Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Sterkte, matrieks! Eksamen begin vir meeste landwyd

Penne gereed? Gaan! Die Nasionale Senior Sertifikaat- (NSS) eksamen begin vandag vir die meeste matrieks landwyd met die skryf van die Engels-vraestel.

Matrieks skryf om 09:00 Engels huistaal, Engels eerste addisionele taal of Engels tweede addisionele taal.

Verskeie ander taalvakke word om 14:00 geskryf.

Vir die volgende vier weke sal altesaam 790 617 kandidate hul eindeksamen aflê.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sê sy en haar span is slaggereed vir die eksamen om te begin.

“Ons rekenaarstelsel is getoets en alle stelseladministrateurs is opgelei en ontplooi. Die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding (Umalusi) het ook reeds al ons stelsel gesien en goedgekeur,” sê Motshekga.

“Eskom het bevestig dat kragonderbrekings nie gedurende die matriekeindeksamen sal plaasvind nie en sou dit gebeur, sal dit minimaal wees."

Kommer hieroor het ontstaan nadat die praktiese gedeelte van die eksamen, wat op 15 November begin het, deur kragonderbrekings ontwrig is.

Altesaam 790 617 kandidate sal Woensdag soos dié matrikulante in 7 416 eksamenlokale oor die land heen vir hul eindeksamen bymekaar kom. Foto: Argief

Skole en sentrums oor die land heen het ook reeds voorbereidings vir die eksamen getref.

Marna Jordaan, skoolhoof by die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, is van mening dat die eindeksamen nog groot waarde dra vir leerlinge in Suid-Afrika.

“Dit is belangrik om te onthou dat die eksamen die sleutel is tot verdere onderwys en opleiding. Dit is vir ons as skoolhoofde die heel belangrikste om ons kinders positief te hou, veral as ons kyk na die groot uittog uit die land,” sê Jordaan, wat 39 jaar se ervaring in die onderwys het.

Sy sê dit is ook belangrik om te besef dat alle kinders nie noodwendig onderskeidingskandidate is nie.

“Jy moet jou eie doelwitte stel. ’n Kind wat hul hele skoolloopbaan ’n gemiddeld van 55% kry en dan 60% in die eindeksamen behaal, is vir my net so belangrik soos ’n kind wat sewe A’s kry,” sê Jordaan.

Stres tydens die eksamentyd spruit nie net uit die werk wat geleer moet word of die skryf van die eksamen nie, maar ook uit onsekerhede oor uitslae en die gevolge wat dit kan dra.

Raad vir ouers en leerlinge

“Stres tydens die eksamentyd spruit nie net uit die werk wat geleer moet word of die skryf van die eksamen nie, maar ook uit onsekerhede oor uitslae en die gevolge wat dit kan dra,” sê Megan Hosking, ’n maatskaplike werker en klinikus in die inname van psigiatriese pasiënte by Akeso- psigiatriese hospitale.

Sy glo dat hoë stresvlakke beheer kan word deur jouself genoeg kans te gee om vir ’n vak voor te berei.

“Dit is net so belangrik om genoeg tyd af te staan aan rus en ontspanning in die aanloop tot die eksamen. Om tyd te maak vir aktiwiteite waarvan jy hou, kan jou help om gesonde perspektief te behou,” sê Hosking.

Sy stel ook aktiwiteite soos joga, stap of gim voor om jou stresvlakke te verlaag.

Jordaan stem met haar saam en sê dat matrikulante kalm moet bly, maak nie saak hoe erg hul senuwees knaag nie.

“Dit is ook belangrik om nie nou jou eie kop te volg nie en by dit te hou wat jou onderwyser jou geleer het. Tydbestuur is baie belangrik – dit wat jy insit, sal jy op die ou einde van die dag uitkry,” sê Jordaan.

Dit kan ook ’n stresvolle tyd vir ouers en voogde wees, sê Hosking.

“Hoewel dit verstaanbaar is dat ouers hul kinders wil motiveer om op die bes moontlike manier vir ’n eksamen voor te berei, kan dit te veel klem lê op die belangrikheid van ’n eksamen wat tot angs kan lei,” sê Hosking.

Sy stel voor dat ouers en voogde hul kinders daaraan moet herinner dat die eksamen net ’n klein gedeelte van hul opvoeding is en dat uitslae nie die enigste ding is wat saak maak nie.

Jordaan moedig ouers ook aan om hul kinders kalm te hou in hierdie tyd.

Kenners meen matrikulante moet ook tyd inruim vir ontspanning tydens die eindeksamen. Foto: Argief

Eksamenreëls

In die aanloop tot die eindeksamen het elke kandidaat ’n dokument onderteken wat hulle tot die eksamenreëls van die departement van onderwys bind. Word dit verbreek, kan kandidate se uitslae ongeldig verklaar word. ’n Kandidaat kan ook vir een tot drie jaar verbied word om die eksamen te voltooi of selfs strafregtelik vervolg word. Die reëls sluit die volgende in:

* Matrikulante moet ten minste ’n halfuur voor die aanvang van die vraestel by die eksamenlokaal aanmeld. Sou ’n matrikulant later as ’n uur nadat die eksamen begin het, opdaag, word hulle nie toegelaat om die eksamen af te lê nie. Geen ekstra tyd sal aan iemand gegee word wat laat opdaag nie.

* Geen ongematigde voorwerpe word in die lokaal toegelaat nie, byvoorbeeld notas, selfone en enige ander elektroniese voorwerpe.

* Geen persoon mag by ’n ander kandidaat afskryf of toelaat dat ’n kandidaat by hom/haar afskryf nie. ’n Kandidaat mag ook nie antwoorde by die eksamenkoördineerder of toesighouer kry nie.

* ’n Kandidaat mag nie bladsye uit die antwoordboek skeur of enige ander skade daaraan doen nie. Rofwerk moet in potlood gedoen word. Daarna moet daar met pen ’n streep deur die werk getrek word en die woord “rofwerk” moet bo-oor geskryf word.

* Moenie die verkeerde eksamennommer op die antwoordboek skryf nie.

* Die antwoordboek en alle los bladsye moet aan die einde van die eksamen aan die toesighouer oorhandig word.

* ’n Kandidaat mag nie onder die invloed van alkohol, dwelms of enige ander onwettige middel wees nie.

* Enige vorm van intimidasie sal nie geduld word nie.

* ’n Kandidaat mag nie vooraf die vraestel by ’n ander bron kry voordat die vraestel geskryf word nie. ’n Kandidaat sal ook skuldig wees as hulle die vraestel vooraf op enige manier aan ander partye versprei. Sou ’n kandidaat versuim om die uitgelekte vraestel aan te meld, kan hulle ook skuldig bevind word.

* ’n Vraestel mag slegs in die eksamenlokaal geskryf word.

* Die eksamentoesighouer moet voor elke vraestel die spesifikasies van die vraestel bevestig, byvoorbeeld die vak, die hoeveelheid bladsye en die tydsduur van die vraestel.

* ’n Kandidaat sal slegs toegelaat word om die eksamen te skryf as hulle vooraf geregistreer het.

* Geen ontwrigtings van kandidate sal geduld word nie.

Meer oor:  Matriekeksamen  |  Eksamen  |  Matriek  |  Onderwys  |  Matrikulante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.