Min matrieks van 2020 kan sê hulle het gehelp om ’n baba in die wêreld te bring. Dit is egter waar van Dominique Matthee.
Matthee was verlede jaar in gr. 12 aan die Hoërskool Oos-Moot in Pretoria. Sy was ’n waarnemer by die Best Care-ambulansdiens en het haar kursus in BLS (Basic Life Support for Healthcare Provider) en noodhulpkursusse voltooi.
Haar kêrel, Hennie Brits, is ’n paramedikus.

Dominique Matthee en haar paramedikus-kêrel, Hennie Brits, kort nadat hulle gehelp het om Cole in die wêreld te bring.
In April 2020 het hy op ’n noodgroep gesien dat ’n vrou in Booysens in Pretoria kraam en dat sy wag vir ’n ambulans.
Hulle was nie aan diens nie, maar Dominique en Hennie het besluit om die vrou te gaan help omdat die ambulans gesloer het en sy al ure op hulp gewag het.
“Toe ons daar aankom, was sy gereed om te kraam. Sy het op die bed gaan lê en dit was net twee drukke toe is die baba daar,” vertel Dominique.
“Ek het die oefensessies gehad van wat om te doen as so iets gebeur, maar ek het dit nog nooit in die regte lewe beleef nie. Dit was ’n belewenis. Ek was baie opgewonde.”
Hulle het saam met die ma en haar nuwe baba, Cole, gewag totdat die staatsambulans opgedaag het.

’n EMS-ambulans.
Dominique is deur RSG genader om oor haar ervaring te praat, maar het dié geleentheid gebruik om die ma en haar baba selfs meer te help.
“Die baba het nie baie klere gehad nie en die ouers het nie geld gehad nie as gevolg van Covid-19. Ek het toe maar ’n paar goedjies vir hulle ingesamel, klere, badgoed, doeke en sulke goed.”
Sy is steeds in verbinding met haar pasiënte en het selfs ’n reëling getref met ’n ander ma wat ook ’n seuntjie het. “Die babas se ouderdom verskil drie maande, so die ander mamma skenk haar baba se klere aan Cole en Cole se ma skenk dan weer sy klere aan ander mense.”
Sy is nog lank nie klaar daarmee om mense te help nie. Sy loop vanjaar ’n versorgerskursus by Lasarus Tuisversorgers.
“Dis ’n intreekursus en dan kan ek omsien na mense met kanker en Alzheimer se siekte en mense in hospiesversorging. Daarna wil ek verpleegkunde studeer.”
Haar doel is om as ’n verpleegkundepraktisyn te kwalifiseer en die res van haar lewe mense te help.