Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Waterkloof-matrikulant met lupus: Ek gáán nog my mooi rok dra

Haar matriekafskeidrok hang ongebruik in haar kas, maar sy is vasbeslote om dit te dra sodra die eksamen verby is.

Stefanie Delport spog met haar matriekafskeidrok. Sy kon dit egter nooit aantrek nie, maar het ’n blink plan met die rok wat haar gemotiveerd hou deur die eindeksamen. Foto: Verskaf

Lupus is kort voor die skool se matriekafskeid op 4 Oktober by Stefanie Delport (18) van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria gediagnoseer.

Dis ’n siekte waar die immuunstelsel die liggaam se eie weefsel en organe aanval.

Sedert einde gr. 11 het Stefanie gereeld hoofpyn, naarheid en diarree gehad. Aanvanklik het haar dokter gedink dit is stresverwante simptome.

In September het sy weer siek geword en is onmiddellik in die Unitas-hospitaal opgeneem. Haar bloeddruk was in daardie stadium verskriklik hoog en haar toestand het vinnig vererger.

“My toestand was kritiek en dokters het hartversaking, nierversaking, swelling op my brein en vog op my longe gediagnoseer. Ek is aan verskeie toetse en skanderings onderwerp om te probeer vasstel wat my so siek gemaak het.”

Ná die diagnose het haar behandeling begin. Sy het dialise en binneaarse chemoterapie ontvang en moet steeds elke tweede Sondag chemoterapie kry. Sy wil eendag ’n grafiese ontwerper word, maar in 2020 skuif sy die boeke opsy totdat haar behandeling klaar is. Vir nou geniet haar matriekeksamen voorrang.

Stefanie sê haar ouers, Jaco Delport en Gisela Gouws, het gevra of sy wil voortgaan met haar eksamen, en sy het met selfvertroue geantwoord, “Ek moet hierdie eksamen skryf.”

Sy het baie van haar eksamenvraestelle met hoofpyn en maagsere geskryf, maar sy het verbete aanhou veg. Tydens haar eerste Engels vraestel op 23 Oktober het sy opgegooi, maar sy moes aanhou. Sy kon haar eksamen in ’n aparte lokaal skryf. Sy skryf Dinsdag haar laaste vraestel, Engels vraestel 3.

En dán beplan sy om haar ligblou sprokiesrok aan te trek vir ’n fotosessie saam met haar skoolmaats om op te maak vir die matriekafskeid wat sy nie kon bywoon nie.

Stefanie Delport (18) laat haar nie deur die siekte lupus onderkry nie. Foto: Verskaf
Meer oor:  Hoërskool Waterkloof  |  Matrikulant  |  Pretoria  |  Matriekafskeid  |  Eksamen  |  Lupus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.