Die Wes-Kaap hou duimvas dat die matriekklas van 2019 ’n slaagsyfer van bo 80% sal kry.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap. Foto: Edrea du Toit
Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR van onderwys, sê dit is so realisties as wat sy kan wees.
Die Wes-Kaap se matriekslaagsyfer vir 2018 se matrieks was op 81,5% laer as die 84,4% van 2017.
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, maak op 8 Januarie die nasionale slaagsyfer in Johannesburg bekend.
Die uitslae van leerlinge van die Wes-Kaap sal op 9 Januarie in Die Burger gepubliseer word. Die matriekuitslae sal ook van 8 Januarie af op Netwerk24 verskyn.
Schäfer sê: “Gegewe die omstandighede waarin die departement werk en toenemende getalle mense wat in gr. 10 uit ander, swakker provinsies na die Kaap kom, krimpende begrotings, groter klasse en die verslegtende sosiaal-ekonomiese omstandighede, hoop ek meer as 80% slaag.
“Ons sien uit na die provinsiale uitslae Dinsdag en die uitslae van die skole en kandidate op Woensdag om 12:00.”