Sewe skole in Limpopo het ’n 0%-slaagsyfer in die 2020-matriekeindeksamen gehad.
Polly Boshielo, LUR van onderwys in Limpopo, het dit Dinsdag gesê tydens die bekendmaking van die provinsie se uitslae van dié eksamen.
Sy sê daar is 73 leerlinge in die sewe skole. Nie een het gr. 12 geslaag nie.
Die skole is in verafgeleë landelike gebiede en die gemeenskappe skop vas om saam met groter skole te smelt.
“Dit is onvolhoubaar om die skole oop te hou en dit doen niemand goed nie. Ons doen ’n beroep op die gemeenskappe om die onderwysdepartement toe te laat dat die skole met ander saamsmelt.”

Anton du Plessis, hoof van die Hoërskool Nylstroom in Modimolle, by die top-vyf matrieks. Hulle is van links: Deze-Lane Labuschagne (vier onderskeidings), Alicia Oberholzer, James Chauke, Tjaart du Plessis en Gerhard Kotzee (almal ses onderskeidings). Foto: RONEL VAN JAARSVELD
Al 22 gr. 12-leerlinge van die Ralerumo Secondary School in die Mopani-Wes-distrik het gedruip. Die leerlinge van twee skole in die Mogalakwena-streek, twee in die Sekhukhune-Oos-streek, een in Sekhukhune-Suid en een in die Magatle-streek in Capricorn het ook gedruip.
In 2019 het nege skole in Limpopo ’n 0%-slaagsyfer gehad.
Limpopo se matriekslaagsyfer is 68,2%, 5 persentasiepunte laer as die 73,2% in 2019.
78 695 leerlinge in die provinsie het die matriekeindeksamen geskryf. Hiervan het 53 634 leerlinge geslaag.
Boshielo het gesê 22 907 leerlinge het universiteitsvrystelling gekry. Dít is ’n toename van 29,1 persentasiepunte vergeleke met 2019.
Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, het gesê dit is teleurstellend dat Limpopo “die derde swakste matriekuitslae in die land het”.
Volgens hom is dit kommerwekkend dat 134 uit die 1 370 skole in die provinsie nie ’n 40%-slaagsyfer kon behaal nie. “31 van die skole het nie eens ’n 20%-slaagsyfer nie.”
Volgens Boshielo het 16 044 gr. 12-leerlinge in Limpopo onderskeidings behaal. “Ek is baie bly om te kan sê dat die meeste hiervan (10 334) deur meisies verwerf is.”
Boshielo het gesê die Covid-19-pandemie het Limpopo se skole swaar getref en onderwysers, lede van skoolbeheerliggame en werknemers in die onderwysbedryf is aan die virussiekte dood.
Die Waterberg-distrik het die beste gevaar in 2020 met ’n 77,5%-slaagsyfer. Vhembe-Oos is ’n kortkop agter met 77,1% en Vhembe-Wes is derde met 72,7%.
Boshielo het gesê die onderwysdepartement in Limpopo gaan fokus om skole wat ingenieurs-, tegnologie- en landbouvakke aanbied, meer te steun.
Die Hoërskool Merensky in Tzaneen is as die top-landbouskool in Limpopo aangewys en die Thohoyandou Technical School is die beste tegniese skool in die provinsie. Mbilwi Secondary School in Sibasa buite Thohoyandou is weer as die beste skool aangewys wat wiskunde aanbetref.
Die Hoërskool Nylstroom in Modimolle het ’n 97%-slaagsyfer. Anton du Plessis, skoolhoof, het gesê toe leerlinge ná die streng inperking verlede jaar kon terugkeer klasse toe “het ons nie ’n enkele sekonde vermors nie. Ons is trots op die skool se mooi resultate.”
James Chauke (18), die skool se hoofseun in 2020 wat ook as die Nylie van die Jaar aangewys is, het ses onderskeidings behaal. Hy gaan vanjaar medies aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer.