Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Karla moes leer om hulp te vra

Selfs met haar beperkte sig het Karla Rossouw (19) nooit tou opgegooi nie – inteendeel, sy het net meer en meer voluit begin lewe.

“Ek het sterker geword weens my siekte. Ek soek nie meer genesing nie, want hiersonder sou ek nie wees wie ek vandag is nie,” sê sy met baie selfvertroue.

Karla is met Leber se siekte gebore, maar is nie dadelik gediagnoseer nie. Toe sy begin kruip, het sy in goed vas gekruip en haar ouers het dadelik besef iets is fout.

“Ek was baie klein toe ek daarmee gediagnoseer is, so ek lewe nog altyd daarmee saam.

“Die siekte is vir almal verskillend. In my geval kan ek nie te naby sien nie, maar ek kan ook nie te ver sien nie. Ek is ook heeltemal nagblind.”

Karla Rossouw op die bank by haar huis in Wellington. Hier voel sy altyd tuis, want sy weet waar alles is en loop met gemak in die huis.Foto: SUZAAN POTGIETER

Alles wat sy lees moet in lettergrootte 16 gedruk wees, haar vraestelle moet vergroot word en sy kan glad nie sien as die onderwysers op die bord skryf nie.

“Ek kon nooit op die bord sien nie en kon glad nie sien as daar skyfies vertoon word nie. Die onderwysers moes dit op papier kopieer vir my en dan moes ek dit oorskryf,” vertel sy.

Karla vertel dat veral laerskool moeilik was, want die skool het nie geweet hoe om haar gereed te kry vir hoërskool nie. Sy is dus na die Pionierskool gestuur vir ’n jaar en ’n kwartaal en daarna is sy na ’n hoofstroomskool.

“Toe ek na Labori moes gaan, was ek baie bang. Dit was so vreemd en ek moes skielik begin klasse wissel in ’n vreemde skool. Ek het skoon ouer geword van die stres!” sê sy laggend.

Die uitdaging was egter nie te groot nie, want sy het gister matriek aan die Hoërskool Labori in die Paarl met universiteitsvrystelling geslaag.

“Tydens skool het ek baie staatgemaak op my vriende, want as die skoolgange soms donker was en as die vloer ’n sekere kleur was en die stoele dieselfde kleur, kon ek nie altyd lekker sien nie. Dan het my vriende by my ingehaak en gehelp.”

Sy moes die skool, gange en klasse leer ken en memoriseer sodat sy die pad kon ken. Die huis is egter haar gemaksone, want daar weet sy waar alles is.

“Vir my was dit altyd moeilik om kwesbaar te wees en om hulp te vra. Ek het altyd soos ’n las gevoel, veral as mense my moes help as ons uitgaan na vreemde plekke.

Ek wou nie altyd sosiaal wees nie, want ek het gevoel soos ’n las wat die hele partytjie bederf.

“Ek sukkel ook om mense in die oë te kyk, want my een oog wys anderkant toe en ek hou nie daarvan nie.

“Maar ek voel nou minder so, want ek is ouer en gee nie meer so baie om oor wat mense van my dink nie.”

Op laerskool was Karla baie geboelie en mense het grappe oor haar gemaak.

“Dit was aaklig. Ek het nooit gevoel ek hoort in ’n spesiale skool nie, maar ook nie in ’n hoofstroomskool nie. Ek het nie geweet waar ek hoort nie,” sê sy.

In Labori het sy egter gemaklik geraak en meer ondersteuning gekry.

“Ek wens net ek kon vir myself in gr. 8 sê dit is oukeiom vir hulp te vra. Ek moes myself leer om vir hulp te vra.”

Vanjaar gaan Karla eers die jaar afneem en rustig wees en sy hoop om volgende jaar te gaan studeer, maar sy besluit nog watter studierigting sy wil volg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.