Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Vol lewe danksy ondersteuning

Vir Herman Theart (19) van die Hoërskool DF Malan het dit nooit gevoel of hy enige gebreke het nie.

Inteendeel, in sy kop is hy normaal en lewe presies so.

Herman Theart en sy familie sê hulle sou dit nooit deur sy skoolloopbaan gemaak het as dit nie was vir die hulp en steun van die Hoërskool DF Malan nie. Foto: SUZAAN POTGIETER

Hierdie gewese leerling het gister matriek geslaag met twee A’s en universiteitsvrystelling danksy ’n ondersteuningstelsel, veral van sy skool, wat dit nie net moontlik gemaak het nie, maar ook heelwat makliker.

“By DF het my pelle my ondersteun en dit was ’n wonderlike ondervinding. En die juffrouens en menere, sjoe, hulle was awesome, moet ek sê.”

Herman se storie is een vol inspirasie. As tweejarige was hy in ’n ernstige motorongeluk waarna hy vir 14 dae in ’n koma was met ’n breinstam-besering en regter-hemiplegie (eensydige verlamming). Ná die besering kon hy nie loop, praat of beweeg nie en moes onder meer intensiewe fisioterapie, arbeids- en spraakterapie ondergaan. Hy moes van voor leer loop en praat.

Weens die besering was die linkerkant van sy gesig onder meer verlam met 95% inperking van die regteroog en -oor se funksie.

Die breinstam-besering het ook ’n bewing in sy linkerhand, wat sy gesonde hand is, veroorsaak en hy het ’n vertraging van groei aan die regterkant van sy lyf gehad en dit het gelei tot ’n verkorte been- en armlengte. Volgens die neurochirurg sou sy breinstam-besering tot beperkte wiskundevermoë lei en hy sou sukkel met die formulering van sinne.

DF was eerste keuse

“Ná die ongeluk het ons nie geweet of hy ooit skool kan gaan nie,” vertel sy ma, Antonette.

Herman (derde van links), saam met sy familie, van links is sy ma, Antonette, sy jonger suster, Monja, sy pa, MC, en die Hoërskool DF Malan se skoolhoof, Sias Conradie.Foto: VERSKAF

Tog het Herman besluit hy gaan eendag aansluit by DF Malan en het in geen ander skool belang gestel nie, want dit is waarna sy vriende gaan. In 2016 het hy sy hoërskoolloopbaan daar begin.

Sy ouers was skepties toe hy dit die eerste keer noem, want hulle was nie seker of die skool ingerig sal wees vir iemand met sy behoeftes nie.

“Van buite af het dit gelyk of die skool baie op akademie fokus en ons was bang dat Herman nie sou kan aanpas of bybly nie,” sê MC, sy pa.

Hulle het ’n voorligter gaan sien en sy het skole vir kinders met gestremdhede voorgestel. Toe is MC na die WKOD om te hoor watter opsies daar is. Hulle het ’n lys gegee met onder meer DF Malan se naam op en toe gaan hy daarheen “sodat die hoof vir my ‘nee’ kan sê”. Hulle was bekommerd daaroor om hul seun na ’n hoofstroomskool te stuur.

“Ek wil darem alles probeer om vir Herman te sê ek het probeer.”

Nadat hy met die hoof en van die personeel gepraat en ’n “ja” gekry en ook vir Herman soontoe gevat het om almal te ontmoet, kon hulle nie anders as om hul seun soontoe te stuur nie. Dis iets wat hulle as die beste besluit beskryf.

“DF Malan is ongelooflik! Hulle stap daardie ekstra myl en hulle het ’n geskiedenis om die ekstra tree te gee om kinders te help. Boonop is die skool so inklusief. Jy hoef nie spesifiek goed te wees in rugby of akademie nie; daar is ’n plekkie vir almal,” sê MC.

Al drie van hulle is dit eens dat DF Malan die hoogste lof moet ontvang, want hulle het die hele proses vergemaklik en uit hul pad gegaan om vir Herman te help.

“Herrie hou van ondersteun. Sy bloed is beslis blou! As daar iets by die skool is, wou Herrie altyd gaan om sy vriende te ondersteun,” vertel sy ma.

“Ek is veral lief vir interskole aan die einde van die jaar. Ek het altyd beweeg tussen items om almal te ondersteun,” vertel Herman, want dit was vir hom lekker om sy vriende te ondersteun.

Sy ouers vertel al laggende hoe hulle Saterdae vroeg moes skool toe gaan, want Herman wou sy vriende gaan ondersteun.

“Dit gaan nie oor wen of verloor nie, maar oor deelneem,” is Herman se motto.

As ’n regte sosiale vlinder was die lekkerste deel van skool vir hom sy vriende. Hy het selfs sy klasse en akademie ook geniet, veral oor hy so hard moes werk en ekstra moeite moes insit.

Sukses danksy al die hulp

Buiten al die hulp en ondersteuning van die skool, was daar ander wat dit moontlik gemaak het dat Herman skool kon voltooi.

In gr. 3 het hy met deeltydse fasilitering begin om hom te help met klas en studies en in gr. 6 het dit heeltyds begin.

Die feit dat hy ’n fasiliteerder gehad het, het hom nie eens gepla nie. “Dit was nie so erg nie. Dit was soos ’n deel van my en sy was daar om my te help. Die fasilitering het baie gehelp, veral met klasse en skryf,” sê Herman.

Die fasiliteerder het gehelp om notas te neem sodat hy dit kon oorskryf, want hy het te stadig geskryf om dit van die bord te skryf.

Sy was ook daar om seker te maak alles is reg wanneer hy klas wissel en dat alles uitgepak en gereed is sodat hy op klas kan fokus.

“Vir hom om te fokus en luister, veral met gehoorprobleme, was moeilik. So hy het ook EduLink gehad waar die onderwyser ’n monitor gedra het en hy beter na wat hulle sê, kon luister. Maar dit was altyd ’n uitdaging,” vertel Antonette.

Volgens haar het al die onderwysers ook ’n “oop-deur-beleid” gehad en hulle kon enige tyd vir navrae of hulp genader word.

“Die onderwysers sou ook af en toe ’n boodskap stuur om te vra of alles nog reg is. Ons het geweet ons kon met enige probleem na die skool draai vir hulp.”

’n Lewe vol passie

Herman het ’n ongelooflike liefde vir atletiek en vanjaar gaan hy steeds daarby betrokke wees. Hy het rugby ook gespeel, maar sy ouers het gesê dit is te rof.

By DF het my pelle my ondersteun en dit was ’n wonderlike ondervinding. En die juffrouens en menere, sjoe, hulle was awesome, moet ek sê.
Herman Theart

Nou floreer hy in atletiek. Vir diskus en gewigstoot het hy die afgelope vier jaar elke jaar Westelike Provinsie- én Wes-Kaapse kleure gekry vir gestremde atlete. Op die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap het hy ’n verskeidenheid medaljes verower (wat twee goues insluit) in diskus, gewigstoot en spiesgooi. Hy het verlede jaar weer vir die nasionale kampioenskap gekwalifiseer, maar dit is weens Covid-19 gekanselleer.

“Ek het gedink atletiek is iets wat ek wil toets en kyk of ek daarin kan vorder. Dit is baie lekkerder as rugby noudat ek dit doen.

“Dit was lekker om deel te wees van iets wat in die buitelug plaasvind,” sê hy.

Dit was veral ook vir hom lekker om aan iets deel te neem waar hy nie met normale kinders hoef mee te ding nie.

Herman oorweeg dit om ’n aanlyn sakekursus vir ’n jaar of twee te doen, maar hy wil steeds sy passie vir sport uitleef. Hy help reeds bietjie met die afrig van jonger gestremde atlete – iets wat hy in sy vrye tyd wil doen.

“Dit is Pa se droom om ’n onderneming saam met sy seun te hê, so hulle kyk daarna om te werk na daardie droom,” vertel Antonette met ’n glimlag.

“Daar word so min vir gestremde kinders gedoen en as jy nie geld het om op sulke kinders te spandeer nie, kry hulle nie die geleentheid om te presteer en te groei nie.

“Daar word so min gefokus in die land op gestremde kinders én daar is baie van hulle wat swaarkry en geen geleenthede ontvang nie,” sê MC.

Hulle is gelukkig om ’n seun te kon grootmaak wat die lewe vat soos dit kom en ongeag die uitdagings druk hy deur.

“Jy kan nie net opgee op die lewe nie, die lewe is te kort. Jy moet aangaan met dit en die beste daarvan maak – dit is wat ek elke dag vir myself in die skoolgange gesê het,” sê Herman.

Antonette en MC beskryf die ervaring om ’n kind soos Herman te hê as moeilik, want daar is nie boeke daarvoor nie, maar hulle tel daagliks hul seëninge, want daar is mense wat deur baie erger dinge gaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.