Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Diabetes-diagnose ’n skok vir Ayden, maar hy presteer steeds

“Hoekom moet dit met my gebeur? Ek leef dan gesond.”

So het Ayden Pretorius (20), ’n gewese leerling aan Hoërskool Oudtshoorn, gevra nadat tipe 1-diabetes in Julie verlede jaar by hom gediagnoseer is.

Toe hy uiteindelik ná die eerste strenger staat van inperking weer kon terugkeer skool toe, het hy begin simptome wys, sê hy. Hy het eers gedink dis normaal dat hy so baie water drink, maar toe stel sy tannie, by wie hy woon, voor dat hy sy suiker toets. Hulle het dit sommer by die huis gedoen omdat sy tannie ook ’n diabeet is.

Ayden het in sy matriekjaar uitgevind hy het tipe 1-diabetes. Ten spyte van sy diagnose­ het hy steeds positief gebly.

“Ek is toe daarna dokter toe omdat my suiker baie hoog was. Maar die dokter het nie enigiets genoem van suikersiekte nie; net gesê ek het griep en vir my pille voorgeskryf.

“Die pille het niks gehelp nie en my toestand het nie verbeter nie.

“Ek het vir ’n tweede mening gegaan en toe sê die dokter aan my ek het tipe 1-diabetes. Ek het gehoop dat ek tipe 2 is. Dit was nogal ’n skok omdat ek altyd gesond leef,” sê hy.

Volgens Ayden was hy ná sy diagnose vir ses weke in die hospitaal vir behandeling.

“In dié tyd het ek baie agtergeraak met my skoolwerk. Gelukkig het een van die onderwysers wat saam met my in my Bybelstudie-groep is, al my werk vir my gebring. Dit was moeilik om dit alles in te haal, maar ek het deurgedruk,” voeg hy by.

In sy tyd in die hospitaal het die dokters hom ingelig oor hoe en wanneer hy homself met insulien moet inspuit.

Diabetes is nie ’n doodsvonnis nie; dit is net iets wat jy daagliks moet monitor om te verseker dat jou suikervlakke reg is.

Ayden sê hy het gou aangepas om sy suikervlakke elke dag dop te hou en om so gesond moontlik te leef.

“Dit was nie vir my moeilik om van slegte gewoontes afstand te doen nie omdat ek nie eintlik ongesond leef nie. Ek drink glad nie gaskoeldrank nie, maar ek sal wel ’n Energade of so drink. Ek toets my ook elke oggend om te kyk waar my suikervlakke is.

“Diabetes is nie ’n doodsvonnis nie; dit is net iets wat jy daagliks moet monitor om te verseker dat jou suikervlakke reg is.”

Hoewel die jaar vir Ayden moeilik was, bly hy positief. “Ek sien uit daarna om my eie ding te doen. Ek hoef ook nou nie meer so vroeg op te staan nie,” sê hy laggend.

Ayden sê hy gaan vanjaar neem om te besluit wat hy met sy lewe wil doen. Hy het gister matriek geslaag met toelating tot diplomastudie.

Hy gaan óf by die weermag aansluit óf maatskaplike werk studeer.

Meer oor:  Matriek2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.