Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Verlies van oupa stuit nie haar sukses

Nooit het sy gedink dat sy ten tyde van haar eindeksamen haar oupa sou verloor nie, maar Emily Snyers (18), voormalige matriekleerling aan die Hoërskool Jan van Riebeeck, sê ten spyte daarvan het sy probeer positief bly en haar alles gegee.

“Dit was ’n groot skok en het my hard getref. Ek het nie geweet watter kant toe nie. Ek moes my hartseer en emosies eenkant skuif en op my eksamen fokus.”

Emily sê haar oupa Piet Snyers (69) se dood het haar hard getref. Soveel so dat dit moeilik was vir haar om op haar eindeksamen te fokus.

Sy moes op dieselfde dag van sy dood gaan eksamen skryf.

Emily Snyers. Sy sê ten spyte van die moeilike tyd wat sy die laaste paar maande ervaar het, hou sy haar kop omhoog en sien uit na die toekoms.

“Daar was nie tyd om te rou of hartseer te wees nie, want ek moes aan my eksamen dink. Dit is wat die eksamen nog moeiliker vir my gemaak het. Ek het wel positief probeer bly en my beste gegee,” sê sy.

Emily, wat in Manenberg woon, voeg by sy weet nie wat sy sonder haar oupa gaan doen nie.

“Hy het ’n groot rol in my lewe gespeel; hy was my held. Hy was altyd daar as ek advies nodig gehad nie. Waarheen gaan ek nou as ek ’n vraag of hulp nodig het?” wil sy weet.

Sy sê sy word nog baie hartseer wanneer sy met haar ouers oor hom gesels.

“Dit is nog moeilik vir ons om oor hom te praat en ek kan sien my familie word hartseer. Ek wil nie enigiemand hartseer sien nie. Ek probeer ook om nie so baie oor hom te praat nie, want dan kom al die emosies terug.”

Sy sê buiten haar oupa se dood, was verlede jaar ook geldelik ’n bitter moeilike jaar vir haar hele gesin.

Emily se pa, Edwin, kon nie ten tyde van die heel eerste inperking werk nie en hulle moes oor die weg kom met net haar ma, Eva, wat ’n dagmoeder is, se salaris.

“Dit het groot druk op ons geldelike situasie by die huis geplaas. Die geld wat my ma as dagmoeder verdien, is nie so baie nie, so dit was baie moeilik vir ons.”

Sy sê gelukkig was daar ’n lig aan die einde van die tonnel toe haar pa, ’n opsigter by woonstelle, net voordat die skole hul deure geopen het weer kon terugkeer werk toe.

“Ek was baie verlig, want dit het beteken dat ons nie van net een salaris afhanklik hoef te wees nie,” sê sy met ’n glimlag.

Sy voeg by die grootste struikelblok vir haar ten tyde van die inperking was om die skoolwerk te doen wat aan haar gestuur is.

“Dit was moeilik vir my omdat ons nie altyd goeie sein by die huis het nie. Dit het ’n groot invloed gehad op die werk wat ek moes kry en doen. Ek moes na my ouma se huis gaan vir beter sein. Ek het die skool oor my situasie ingelig en hulle het gesê dis oukei, ek moet net die werk doen wat ek kan.”

Wat Emily die meeste van haar matriekjaar gemis het, is die samesyn op sportbyeenkomste.

“Ek het dit so gemis om saam met vriende te kuier en saam met hulle die vreugde en teleurstelling van ’n wen of verloor te kon deurmaak,” sê sy.

Emily is nog nie seker wat presies sy wil doen nie, maar sy het twee opsies – om ’n kleuterskoolonderwyseres te word of ’n polisiebeampte. Sy het gister matriek met ’n universiteitsvrystelling geslaag. “Ek gaan vanjaar eers ’n oorbruggingsjaar neem om te besluit wat presies ek wil doen, maar intussen gaan ek werk om geld te spaar vir my studies.”

Emily sien uit na wat vir haar voorlê ná matriek en wil elke geleentheid aangryp wat na haar kant toe kom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.