Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Debat oor onderskeidings: 'Hul leer om hard te werk'

Goeie uitslae in matriek is dalk nie ’n waarborg van sukses op universiteit nie, maar leerlinge moet so goed doen as wat hulle kan om die gaping tussen skool en tersiêre onderrig te kan aandurf.

Dr. Jon Clark, direkteur van die Universiteit van Kaapstad se Eenheid vir Skole-ontwikkeling. Foto: UCT

Dr. Jon Clark, direkteur van die Universiteit van Kaapstad (UK) se Eenheid vir Skole-ontwikkeling, sê leerlinge wat op skool presteer, kan wel dié ervaring en vaardighede gebruik wanneer hulle verder studeer.

Clark het Donderdag gesê prof. Jonathan Jansen, voormalige rektor van die Universiteit van die Vrystaat, maak ’n geldige punt oor die “gevaar” daaraan verbonde om op akademiese sukses te fokus ten koste van eienskappe soos leierskap, kommunikasie en kritiese denke.

Jansen het die oggend in ’n twiet gevra wat die punt daarvan is om agt onderskeiding in gr. 12 na te jaag en te behaal. “Is dit werklik slim studente of die slagoffers van swak mentorskap. Hoor jy ooit weer van hulle? Hoeveel van hulle word gerekende leiers?”

Dié opmerking van Jansen het ’n groot debat veroorsaak met talle mense wat op sosiale media gesê het onderskeidings help leerlinge om beurse te kry en van hulle sit die sukses op universiteit voort.

Prof. Jonathan Jansen, voormalige rektor van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Herman Verwey

Soos vroeër berig, het Jansen by navraag gevra of dié “slim kinders” op skool ware leierskap, vaardighede in kommunikasie, begrip en kritiese denke leer.

Clark vermoed goeie skole sal reageer en sê hulle probeer om “goed afgeronde mense” die lewe in te stuur en dat akademiese sukses net een maatstaf is.

“Leerlinge wat akademies goed vaar, het nog altyd meer as die minimum aantal vakke geneem en dit is nie so moeilik om sukses te behaal nie. Ek dink ook nie dit is ’n slegte ding om leerlinge aan te moedig om ’n ekstra vak of twee te neem as die skool dit aanbied nie.”

Volgens Clark is daar egter ’n “dieper kwessie” van toegang en ongelykheid, met dié dat dit gewoonlik net in middelklas- en voormalige Model-C-skole moontlik is om meer as agt vakke te neem.

“Dit is ’n luukse wat in die meeste werkersklas-skole nie beskikbaar is nie.”

Dit is ’n luukse wat in die meeste werkersklas-skole nie beskikbaar is nie.

Jansen is reg om daarop te wys dat goeie skoolpunte nie ’n waarborg van sukses op universiteit is nie of dat die leerlinge wat op skool geleer het om hard te werk nie noodwendig dié vaardighede na hul tersiêre studie oordra nie, sê Clark.

“Dit lyk nie asof die akademiese gaping tussen skool en universiteit nouer raak nie. Dit raak waarskynlik groter namate mense vertroud raak met die kurrikulum en dit makliker word om leerlinge vir die finale eksamen voor te berei. Leerlinge moet in dié omstandighede so goed doen as wat hulle kan!”

Jansen het die oggend gesê hoewel hy kinders prys wat hard werk, dra skole die verkeerde boodskap uit en word die kinders “slagoffers van hul sukses”.

“Kinders werk baie hard om aan hul ouers en onderwysers se verwagtinge te voldoen, maar goeie mentorskap (wat hulle al bogenoemde leer) is baie belangriker. Skole leer kinders om inligting te onthou.”

Jansen is tans aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit van onderwys verbonde.

Teen die middag het meer as 120 mense op sy twiet kommentaar gelewer.

Een gebruiker sê dit behoort prysenswaardig te wees om net “jou absolute beste te doen” met die geleenthede wat mense kry. “Of jy nou ’n uitvoerende hoof is, ’n sport speel of ’n gr. 12-leerling is, doen die beste wat jy kan!”

Ellouise Richter het gesê onderskeidings beteken nie dat mense onmiddellik leierskapsvaardighede aanleer nie en sy hoor as onderwyser gereeld wat met haar vorige “A-studente” gebeur het. “Onderskeidings help ook om beurse te kry.”

’n Ander gebruiker sê dié wat soveel onderskeidings ontvang, word dokters, onder andere. “Sommige van ons lewe nog danksy die agt onderskeidings. Hulle doen hul werk stilweg as leiers.''

Sean van der Merwe sê ’n mens hoef nie ’n leier te wees om ’n positiewe bydrae te lewer nie. “Die meeste van hulle lei in stilte en vorder gladweg deur hul studies om model-burgers te word.”

Willem van Zyl het ook op Jansen se twiet gesê jy moet onder die beste wees om vir studies in die gesondheidsbedryf, wetenskappe en ingenieurswese aanvaar te word. “Jy sal nie weer van hulle hoor nie, want hul beroep neem al hul tyd op!”


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.