Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Morné slaag matriek uit sy slaapkamer

’N Gewese leerling van die Hoërskool Hopefield moes weens ’n aangebore toestand wat sy immuunstelsel affekteer sy matriekjaar vanuit sy slaapkamer voltooi.

Morné Pretorius (19), wat aan hipogammaglobulinemie ly, is reeds in Maart verlede jaar, nog voor Covid-19 op Suid-Afrikaanse bodem geland het, deur die Mediclinic Constantiaberg in Kaapstad se hematologie-afdeling aangeraai om te isoleer ten einde homself teen die virussiekte te beskerm.

Morné Pretorius moes weens ’n aangebore toestand wat hom baie vatbaar maak vir infeksie sy matriekjaar vanuit sy slaapkamer voltooi.

“Ek was nogal bang om die virussiekte te kry omdat die dokters dit by my nie op die gewone manier kan behandel nie. Hulle moet dit so gou as moontlik behandel, anders kan dit erge skade aan my liggaam doen.

“My vorige dokter se een pasiënt wat min of meer dieselfde toestand as ek het, het Covid-19 opgedoen en het onmiddellik in ’n koma gegaan. Dit was nogal skrik­wekkend om te hoor,” sê hy.

Hipogammaglobulinemie is ’n probleem met die immuunstelsel waarin nie genoeg gammaglobuliene in die bloed geproduseer word nie. Dit lei tot ’n laer aantal teenliggaampies, wat die immuunstelsel benadeel, wat die risiko vir infeksies verhoog.

Hy ontvang sedert driejarige ouderdom behandeling om sy immuunstelsel te versterk en ontvang elke 28 dae Polygam, ’n oplossing van 1 000 mense se plasma, in die hospitaal.

Morné het ook sy matriekjaar met erge sinus en longinfeksie begin, maar het dit gou onder beheer gekry.

Dit sal lekker wees om nié die toestand te hê nie, maar daar is mense wat erger siektetoestande as ek het.

Toe hy op laerskool was, het sy toestand hom verhoed om aan sport deel te neem omdat hy vir lang tye siek geraak het.

“Dit was nogal erg. Ek kán dinge doen wat ander mense doen, maar as ek iets soos ’n verkoue kry, mag ek nie fietsry of enige sport doen nie. Dit is om te verseker dat ek heeltemal herstel.

“Ek het in gr. 9 die helfte van ’n skoolkwartaal gemis omdat ek siek geraak het. Ek het ook al ’n paar keer Duitse masels en breinvliesontsteking gehad,” sê Morné.

Maar hy het geleer hoe om met die toestand saam te leef en te verhoed dat dit ’n groot invloed op sy lewe het.

“Dit sal lekker wees om nié die toestand te hê nie, maar daar is mense wat erger siektetoestande as ek het. Ek het daarmee grootgeword en ek is al gewoond daaraan om elke maand vir behandeling te gaan,” voeg hy by.

Ten spyte van sy toestand het hy gister matriek met ’n universiteitsvrystelling geslaag.

Dit was aanvanklik lekker om tuisonderrig te ontvang, sê Morné, maar dit het later eensaam en uitdagend geword.

“Die eerste week was dit lekker om later te kon slaap as die res van my klasmaats, maar dit het later eensaam geword omdat ek altyd pouses saam met my vriende deurgebring het. Ek sou baie graag wou skool toe gaan,” voeg hy by.

“Omdat ek eers in die middag my skoolwerk gekry het, het dit ongerieflik geraak, want ek moes in die middae die werk doen. Maar gelukkig het ek my tyd so bestuur dat ek deur al die werk kon gaan.”

Om te verseker dat hy nie enige infeksies opdoen nie, moes Morné ’n groot wit beskermende pak dra. Vir hom was die “groot wit ding” baie ongemaklik.

“Ek moes dit dra elke keer wanneer ek ’n toets gaan skryf het by die skool. Dit het my so laat uitstaan tussen almal, dit het gevoel almal kyk vir my,” lag hy.

Hy gaan vanjaar finansiële rekeningkunde aan CTU in Potchefstroom studeer.

Meer oor:  Matriek2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.