Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Moeilike besluit werp vrugte af met vrystelling vir sibbe

Ses jaar gelede moes twee sibbe wat familie van die San-leier Dawid Kruiper is, ’n moeilike toekomsbesluit neem.

Nou spog Paulina (20) en haar broer Jadré (18), van Welkom in die Mier-distrik van die Kalahari, albei met universiteitsvrystelling nadat hulle aan die Hoërskool Linden gematrikuleer het.

Paulina en Jadré het destyds Gauteng toe verhuis om by hul voogde, Sharon White en Reinhold Just, te gaan woon. White en Just het jare gelede by die San-gemeenskap in die Kalahari betrokke geraak en die gesin so ontmoet en hul hart vir die sibbe oopgemaak.

Paulina en Jadré Kruiper het ses jaar gelede na Johannesburg verhuis. Die twee is familie van die oorlede San-leier Dawid Kruiper.

Die sibbe se ouers, Dawid Kariseb en Maria Kruiper, wou net die beste vir hulle hê, en het hul besluit gesteun.

Paulina en Jadré het nog vyf broers van 2, 5, 11, 16 en 22 jaar oud.

“Hulle kyk op na ons, want ons het ’n goeie voorbeeld gestel deur skool klaar te maak en só ’n beter toekoms te verseker,” sê Paulina.

Sy sê toe sy ses jaar gelede in Johannesburg aangekom het, het sy gehakkel en geweier om te praat.

“My broer het vír my gepraat. Tannie Sharon het my gedruk. Ek moes hardop praat en my eie stem hoor, en so het ek minder gehakkel en meer gepraat.

“Dis danksy tannie Sharon en oom Reinhold dat ek die kennis het wat ek vandag het. Hulle het my die geleentheid gegee om my potensiaal te bereik en te kan doen waartoe ek in staat is.”

Jadré was tydens die onderhoud in die Noord-Kaap en het telefonies by die onderhoud aangesluit.

Albei sê hulle voel nou vryer om oor hul erfenis te praat.

“Dis dan wie jy is. Ek kan wees wie ek is. Ek is so gebore,” sê Jadré.

Paulina en Jadré saam met hul voog, Reinhold Just.

Paulina sê haar erfenis, as deel van die San-bevolking, beteken vir haar baie en dat sy nie haar kultuur kan wegsteek nie.

“Ons is deel van die eerste mense en bekend om ons uithouvermoë. Ons kan dae sonder kos. As jy net water het, is jy fine, die veld het sy eie kos,” sê sy.

White en Just het nie kinders van hul eie nie en dit was vir hulle ’n aanpassing om kinders in die huis te hê.

“Dit was opwindend. Ons het baie gelag. Hulle het vir ons baie vreugde gebring,” sê sy.

Die sibbe pak al van jongs af nuwe goed saam aan en toe Paulina 15 en Jadré 13 was, het hulle ballet geneem en hul afrigter, Tania Doyle, baie beïndruk.

Paulina en Jadré het albei universiteitsvrystelling gekry.

Hulle het ook baie gelees om hul woordeskat uit te brei.

White sê die onderwysers van die Hoërskool Linden het die sibbe geweldig baie ondersteun.

White en Just het ook hul lewe aangepas en seker gemaak dat hulle middae tuis was om Paulina en Jadré met hul skoolwerk te help.

Paulina droom daarvan om eendag ’n sjef te word en het haar vanjaar by die Potchefstroom Chef Academy aangesluit.

Jadré wil graag natuurbewaring studeer.

Meer oor:  Kalahari  |  Matrieks2020  |  Matriekuitslae  |  Matriekeksamen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.