hy homself soveel moontlik wil verryk in soveel moontlik velde. “Ek hou ook daarvan om myself uit te daag, behalwe dat verlede jaar ook ’n baie uitdagende jaar was.”

Margo Burnett, wat verlede jaar matriek voltooi het by die Hoër Meisieskool Paarl, en haar ma, Gretha, kyk na haar uitslae. Die skool het ’n 100%-slaagsyfer en 94% het universiteitsvrystelling gekry.

Sy vakke het ingesluit besigheidstudies, rekeningkunde, fisiese wetenskapp, inligtingstegnologie, rekenaartoepassingstegnologie en addisionele wiskunde.

Michiel het in gr. 10 na Paul Roos Gimnasium geskuif van Midstream College naby Centurion.

“Ek sou hierdie punte by geen ander skool kon behaal nie,” het hy Dinsdagmiddag gesê. Hy beplan om miskien oorsee te studeer vanjaar, of andersins aktuariële wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US)

Sy skool se slaagsyfer is 99,6%, en van die matriekgroep het 25 ’n gemiddeld van 90% behaal. 40 leerlinge het tussen 80 en 90% behaal. 15 leerlinge het agt A’s gekry en 94% van die leerlinge het universiteitsvrystelling gekry.

Quintavey Pietersen, voormalige matriekleerling van Elswood Sekondêr in Leonsdale, Kaapstad, neem ’n selfoonfoto van sy matrieksertifikaat om vir sy familie aan te stuur. Foto: Jaco Marais

Ook Sibbie Smith, topmatriekleerling van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch, se ouers het hul trane gesluk toe haar uitslae wys dat sy ’n gemiddeld van 95,17% behaal het. “Dit is net genade,” sê Sibbie.

“Daar was natuurlik baie uitdagings hierdie jaar, maar ek het ’n ongelooflike ondersteuningstelsel gehad. Ek kan nie wag vir volgende jaar nie!” Sibbie gaan rekeningkunde aan die US studeer.

Die Hoër Jongenskool Paarl het ’n slaagsyfer van 98,8% met 29 A-gemiddeldes. Herman Snyman is die toppresteerder met 94% (84% vir addisionele wiskunde), Yasin Essop tweede met 92,4% en Phillip Schoonwinkel derde met 92%.

Herman sê hoewel dit geraas het rondom hom toe hy sy uitslae lees, het hy aan die binnekant gegil van blydskap.

Wesley Swartz, wat verlede jaar die hoofseun van Elswood Sekondêr was, is oorstelp dat hy vier onderskeidings gekry het. Foto: Jaco Marais

Die Hoërskool D.F. Malan in Bellville het ’n 100%-slaagsyfer. Van die skool se 2020-matriekklas het 97% universiteitsvrystelling gekry, 487 leerlinge het A-gemiddeldes gekry en ’n algehele gemiddeld van 72,23% is behaal.

Die Hoërskool Robertson het ’n slaagsyfer van 99% met drie A-gemiddeldes en 59 vakonderskeidings. Die toppresteerder is Oliver Ward met vyf onderskeidings, tweede is Werner Leicher, ook met vyf onderskeidings, en derde is Jody Noudt met vier onderskeidings.

Die Hoër Meisieskool Paarl spog ook met ’n slaagsyfer van 100% met universiteitsvrystelling vir 94% van die leerlinge. Bianca Kirstein is die toppresteerder met 91% en Megan Steenkamp en Amanda van der Merwe het albei ’n gemiddeld van 90,86%.

Die Hoërskool Stellenberg in Durbanville, die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl, die Hoërskool Porterville en die Hoërskool Punt in Mosselbaai was ook onder dié wat ’n 100%-slaagsyfer behaal het.

Die drie toppresteerders by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch. Van links is Bernard Combrink, 95,6% met sewe A’s, Michiel Kühn, 96% met tien A’s, en Philip Botha, 94,2% met sewe A’s.
Die toppresteerders van die Hoërskool Stellenbosch gooi hul hande in die lug. Van links is Jani Badenhorst, Phebe la Grange, Jana Basson, Rafeeqah Agnew, Cate Stofberg, Salmo Cilliers, Nicola Goosen, Lize Herbert, Wilmay Celliers, Clarissa Kruger en Adelé Kotzé.
Jandrie Visagie van die Hoërskool Montana in Worcester.
Herman Snyman, toppresteerder van die Hoër Jongenskool Paarl. Foto: Argief
Oliver Ward, toppresteerder van die Hoërskool Robertson.
Matrieks van die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes in die Wes-Kaap en die skool se gelukbringers is reg om hul matriekuitslae om 12:00 te ontvang. Van links agter is Timothy Schenck, Jenna Felton, Tatum Meiring, Megan Parkin, Ayden Petersen, Otto Engelbrecht, Markus Dempsey, David-John Rainier, Shane Oteng, Ryan Bevon (hoofseun 2020), Katya van Drimmelen, Annegrethe Scholtz en Blayne Samuels. Voor is Butch (gelukbringer), Patricia Potgieter (hoofmeisie 2020) en Bella (gelukbringer).
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.