Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Tuis in W-Kaap ná hy Afrikaans moes aanleer

Vir Casper Mkatywa (19) was dit vreemd om van Mpumalanga na Klawer in die Wes-Kaap te verhuis, maar dit was veral ’n aanpassing om na ’n Afrikaanse skool en gemeenskap te gaan terwyl sy moedertaal Xhosa is.

“Ek was hartseer toe ek moes wegtrek van my vriende en familie, want ek was maar agt jaar oud. Ná twee jaar het ek egter begin tuis voel en nou is Klawer my huis. Ek kan amper nie dink hoe anders my lewe sou wees as ons nie getrek het nie,” sê hy.

Casper het as Xhosa-sprekende op agtjarige ouderdom na Klawer verhuis waar hy dadelik moes leer om Afrikaans te praat en skryf.Foto: VERSKAF

Casper se ma en pa is uitmekaar en daarna het hulle verhuis van Nelspruit na Klawer, waar sy ouma en oupa gewoon het. Hy sê sy oupa het toe die rol van sy pa ingeneem en stadig maar seker het hy begin aanpas in sy nuwe omgewing.

Met die Laerskool Klawer as sy naaste skool, moes hy vinnig leer om Afrikaans te praat en skryf.

“Toe ek eers die taal geleer het, toe raak alles baie beter. Almal het ingespring om te help – selfs die buurman het my gehelp met huiswerk.”

Deur vas te byt en met hulp het hy dit reggekry om Afrikaans onder die knie te kry en boonop goed te presteer. Hy het pas aan die Hoërskool Vredendal gematrikuleer met twee A’s en universiteitsvrystelling.

“Gelukkig is ek een van daardie mense wat baie vinnig ’n nuwe taal kan aanleer. Ek het nou Xhosa, Afrikaans, Engels en Sotho onder die knie én ek kan ’n bietjie Zoeloe ook praat,” sê hy trots.

Oor die aanpassing by die nuwe skool, sê hy dit was sy vriende en onderwysers se ondersteuning en hulp wat dit moontlik gemaak het.

“Die onderwysers het veral baie gehelp met ekstra klasse en om die klas lekker te maak vir my.

“Ek het net besluit dat ek nie gaan toelaat dat daar situasies is wat my skoolwerk beïnvloed nie. Ek gaan nie dat die verlede en alles wat met my gebeur het, my studies en toekoms affekteer nie.”

Sy ma het haar hande vol gehad om skielik as ’n enkelouer twee seuns groot te maak (sy jonger broer is nou 14 jaar oud), maar hy sê hy het altyd probeer om haar soveel as moontlik te help.

“Vakansies het ek soms gewerk om geld te maak en my ma finansieel te help. Gelukkig was my ouma en oupa ook daar om ons altyd by te staan en uit te help,” sê hy.

Casper wil beslis vanjaar verder studeer, maar hy wag nog vir ’n beurs en aanvaarding by ’n instansie.

“Ek wil eendag ’n rekenmeester word, so hopelik kan ek vanjaar reeds begin om dit te studeer.”

Meer oor:  Hoërskool Vredendal  |  Matriek2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.