Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
KYK: Geweld kry dié matrieks nie onder

“Ons matrieks kom uit geweld- en bendegeteisterde gebiede, maar hul omstandighede kry hulle nie onder nie, inderwaarheid gee dit hulle die krag om te presteer.”

Só sê ’n trotse Mark Fairbairn, hoof van Spine Road High School in Mitchells Plain, Kaapstad, nadat sy skool se matrikulante weereens die skool en woonbuurt se naam hoog gehou het met ’n 98,3%-slaagsyfer.

Die skool, reeds jare lank die trots van Mitchells Plain met ’n jaarlikse slaagsyfer van tussen die hoë 90’s en 100%, het vanjaar weereens uitgeblink.

Tauqeer (links) en Taufeeq Parker, ’n identiese tweeling van Spine Road High School, is in hul noppies met hul uitslae en beplan om verder te studeer.Foto: Adrian de Kock

“Dis my eerste jaar dat ek die matriekuitslae uitdeel en ons skool het rede om trots te wees. Ons is bietjie af van die vorige jaar se 100%-slaagsyfer, maar die gehalte van die uitslae is baie goed.”

Fairbairn sê van die 240 matrieks wat geslaag het, het oor die 70% met universiteitstoelating geslaag, terwyl 26 van die leerlinge elk meer as drie onderskeidings gekry het.

Volgens Fairbairn is dit ook die eerste jaar dat die skool inligtingstegnologie as ’n vak vir gr. 12’s aangebied het en is ’n 100%-slaagsyfer behaal met Shaygha Hendricks wat die hoogste punt van 89% behaal het.

“Ons is nie ’n skool nie, ons is ’n familie. Ons stel hoë standaarde vir ons leerlinge. Hulle kom almal uit dieselfde gemeenskap, maar hul omstandighede moet hulle nooit terughou nie. Ons het deurentyd noue bande met ons ouers en as daar probleme opduik, pak ons dit soos ’n familie aan.”

Hy sê die skool se sukses hang af van die gehalte-onderwysers en by Spine Road is onderwys ’n passie.

Tauqeer en Taufeeq Parker, ’n identiese tweeling wat angstig vir ure buite die skool gewag het om hul uitslae te kry, was verheug dat hulle geslaag het.

Raeed Ryland (18), die toppresteerder met sewe onderskeidings aan Spine Road High School in Mitchells Plain, saam net sy ma, Tougeda Ryland. Foto: Adrian de Kock

Die twee, wat aanvanklik in Portlands gebly en sedertdien verhuis het, sê geweld en misdaad raak baie leerlinge in die gebied.

“Toe ons nog hier gebly het, was ons maar angstig om skool toe te loop, want ons moes verby ’n groep mense loop wat lyk of hulle besig is met verkeerde dinge en ons wil beroof. Gelukkig het dit nie gebeur nie. Van ons klasmaats wat in Lentegeur en Tafelsig woon, kla egter knaend oor bendegeweld en ’n skietery wat hulle in die nag wakker hou,” sê Taufeeq.

Die tweeling sê hulle het elke dag saam studeer en as die een beter in ’n vak is, sal hy die ander help en so het hulle mekaar met die leerdery uitgehelp.

“Ons het geweet dat ons goed sal doen, maar op die nippertjie het ons soos almal senuweeagtig geraak,” sê Tauqeer.

Leerlinge van Spine Road High School se matriekklas van 2018 vier hul uitslae. Foto: Adrian de Kock

Raeed Ryland, Spine Road se toppresteerder met sewe onderskeidings, sê hoewel hy nog altyd goed op skool gevaar het, het sy senuwees hom amper ondergekry.

Sy trotse ma, Tougeda, sê gedurende haar seun se skoolloopbaan was daar altyd geweld in hul woonbuurt en omliggende gebiede, maar sy was altyd daar vir hom.

Omdat hulle binne loopafstand van die skool bly en sy gelukkig ’n ma is wat by die huis is, kon sy haar seun vergesel en by die skool gaan haal as daar bendeprobleme of ’n skietery in die woonbuurt was.

“Daar is nie woorde om te sê hoe trots ek op Raeed is nie. Hy is net ’n wonderlike kind. Ek het van kleins af geweet hy gaan uitblink op skool toe hy tydens sy skoolvakansies op laerskool vir ’n sakrekenaar gevra het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.