Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Moedhou en aanhou is Deuwin se resep vir sukses
Deuwin du Toit sê hy het meer selfvertroue nadat hy na die Pionierskool toe gegaan het. Foto: VERSKAF

Uit sy dop gekruip

Hy is vriendelik en vrolik, spontaan en vol selfvertroue.

Maar dit was nie altyd so nie, sê die 19-jarige Deuwin du Toit op sy heel laaste dag in die Pionier­skool vir siggestremdes.

Sy goed is gepak en hy is gereed om huis toe te gaan.

Toe hy in sy gr. 8-jaar na die Pionierskool in Worcester gekom het, het hy gesukkel om in homself te glo, want hy is in sy vorige skool gespot omdat hy swaksiende is.

Omdat Deuwin nie ver kon sien nie, het hy nie meer goed gevaar in die vorige skool waar hy maar net een van 45 leerlinge in die gr. 7-klas was nie.

Selfs daar waar hy heel voor met sy neus feitlik tot teenaan die bord gesit het, kon hy niks uitmaak nie – veral as die onderwyser geel kryt gebruik het. Hy moes maar die werk by die maatjie langsaan afskryf.

So het hy al hoe meer agter geraak met sy werk.

“Ek het later vir die onderwyser gesê ek raak agter met my werk en hulle het my mooi gehelp.”

Hoewel hy hulp met sy skoolwerk gekry het, is hy op die skoolterrein gespot omdat hy swaksiende is.

“Wat sien jy daar doer?” sou die kinders vra, sê hy.

Hoewel hy hulp met sy skoolwerk gekry het, is hy op die skoolterrein gespot omdat hy swaksiende is.

“Dit het my selfbeeld regtig ’n knou gegee. Ek wou nie meer daar wees nie. Ek wou net daar wegkom, want dit was nie meer lekker om daar te wees nie,” sê hy.

Daar is toe besluit dat hy sy hoërskoolloopbaan die volgende jaar aan die Pionierskool sal begin.

'n Groot aanpassing

“Aan die begin was die lewe hier vir my ’n groot aanpassing. Ek het my maats en die huiskos gemis. Boonop het ek, wanneer ek af en toe huis toe gegaan het, agtergekom dat my ou maats aanbeweeg het, net hier en daar was nog iemand.

“Dit was ook vreemd om te sien hoeveel kinders, soos ek, daar by die skool eintlik is. Maar ek het gou vriende gemaak,” sê hy

Hy het gou besef dat dit eintlik vir hom beter in hierdie skool is.

“My selfvertroue het ’n hupstoot gekry.”

Aan die begin van sy gr. 10-jaar is sy pa skielik dood. “Ek het nie op my skoolwerk gefokus nie, en was baie, baie hartseer, daardie hele jaar. Die matjie was onder my uitgepluk,” sê hy.

Deuwin het teen die einde van daardie jaar besef dat niemand anders as net hyself kan besluit hoe nou verder nie.

“Ek wil my pa trots maak op my, al is hy nou nie vandag meer hier nie. Hy het altyd vir my gesê: ‘Deuwin, deursettingsvermoë is alles, en jy moenie lui wees nie.’ ”

Hy wou die skool los, maar die onderwysers het hom aangemoedig om aan te gaan want dit is nog net ’n paar maande dan is alles verby

Alles het hier teen die middel van matriek vir hom te veel geword, die take en toetse was net te vinnig op mekaar, en hy het nie gedink hy gaan matriek klaarkry nie.

Hy wou die skool los, maar die onderwysers het hom aangemoedig om aan te gaan want dit is nog net ’n paar maande dan is alles verby, sê hy.

“En ek het dit gemaak! Daar is nou niks meer wat in my pad staan nie. Ek is trots op myself. Ek het nie gedink ek sou dit maak nie.”

Die les wat hy hieruit geleer het, is om in homself te glo.

Hy sê noudat hy matriek geslaag het, wil hy eendag ’n argitek wees.

“Ek hou baie van teken en as ek dit vir ’n lewe kan doen, sal ek baie bly wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.