Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Siggestremdheid hou glad nie vir Hybré-Ann terug

‘Wanneer struikelblokke voor jou in die lewe staan, word die uitkoms daarvan eintlik bepaal deur ’n mens se ingesteldheid teenoor dit wat jou konfronteer.”

So sê die 18-jarige Hybré-Ann Hefke, oudleerling aan die Hoërskool Oudtshoorn, wat aan keratokonus ly – ’n oogsiekte wat veroorsaak dat die kornea verdun en dan keëlvormig uitstulp, wat sig verswak.

“Ek dink nooit aan my sigprobleem as ’n gestremdheid nie. Vir my was dit maar altyd net ’n ongerief. Ek het steeds bly hard werk aan my akademie en altyd net my bes gegee tot waartoe ek in staat is. Ondersteuning van my ouers, onderwysers en vriende het dit ook makliker gemaak,” sê sy.

Hybré-Ann vertel haar sig het in haar gr. 7-jaar begin agteruitgaan, soveel so dat sy net 50% sig in haar regteroog gehad het en 10% in haar linkeroog. Teen die tyd toe sy gr. 9 bereik, het haar sig nog meer verswak. Sy het vir ’n oogtoets gegaan met die verwagting dat sy bloot net ’n bril sou ontvang. Dis toe dat haar oogkundige haar meedeel dat sy keratokonus het.

Hybré-Ann Hefke het ten spyte van haar siggestremdheid steeds akademies presteer, asook aan sport deelgeneem.Foto: VERSKAF

“My sig het so verswak dat ek begin sukkel het met my nabysig. Dit het ietwat van ’n probleem geword. Ek kon byvoorbeeld nie fyn skrif en nabye voorwerpe duidelik genoeg waarneem nie. Ten spyte van my sig se agteruitgang kon ek steeds my laerskoolloopbaan as die dux-leerling van die Laerskool Laurus afsluit,” sê sy.

Simptome van keratokonus sluit in dowwe sig en sensitiwiteit teenoor lig en glans. Die simptome verskyn egter eers gedurende puberteit of die laat tienerjare en kan wel behandel word.

Lang pad om sig te verbeter

’n Persoon met dié probleem se sig kan beter word deur die dra van ’n bril of kontaklense en met ver gevorderde gevalle word ’n korneaoorplanting vereis.

Sedert die dag van haar diagnose moes sy talle besoeke aan verskeie hospitale aflê en as gevolg hiervan het sy baie skooldae gemis en moes natuurlik al daardie dae se skoolwerk weer opvang.

“Dit was nie ideaal nie, veral nie voor ’n toetsreeks of eksamen nie. Ek moes aanpassings maak om dinge vir myself te vergemaklik. My sigprobleem het meer inspanning van my geverg om net ’n gewone skooldag deur te gaan,” vertel sy.

“Ek moes soggens vroeër opstaan sodat ek genoeg tyd kon hê om my lense deeglik te installeer. Om te voorkom dat ek laataande met skoolwerk sit, moes ek sorg dat ek my huiswerk of studiesessies so vroeg as moontlik ná skool voltooi.”

Hybré-Ann het die jaar ná haar diag­nose ’n kruisverbinding-operasie ondergaan om die sig in haar regteroog te verbeter. In die prosedure wat sy ondergaan het, word die kornea se weefsel versterk met ’n spesifieke vitamien B-druppel en ’n UV-lig.

“Die doelwit daarvan is om te voorkom dat die kornea nog meer na buite bult. Tot dusver het ek net een prosedure ondergaan.”

Sy dra tans sklerale kontaklense, ’n groot kontaklens wat op die sklera rus en ’n skeurgevulde gewelf oor die kornea skep. Dit het haar sig baie verbeter. Die beste sig wat sy in 2019 met die kontaklense kon kry, was 95% sig in die regteroog en 60% in die linkeroog.

Hoewel dié kontaklense Hybré-Ann se sig verbeter het, verg dit noukeurige sorg.

“Ek moet altyd my nodige toerusting saam met my dra sodat ek die lense kan uithaal indien daar enigiets sou gebeur, soos byvoorbeeld as stofdeeltjies daarop beland wanneer die wind waai. Wanneer ek die lense dra, mag ek nie te na aan vuur kom nie. Ek kan ook nie die huis sonder ’n sonbril verlaat nie en ek moet ekstra versigtig wees wanneer ek die pad oorsteek,” sê sy.

Ek dink nooit aan my sigprobleem as ’n gestremdheid nie. Vir my was dit maar altyd net ’n ongerief. Ek het steeds bly hard werk aan my akademie en altyd net my bes gegee tot waartoe ek in staat is.
Hybré-Ann Hefke
Sy word nooit gestuit

Hybré-Ann het egter nie toegelaat dat siggestremdheid haar onderkry nie en voortgegaan met haar sport en dans. Sy is sedert haar laerskooldae ’n kranige netbalspeler en het in gr. 8 voltyds haar aandag aan dans gegee. In gr. 9 het sy die geleentheid gehad om deel te neem aan ’n uitvoerende kunstekompetisie in Los Angeles.

Sy moes egter in gr. 10 alle fisieke aktiwiteite staak weens haar hospitaalbesoeke. Hybré-Ann kon egter nie veel langer stilsit nie en het in haar gr. 11-jaar begin netbal speel.

“Ek het my bes op die baan gegee en dit geniet om weer aan dié spansport deel te neem. Ek moes net twee keer harder werk as ek per ongeluk vir die opponent gegooi het. Gelukkig is ek nog steeds rats,” skerts sy.

Hoekom die Hoërskool Oudtshoorn en nie die Pionierskool in Worcester wat ingerig is vir mense met ’n siggestremdheid nie?

“My ingesteldheid was om liewer aanpassings in my leefstyl te maak sodat ek so normaal as moontlik met my lewe kan voortgaan.

“Vandag kan ek terugkyk en is ek nie spyt oor my keuse nie. Ek voel dat ten spyte van my siggestremdheid ek by die Hoërskool Oudtshoorn ’n baie meer gebalanseerde en normale skooljaar soos al my maats beleef het,” sê sy.

“Ek is toegelaat om in al my klasse heel voor te sit sodat ek ’n goeie uitsig van die bord kon hê. Diegene by wie ek klas ontvang het, het altyd my werk vergroot deur ’n groter font te gebruik. Dieselfde is met my toetse en eksamens gedoen.

“Ek moes ook aansoek by die onderwysdepartement doen vir ekstra tyd gedurende my eksamen.”

Vir Hybré-Ann was die grootste uitdaging verlede jaar om gefokus en gemotiveerd te bly.

“Die onsekerheid rondom wanneer die skole weer sou heropen, die nuwe voorsorgmaatreëls wat nagekom moet word om die verspreiding van die virus te voorkom en boonop die instelling van tuisonderrig het ook ’n bydrae gelewer tot my gebrek aan motivering vir die oorblywende matriekjaar.

“Dit was moeilik om in ’n gesonde roetine van my eie te kom, maar daar was geen ander uitweg as om aan te pas nie,” voeg sy by.

Hybré-Ann het gister matriek met drie A’s geslaag.

Sy sê gaan vanjaar regte studeer aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth.

“Ek wil my in die regte gaan bekwaam omdat ek baie sterk redenaarsvermoë het en logiese denke een van my sterk punte is. Ek sal graag ander wil help sodat geregtigheid kan seëvier.”

Sy sien uit na die nuwe fase van haar lewe en die uitdaging van ’n meer onafhanklik lewe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.