Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
‘Ek is dankbaar,’ sê vrolike matrikulant ná kanker

Al was daar dae wat nie maklik was nie, het Nelia Mars (18) besef dat sy die waarheid moet aanvaar en net moet soek na beter dae.

Op die ouderdom van 16 is graad 3- ovariale kanker by dié gewese leerling van die Worces­ter Gimnasium gediagnoseer, maar ten spyte daarvan het sy positief gebly en geglo sy sal gesond raak.

“As jy hoor jy het kanker, dink ’n mens jy gaan onvermydelik sterf. Ek moes net positief bly, want môre, oor ’n week of oor ’n maand mag ek dalk nie hier wees nie. So, ek wou lewe soos die mens wat ek is en lag en huil wanneer ek wil,” sê sy laggend.

Die borrelende Nelia Mars het nooit toegelaat dat kanker haar onderkry nie. Al was dit hoe moeilik, het sy probeer om positief te bly.Foto’s: VERSKAF

Hierdie krulkopmeisie sal jou nooit laat dink dat sy al deur soveel moeilike tye is nie, want sy lag en is te alle tye tydens ons gesprek borrelend. Tog kan jy sien daar is trane in haar oë wanneer sy terugdink aan die dag toe sy uitgevind het sy het kanker.

“Tydens die Junie-eksamen in 2018 het ek vreeslik gestres en erge maagpyn begin kry, maar nie gedink dit is ernstig nie. My ma het my egter dokter toe geneem om seker te maak en hy het niks verkeerd gevind nie. Ek het pille gekry en is huis toe.

“Daardie Desember het ek siek geraak met ’n verkoue en vir veiligheid is ek weer dokter toe. Hy het ’n volledige ondersoek gedoen en dit het kliphard onder my diafragma gevoel. Hy was bekommerd en verdere toetse is gedoen,” vertel sy.

Tydens ’n sonar het hulle agtergekom iets is nie reg nie en sy is gestuur vir verdere ondersoeke en skanderings.

“ ’n Maand het verbygegaan en ons het begin dink dit kan nie so erg wees nie, want dan sou ons al iets gehoor het. Toe begin die skool en die skok kom toe: dit is kanker,” vertel sy met ’n sagter stem.

“Dit was baie vreemd en ’n ongewone ervaring, maar ek het gevoel en gelewe asof niks fout is met my nie.

“Ek wou nooit hê mense moet my jammer kry of na my verwys as ‘die meisie wat kanker gehad het nie’. Mense moet my onthou vir iets anders en vir wie ek is.”

Sy erken dat sy soms van ’n berg wou afspring in moeilike tye, maar dat die ondersteuning van haar ouers en vriende haar daardeur gedra het.

Pad na herstel

Ná haar diagnose moes Nelia in Februarie 2019 met behandeling begin wat chemoterapie vir vyf dae en dan weekliks vir drie weke daarna behels het. Dan word die proses herhaal.

Nelia ná haar chemoterapie saam met haar pa, Adriaan, en ma, Corma, in Langebaan.

“Ons wou nie tydens chemo kanse vat met my verswakte immuniteit nie en ek het dus by die huis gebly en tussenin my skoolwerk gedoen en probeer om nie agter te raak nie. Ek was so bang ek raak agter, want ek wou teruggaan skool toe.

“Almal van die skool én my vriende het ingespring en gehelp met huiswerk. Selfs my ouma het my gehelp met my voorgeskrewe boeke!”

Sy het dus al in gr. 11 in isolasie gelewe met maskers en baie sanitasie.

Sy sê laggend: “Ek en my vriende het teepartytjies met sosiale afstand gehou nog voordat dit ’n ding was!”

Al haar behandeling, isolasie en positiewe denke het daartoe bygedra dat haar gesondheid verbeter het en sy in remissie was. Sy is terug skool toe met groot opgewondenheid.

Toe kom 2020 en die grendeltydperk en net so is sy wéér in isolasie by die huis en terug by maskers en sanitasie. Dit het egter strenger geword ná haar gereelde ondersoek in Augustus verlede jaar by die onkoloog.

“Ek en my ma was yskoud terwyl ons vir die uitslae gewag het. Hulle het toe ’n sist op my ovarium gekry en ’n kol op my humerus.”

Gelukkig was die sist nie kwaadaardig nie, maar die kol op die humerus het ’n verswakte been tot gevolg gehad wat enige tyd kon breek. Dié kon egter ook gelukkig met ’n operasie volkome herstel word.

Selfs ná al die tye in ’n hospitaal, wil Nelia baie graag vanjaar verpleegkunde gaan studeer nadat sy gister matriek geslaag het.

“Die tye in die hospitaal het my oë oopgemaak vir wat mense werklik nodig het, veral tydens Covid-19. As ek iemand eendag kan help soos ek gehelp is, sal dit reeds ’n groot verskil maak.

“Tydens my eerste skandering het die suster aan diens vir my gesê ‘alles is betyds’ en dis nou die motto waarvolgens ek lewe. Dit inspireer my elke dag om te glo dat wat ook al gebeur, gebeur op sy tyd en ek moet net geduldig wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.