Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Inspirasie
Wilskrag, harde werk kry vir Jamie oor die wenstreep
Jamie Siebeck in die sitkamer in hul huis in die Paarl. Oral teen die mure pryk foto’s van die familie wat baie geheg is aanmekaar en probeer sterk staan. Foto: SUZAAN POTGIETER

Op die ouderdom van drie is serebrale gestremdheid by Jamie Siebeck (18) gediagnoseer, maar danksy haar ouers en baie harde werk, kon sy na ’n hoofstroomskool gaan.

Jamie is reeds op 32 weke gebore en het maar 1,8 kg geweeg. Haar ma het gou agtergekom iets is nie pluis nie, want sy het nie soos haar vorige twee kinders op die regte tyd begin praat en loop nie.

Ná ’n besoek aan die dokter is haar ma se kommer bevestig toe Jamie as serebraal gestrem gediagnoseer is.

“My ouers het gelukkig vroeg agtergekom iets is fout en hulle het vir my die nodige hulp gekry.

“Ek het later wel geleer om te loop, maar ek sukkel steeds en dis nie altyd maklik om te loop nie,” sê sy.

Hulle het besluit om haar ’n jaar terug te hou en volgens hulle was dit die beste besluit, want hierna het sy gefloreer in ’n hoofstroomskool.

In die hoërskool is sy na die Hoërskool Labori in die Paarl.

Sedert 2008 moes sy agt operasies ondergaan aan onder meer haar oë, weens artritis in haar voet, en om haar beenspiere te probeer verleng.

Sedert 2008 moes sy agt operasies ondergaan aan onder meer haar oë, weens artritis in haar voet, en om haar beenspiere te probeer verleng.

“Ná elke operasie was ek depressief, mislik en in pyn. Dit was aaklig,” vertel sy.

Al het hulle probeer om die operasies in vakansietye te skeduleer, het Jamie steeds baie skool gemis.

“Die trappe by die skool was vir my baie moeilik om te klim, veral ná operasies aan my bene en voet. Daarom het ek dikwels ná die operasies nog ’n maand by die huis gebly.

“Gelukkig het my beste vriendin my gehelp deur my skoolwerk vir my huis toe te bring op dae wat ek skool gemis het,” sê sy.

Vir Jamie was die ongeloof­like onderwysers by die skool ook ’n ligpunt.

Ongelooflike ondersteuning

“Hulle het my altyd gehelp. Hulle het selfs die vraestelle vir my vergroot en daar was altyd kussings en komberse vir my in klas, want ek kry gou koud weens my swak sirkulasie.”

Kanker is boonop in 2013 by Jamie se ouer suster gediag­noseer en nadat sy in remissie was, het die kanker in Jamie se gr. 11 jaar teruggekom.

“Dit was ’n moeilike tyd, veral tydens die eksamen. Gelukkig is ons ’n baie hegte familie wat saamstaan en sterk probeer wees deur alles.”

Om die pad te stap was nie vir Jamie maklik nie en sy wou al baiekeer moed opgee.

“Dit is moeilik om positief te bly. My spiere raak gou styf en my bene het baie gepyn. Om skool toe te gaan en klasse te wissel was ’n ware uitdaging,” sê sy.

Kanker is boonop in 2013 by Jamie se ouer suster gediag­noseer en nadat sy in remissie was, het die kanker in Jamie se gr. 11 jaar teruggekom.

Tog het sy nooit toegelaat dat haar siekte haar terughou nie en ten spyte van al die skooldae wat sy gemis het, was sy konstant onder die topienleerlinge in haar klas en het sy ook akademiese erekleure ontvang.

“Die eindeksamen was vir my ’n moeilike tyd, want ek sukkel baie om te konsentreer op skoolwerk en is gou in pyn.

“Om vir drieuurvraestelle stil te sit, was veral moeilik,” sê sy.

Tog het sy dit reggekry om matriek met twee A’s te slaag en is nou opgewonde oor haar studies aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy BA Geestes­wetenskappe gaan studeer.

“Dit gaan ’n aanpassing wees en ek is ’n bietjie bang, maar dit is vir my belangrik om ’n kwalifikasie agter my naam te kry.”

Jamie hoop om eendag ’n sielkundige te word en sê haar lewe en wat sy deurgemaak het, sal haar help om ’n goeie loopbaan in dié veld te hê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.