Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Selfs met verlies van haar ma gee Saadiqah nooit op

’n Voormalige matriekleerling aan die Bishop Lavis High School in Kaapstad moes midde-in haar eindeksamen steeds gefokus bly ná haar ma se dood.

Vir die 19-jarige Saadiqah Hendricks was haar ma, Rachmat (50), se dood einde verlede jaar baie onverwags. Sy het asma gehad en is oorlede nadat sy ’n ruk siek was.

Saadiqah Hendricks (19) van Bishop Lavis het kort voor die einde van haar eindeksamen haar ma verloor. Sy het tog steeds haar beste gegee vir die eksamen.

Volgens Saadiqah het haar ma se dood ’n groot impak op haar en haar familie gehad – emosioneel en geldelik.

“Dit was geldelik vir ons baie moeilik. Die hele chaos met Covid-19 het ook nie gehelp nie. Ná haar afsterwe moes ek en my broers en susters rolle vertolk wat ons nog nooit voorheen gedoen het nie. Ons moes as gesin saamwerk en mekaar ondersteun,” sê sy.

“Haar dood het ons as gesin wel nader aan mekaar gebring en ons het beter begrip vir mekaar gekry. My ma het my en my broers en susters grootgemaak om sterk te wees en ek weet sy glimlag van bo af vir ons.”

Sy sê hoewel dit moeilik was om van haar ma afskeid te neem, het sy vrede gemaak met die feit dat sy nie meer daar gaan wees vir haar nie.

“Jy is nooit voorbereid op ’n geliefde se dood nie, maar terwyl ons gewag het op die ambulans en ek haar hand vasgehou het, het ek vrede gemaak met haar dood. Al wat ek daarna kon doen, was om my familie by te staan en te troos.”

Saadiqah kon gelukkig op haar familie en vriende, asook die gemeenskap steun vir ondersteuning in dié moeilike tyd.

Jy is nooit voorbereid op ’n geliefde se dood nie, maar terwyl ons gewag het op die ambulans en ek haar hand vasgehou het, het ek vrede gemaak met haar dood
Saadiqah Hendricks

“My familie het ’n punt daarvan gemaak om my te vra hoe dit met my gaan en of hulle my met iets kan help. My vriende het altyd verstaan as ek planne met hulle moes kanselleer. Die mense in my gemeenskap het my ook regtig verbaas omdat lede wat ek nie eens geken het nie, my aangemoedig het om vas te byt,” sê sy.

“My grootste ondersteuner was my suster Amiena. As dit nie vir haar was nie, dink ek sou ek ineengestort het.”

Saadiqah sê sy gaan haar ma verskriklik mis, veral haar groot persoonlikheid.

“Dit is iets wat ek hopelik by haar geërf het,” sê sy skertsend.

Ten spyte daarvan dat haar ma se dood ook haar eindeksamen beïnvloed­ het, het sy positief gebly oor haar uitslae.

“Dit was moeilik vir my om 100% te gee, maar ek het hard geleer en alles ingesit. Ek sien uit na wat die toekoms vir my inhou,” sê sy.

Saadiqah, wat verlede jaar hoofmeisie was, het gister matriek met twee A’s geslaag.

Saadiqah gaan haar vanjaar by die Universiteit van Wes-Kaapland aansluit om BCom te studeer. Sy wil graag eendag vir ’n groot maatskappy werk as hoof van bemarking.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.