Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Hoofmeisie doen steeds haar plig

Die jaar 2020 was vir Chevonne­ Ashley, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Montana in Worcester, en soos vir baie ander matrieks ’n buitengewone jaar.

Die 18-jarige Chevonne moes die hele jaar tuisonderrig ontvang omdat sy rumatoïede artritis en Raynaud se siekte het, wat haar kwesbaar laat vir Covid-19. Albei die siektes is in Mei 2012, toe sy in gr. 4 was, by haar ge­diagnoseer.

Chevonne Ashley probeer altyd positief­ bly ten spyte van haar siektes. Sy moes verlede jaar tuisonderrig­ ontvang omdat sy kwesbaar was om Covid-19 op te doen.

Rumatoïede artritis is ’n outo-immuunsiekte. Sonder behandeling kan dit lei tot die vernietiging van gewrigte met gepaardgaande chroniese pyn, verlies aan krag en funksie en die onvermoë om normale daaglikse aktiwiteite te verrig. Dit word meestal behandel deur anti-inflammatoriese middels en die beperking van fisieke aktiwiteite, soos oefening en sport.

Raynaud se siekte behels dat die kapillêre are vernou wat bloed aan die vel voorsien, wat bloedvloei na die aangetaste dele beperk. Gewoonlik in die vingers, tone, ore en neus. Dit word vererger deur lae temperature en spanning.

Benewens die siektes, kon sy ook nie van haar pligte as hoofmeisie uitvoer nie.

Maar dit het haar nie gekeer om die beste van haar matriekjaar te maak en steeds te presteer nie.

Volgens Chevonne het sy probeer om so betrokke as moontlik te wees, al was sy by die huis.

“Die hartseerste van die jaar is dat ek op die samesyn by die skool uitgemis het. Ek kon nie in die vlees daar wees vir my skool nie en kon nie saam met hulle deur die goed en sleg gaan nie. Ek het altyd probeer om my pligte as hoofmeisie uit te voer, al was dit uitdagend. Ek het tog my kant probeer bring deur byvoorbeeld weeklikse roosters op te stel vir die kleedkamerdiens,” sê sy.

“Ek het ook motiverende briewe met rooi penne gaan uitdeel vir die skoolpersoneel voor en ten tyde van die inperking. Aan die begin van die inperking het ons video’s gemaak om die leerlinge te motiveer. Ek kon my jaar op ’n hoogtepunt afsluit deur my laaste twee toesprake by die matriekdinee en matriek-afstap te lewer. Ek het nie baie uitgemis in terme van my pligte as hoofmeisie nie. Ek het altyd probeer deel wees van alles wat ons gedoen het.”

Chevonne sê hoewel die tuisonderrig lekker was, was dit ook baie uitdagend omdat dit so baie selfdissipline en vas­beradenheid verg.

“Die onderwysers het my werk en opnames vir my deurgestuur, maar ek moes self daardeur werk en verseker dat ek my kant bring. As ek een dag nie al my werk getrou voltooi het nie, was ek baie dae agter.

“Dit was soms ’n stryd om gefokus te bly by die huis. Ek moes toesien dat ek nie ’n slagoffer word van een van die talle goed wat my aandag by die huis kon aflei nie,” sê sy skertsend.

Sy voeg by dat sy vir haarself ’n rooster opgestel het wat sy elke­ dag kon volg.

Ek het gedoen wat my gelukkig gemaak het, maar dit was nie altyd maklik nie.
Chevonne­ Ashley

Chevonne sê verder toe sy uitvind sy het rumatoïede artritis, het sy nie toegelaat dat dit haar onderkry nie. Sy erken wel dat dit haar skoolloopbaan in terme van sport beïnvloed het.

“My dokters het in 2012 my aangeraai dat ek alle fisieke aktiwiteite moet staak. Dit was nooit vir my lekker om op die paviljoen te sit terwyl al die ander kinders aan sport kon deelneem en doen waarvan hulle hou nie. Ek het in gr. 8 besluit dat ek nie verder uitgesluit wil wees nie. Ek het begin deur jaarliks een sport te doen, naamlik hokkie. Dit was ’n stryd, aangesien dit ’n kontaksport is en ek het gereeld uiterse pyn ervaar. Ek het die gevolge daarvan gedra, maar dit was die moeite werd,” sê sy.

“Ek het gedoen wat my gelukkig gemaak het, maar dit was nie altyd maklik nie.”

Chevonne is baie opgewonde oor wat vir haar voorlê. Nadat sy matriek gister met ses A’s geslaag het, sien sy daarna uit om vanjaar kriminologie aan Unisa te studeer.

“Die verandering van kind na grootmens was nog altyd iets wat ek bewonder het. Nou is dit my beurt om hierdie verandering self te ondergaan deur te begin met my studie, werk en al die avonture wat daarmee gepaardgaan. Ná matriek is daar baie meer verantwoordelikhede, maar tog meer vryheid,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.