Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Leerlinge blink uit ondanks uitdaging

Die buitegewone pogings van gr.12’s met spesiale leerbehoeftes – soos Omphile Makhanya (18) en Danie Emmenis (21) – het ook heelwat prestasies in eie reg opgelewer.

Omphile was in die Prinshof Skool, ’n skool vir kinders wat gesiggestremd of blind is, in Pretoria. Sy kon onderskeidings behaal in Engels-huistaal, Afrikaans eerste addisionele taal, besigheidstudies, wiskundige geletterdheid, lewensoriëntering en musiek.

Sy was ook die toppresteerder vir skole vir leerlinge met spesiale leerbehoeftes in Gauteng.

Omphile Makhanya is gesiggestremd en het in haar matriekeksamen vyf onderskeidings behaal.

“Ek het so baie ondersteuning gehad in die jaar.

“Die onderwysers het seker gemaak ons raak nie agter met skoolwerk nie, al kon ons nie skool toe gaan nie. Die skool het ook data verskaf om seker te maak ons kan ons werk doen,” sê Omphile oor die onsekerheid wat die Covid-19-pandemie vir matrieks veroorsaak het.

Gloukoom is vroeg in haar lewe by haar gediagnoseer.

“Ons kon gelukkig van my sig red omdat my ma vroeg genoeg opgemerk het daar is ’n probleem. Ek kan nie ver sien nie en lees uit boeke met letters wat groot gedruk is.”

Omphile wil kommunikasie studeer. Sy het al haar hand gewaag aan berigte skryf en hoop op ’n loopbaan in die media-wêreld.

Danie het sy visier op die onderwys en hoop op ’n studiebeurs.

Danie Emmenis is gehoorgestremd en wil onderwys studeer.

Om gebaretaal in alle skole as vak aan te bied, is ’n droom wat hom baie na aan die hart lê.

Danie was in 2020 een van die Transoranje Skool vir Dowes se topmatrieks. Sy passie vir die taal wat hy praat, gebaretaal, het vir hom ’n onderskeiding in die vak besorg.

“Hard leer, hard werk en elke dag skool toe gaan, al was ek party dae die enigste by die skool” – was sy wenresep.

As hoof van die skool se studenteraad het Danie goeie leierseienskappe aangeleer en eie ervaring met die uitdagings wat met gehoorgestremdheid gepaardgaan, het tot die liefde vir die onderwys gelei.

“Gebare-skole is nie soos gewone skole nie en ons moes oorbruggingsjare doen tussen ons hoofstroom-skooljare.

“Dit was nie altyd maklik nie, maar die onderwysers by Transoranje het ons altyd bygestaan. Juffrou Jackie Oosthuizen het my gebaretaal geleer en dit het my baie gehelp met die prestasie wat ek op nasionale vlak behaal het,” sê Danie.

Hy hoop om dieselfde te doen vir ander gehoorgestremdes.

“Niks is onmoontlik as jy harde werk insit en seker maak jy verstaan wat jy moet doen nie.”

Danie was drie maande oud toe hy enkefalitis gekry het wat sy gehoor aangetas het.

“Sonder my kogliêre gehoorapparaat kan ek niks hoor nie; met die apparaat kan ek amper alles hoor,” sê hy.

Danie se raad vir die matrieks van 2021 is om hard te leer en vrae te vra as hulle nie verstaan nie.

Omphile het ook raad vir kinders met spesiale leerbehoeftes: “Jou gestremdheid bepaal nie jou intelligensie nie. Jy kan jou doelwitte haal, ongeag jou liggaamlike gestremdheid.”

Meer oor:  Matrieks2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.