Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Onderrig agter tralies verander Lwazi se lewe
Lwazi Chamane (24) van die Usethubeni Youth School in Durban, KwaZulu-Natal, is Donderdag as die land se topmatrikulant in die kategorie vir gevangenisse aangewys. Regs sit Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste. Foto: Verskaf

Om hom vir sy matriekeindeksamen agter tralies voor te berei was ’n groot uitdaging, maar hy het nou die vrugte daarvan gepluk.

Lwazi Chamane (24) van die Usethubeni Youth School in Durban, KwaZulu-Natal, is Donderdag op ’n spoggeleentheid in die Leeuwkop-gevangenis in Johannesburg onder luide toejuiging as die land se topmatrikulant in die kategorie vir gevangenisse vereer.

“Dit was veral moeilik wanneer die ligte saans in die tronk afgeskakel word. Ons moes saans tot baie laat studeer om ’n sukses van ons studies te maak,” het Chamane ná afloop van die ontvangs van sy toekenning gesê

Hy het vier onderskeidings – in Zoeloe, lewensoriëntering, geskiedenis en toerisme – en ’n gemiddelde van 80,6% behaal.

Chamane het gesê hy het nooit verwag dat hy die land se beste presteerder in dié kategorie sou wees nie.

Ek kan dalk my eerstejaar misloop. Ek het ook nie die geld om daarvoor te betaal nie.

“Ek het nie regtig goed presteer nie. Maar toe die eksamen aanbreek, het my onderwysers vir my gesê hulle glo in my en dat ek die toppresteerder kan wees. Dit het die wêreld vir my beteken en dit het my gemotiveer om my bes in die eksamen te doen. Ek is al my onderwysers ewig dankbaar vir hul vertroue in my.”

Hy het gesê die onderrig wat hy in die tronk ontvang het, het sy lewe verander. “Ek vra gemeenskappe om nie op my of ander gevangenes wat op parool is neer te kyk nie omdat ons verander het.”

Chamane is in 2017 tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis weens roof, maar hy is sedert 30 Desember 2020 op parool. “Ek sal nie weer aan misdaad deelneem nie,” het hy belowe.

Hy het slegs gr. 10 agter sy naam gehad toe hy toegesluit is.

Wat die toekoms vir hom inhou, is steeds onduidelik, en hy het hom nog nie by enige universiteit vir verdere studie ingeskryf nie. “Ek kan dalk my eerstejaar misloop. Ek het ook nie die geld om daarvoor te betaal nie.”

Lwazi Chamane (links) van die Usethubeni Youth School in Durban, KwaZulu-Natal, nadat hy sy toekenning van Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, ontvang het. Foto: Verskaf

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het op die geleentheid onder groot opgewondenheid aangekondig dat die nasionale slaagpersentasie vir voltydse studente in gevangenisse 86,3% is. Met deeltydse studente bygereken, staan die slaagsyfer op 81,3%. Dit is hoër as die nasionale slaagpersentasie van 76,2%.

Die 86,3%-slaagpersentasie is 3,7 persentasie punte hoër as 2019 se 82,6%. Altesaam 160 gevangenes het die matriekeindeksamen in 2020 afgelê.

“Dié prestasie dien as getuienis van die reis wat die departement van korrektiewe dienste onderneem om gevangenes te rehabiliteer. Ons is tevrede met die resultate,” het Lamola gesê.

Hy het daarop gewys dat die koronaviruspandemie ’n groot effek op leerlinge gehad het. “Hulle kon ook nie toe klas bywoon nie. Hulle moes in hul selle met die hulp van aanlyn klasse sit en leer.”

Matrikulante in gevangenisse het altesame 76 onderskeidings behaal en 78 gevangenes het met universiteitsvrystelling geslaag.

Lamola het ’n beroep gedoen op dié studente om aansoek te doen vir beurse en hul studies voort te sit. “Ons betaal nie vir ’n gevangene om te studeer nie. Hul families moet daarvoor betaal of hulle doen aansoek vir beurse.”

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het op die geleentheid gesê hy is trots op wat die matrikulante in die gevangenisse vermag het. “Dit wys dat onderrig enige plek kan plaasvind. Onderrig is die sleutel om jou lewe te verander. Ons hoop dat hierdie matrikulante en gevangenes ’n tweede kans in die samelewing sal kry.”

Meer oor:  Onderskeidings  |  Matriek  |  Matriekresultate  |  Gevangene
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.