’n Ma en dogter het saam gematrikuleer en het mekaar boonop in Desember 2020 na ’n matriekafskeid vergesel.
Cindy Janse van Vuuren (36) sê sy was maar 17 toe sy met haar dogter, Nicole, swanger geraak het. Dit het beteken dat sy nooit die geleentheid gehad het om na haar eie matriekafskeid te gaan of haar skoolloopbaan te voltooi nie. Haar kind het die geleentheid vir haar geskep.
“Mamma, elke gr. 1-meisie se groot droom is haar eie matriekafskeid. Sy wag 12 jaar op die dag dat sy haar eie rok kan laat maak, foto’s kan neem en haar aand kan geniet. Mamma het nooit die voorreg gehad om ’n matriekafskeid te hê nie, want ek is mamma se matriek. Vandag het ek mammie gevra om my spesiale dag saam met my te ervaar,” het Nicole (18) op Facebook geskryf kort nadat haar ma ingestem het om haar metgesel te wees na die Hoërskool Oosterlig in Boksburg se matriekafskeid.

Cindy en Nicole Janse van Vuuren op die Hoërskool Oosterlig se matriekafskeid.
“Ten spyte van wat haar maats sou dink, van wat verwag word van haar, doen sy iets so moois en spesiaals wat die wêreld vir my beteken,” sê ’n emosionele Cindy, ’n sakevrou aan die Oos-Rand.
“So iets is baie spesiaal vir ’n ma – hierdie mamma se hart bars van trots.”
Nicole sê sy het haar nie gesteur aan negatiewe kommentaar nie.
“Mense dink dis weird, hulle wonder seker of ek nie ’n kêrel kan kry nie, maar ek wou die spesiale aand met my ma deel.”
Cindy het gevoel sy moet die eer verdien om Nicole na die matriekafskeid te vergesel. Sy het besluit om self ook haar senior sertifikaat te verwerf.
“Ek het in 2015 vier van die matriekvakke voltooi en nooit die ander twee nie.”
Sy het in die 2020-eindeksamen wiskunde en geskiedenis deur die Woord en Lewe-kerk se kollege geskryf.
“Ek en Nicole matrikuleer in dieselfde jaar. Dis wonderlik,” sê sy met ’n knop in die keel.
Nicole sê die hele ervaring om saam met haar ma matriekafskeid toe te gaan en saam te matrikuleer het hul verhouding as ma en dogter versterk.
“Dit was so lekker, ons het baie gelag en regtig gebond.”
Nicole werk vanjaar as au pair terwyl sy besluit watter beroepsrigting om te volg.