Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Doof gebore, maar kogleêre inplantings gee haar ’n vol lewe

Rentia Meyer (18) het nog nooit toegelaat dat haar doofheid of kogleêre inplantings haar terughou nie.

“Behalwe in sport!” vertel sy laggend.

Doofheid kon nie vir Rentia stuit om ’n ‘so normaal as moontlike lewe’ in ’n hoofstroomskool te hê nie.Foto: VERSKAF

Dié blondekop is doof gebore en haar oplettende ouers het dit gelukkig ná ’n jaar agtergekom.

“Hulle het toe eers probeer kyk of gewone gehoorapparate sal help, maar dit het nie regtig enige verskil gemaak nie, want ek was heeltemal doof.

“Met behulp van die gemeenskap en die plaaslike Spar het almal toe ingespring en geld ingesamel vir my eerste kogleêre inplanting wat ek gekry het net voor ek twee jaar oud geword het. Die tweede een het ek gekry net nadat ek twee geword het.”

Sy was gelukkig om haar inplantings te kry binne die tydperk waarin kinders moet leer praat, wat die hele proses vergemaklik het. Vandag praat sy soos iemand met 100% normale gehoor.

“Terwyl my vriende al kon praat en speel, moes ek saam met my spraakterapeut en oppasser leer praat.

“Ek het ’n bietjie daarvan misgeloop, maar gelukkig kan ek vandag hoor en praat.”

Hoewel sy stadiger was met die aanleer van taal en om te praat, het sy goed ingehaal en kon sy altyd ’n hoofstroomskool bywoon.

Sy vertel ook dat sy gelukkig was dat die onderwysers altyd vir kinders verduidelik het wat haar inplanting is én wat dit behels, iets wat bygedra het daartoe dat sy nooit geterg is nie.

“Ek sukkel steeds met ’n lispel en bry veral, maar ek is nou heeltemal verstaanbaar. Ek was gelukkig met baie ondersteuning van vriende en onderwysers wat die saak goed hanteer het,” sê sy.

Sy vertel oor dat haar broer Christiaan al sy speeltyd tussen die ouderdom van 8 en 10 jaar opgeoffer het om haar te leer en help om te hoor en praat.

“My doofheid het dit soms laat voel of ek meer moet doen of insit en dit was ook die geval.

“Ek moes soms die onderwysers se lippe in die klas lees wanneer die geraasvlakke te erg was en ek moes harder as ander werk vir dieselfde uitslae.

“Soms mis ek iets in die klas, maar my oulike vriendinne en wonderlike onderwysers was altyd daar om te help.”

Sy het pas, ná ’n hoërskoolloopbaan by die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch, matriek met sewe A’s geslaag.

Rentia het floreer in die skool en was onder meer die redaktrise van die skoolkoerant.

“Bloemhof het vir my ’n lekker omgewing geskep waar ek my potensiaal kon uitleef.

“Ek het nooit gevoel my inplantings hou my terug nie, behalwe dat ek nie daarmee aan sport kon deelneem nie. Tog het ek steeds van gr. 1 tot gr. 7 netbal gespeel – al was dit nou ook in die heel laaste span,” vertel sy laggend.

Dit het haar egter nie gepla nie, want sy het haar passie gevind in skryf.

“Ek was sedert gr. 8 betrokke by die skoolkoerant en ek is ook ingetrek om te help met die sosiale media aan die bemarkingskant. Hulle het baie geleenthede vir my geskep.”

Van kleins af was Rentia lief vir opstelle, haar gunstelingdeel van Afrikaans. Sy het ook al geskryf vir Netwerk24 se Die Student.

Sy verruil egter vanjaar die pen vir die boeke en beplan om ’n BA- sielkunde-graad by die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer.

“Danksy meeste van my au pairs wat opvoedkundige sielkundiges was, wil ek ook graag eendag een wees. Hulle het my geïnspireer en ek wou al van kleins af een word,” sê sy opgewonde oor die nuwe avontuur wat voorlê.

Meer oor:  Matriekuitslae  |  Matriekeksamen  |  Matrieks2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.