Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kommer ná slaagsyfer in N-Kaap 2de jaar daal

Sylvia Lucas, die Noord-Kaap se premier, is erg bekommerd oor die slaagsyfer van 2018 se matrieks wat die nasionale seniorsertifikaateksamen geskryf het, wat vir die tweede agtereenvolgende jaar gedaal het.

Die slaagsyfer het van 75,6% in 2017 tot 73,3% in 2018 gedaal.

Hoewel sy ook ontwrigtende diensleweringsbetogings in veral die Frances Baard-distrik die skuld gee, erken sy dat die daling nie uitsluitlik daaraan toegeskryf kan word nie.

Dié distrik, wat Kimberley insluit, se slaagsyfer het beduidend gedaal van 75,5% tot 71,4%.

Martha Bartlett, LUR vir onderwys, Sylvia Lucas, premier, en Tshepo Pharasi, departementshoof van onderwys en opleiding, met die bekendmaking van die Noord-Kaap se matriekuitslae. Foto: Charné Kemp

Kimberley, asook Barkly-Wes en Hartswater, het verlede jaar erg onder betogings deurgeloop. Skole is gesluit en leerlinge en onderwysers het uit vrees tuisgebly.

“Ek het Martha Bartlett (LUR vir onderwys) en haar bestuurspan versoek om deeglik ondersoek in te stel oor hoekom die slaagsyfer daal. Dit kwel my.

“Ons moet die oorsake vind en dit oplos. Daar is kort- en langtermynoplossings. Ons sal ook die grondslagfase moet ondersoek.”

Volgens haar is ingrypingsplanne reeds opgestel met die oog op die verkiesing en moontlike diensleweringsbetogings.

“Alle rolspelers, en veral die vakbonde, moet by die oplossing betrokke wees. Onderwysers moet te alle tye in die klaskamer wees. Onderwys is ’n roeping, nie ’n beroep nie.”

Tshepo Pharasi, departementshoof van onderwys en opleiding, het sy lot bekla oor die klein begroting van die Noord-Kaap vergeleke met provinsies soos Gauteng.

“Met die diensleweringsbetogings in Kimberley was daar ’n dreigement dat die stad oor die eksamentyd tot stilstand gebring sou word. Om alternatiewe sentrums in te rig, sou ons R48 miljoen gekos het. Ons het nie die begroting nie.”

Twee van die Noord-Kaap se toppresteerders saam met amptenare van die departement van onderwys. Van links is dr. Michelle Ismael, kurrikulumhoof, Janneke Pienaar van die Hoërskool Diamantveld, Martha Bartlett, LUR vir onderwys, Alecia Brits van die Hoërskool Diamantveld, Sylvia Lucas, premier, en Tshepo Pharasi, departementshoof. Foto: Charné Kemp

 

Topleerlinge

Die topleerlinge in die provinsie is Janneke Pienaar en Alecia Brits van die Hoërskool Diamantveld en Olivia Fielding van Kimberley Girls’ High.

Die provinsie se aantal onderskeidings het met 0,9% gestyg en die aantal leerlinge met universiteitsvrystelling het van 2 205 tot 2 589 gestyg. Die aantal leerlinge wat wiskunde geslaag het, het met 1,7% gestyg en dié wat wetenskap geslaag het, het met 10,1% toegeneem.

Die Hoërskool Hopetown en Kimberley Girls’ High het ’n slaagsyfer van 100% – ’n prestasie wat hulle die afgelope vyf jaar reeds volhou. Die ander skole met ’n 100%-slaagsyfer is die Hoërskool Vaalrivier en die Hoërskool Hartswater.

Die topskole in elk van die vyf distrikte is Kimberley Girls’ High, Hoërskool Kalahari, Hoërskool Namakwaland, Hoërskool Hopetown en Hoërskool Duineveld.

Die skool wat die grootste verbetering getoon het, is die Hoërskool Warrenvale met ’n slaagsyfer van 95,5%, vergeleke 2017 se 47,4%.

Meer oor:  Sylvia Lucas  |  Matriek2018  |  Matriekuitslae2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.