Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Matrieks vier uitslae in Suid-Kaap

Die vreugdevure het Vrydag hoog gebrand in die Suid-Kaap toe die 2018-matrieks hul uitslae ontvang het.

Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn en die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal is twee van die skole wat ’n 100%-slaagsyfer behaal het, volgens die skole se Facebook-blaaie. Na verneem word, is daar slegs drie skole in die Eden- en Klein-Karoo-onderwysdistrik met ’n 100%-slaagsyfer.

Ashmeralda Windvogel (19), Hailey Joy Micheals (17), Raydene Jansen (18) en Alvinia van Rensburg (18) van die Hoërskool George Vrydag met hul matriekuitslae. Foto: Jackie Kruger

Die Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) in George het ’n 99%-slaagsyfer behaal. Sy Dux-leerling, Nina Augustyn (19), het agt onderskeidings (meer as 90% in al haar vakke) behaal.

“Ek het dit glad nie verwag nie. Ek het maar sleg eksamen geskryf,” het sy gesê.

Sy gaan vanjaar forensiese BRek aan die Noordwes-Universiteit (NWU) studeer.

Sy raai vanjaar se matrieks aan om van die begin af hard te werk.

“Dit moenie soos ’n crash course wees nie. Jy moet elke dag werk.”

Derick Rabie (18), Munae Troskie (18), Elizma Byleveld (18), Nelise van Aarde (18), Meike Strydom (18), Deandri Boucher (18) en Dihan Goussard (18) van die Hoërskool Outeniqua in George in die wolke oor hul uitslae. Foto: Jackie Kruger
Nina Augustyn (19) van die Hoërskool Outeniqua in George is die skool se Dux-leerling met agt onderskeidings. Foto: Jackie Kruger

By die Hoërskool Punt op Mosselbaai het 18 gr. 12-leerders ’n A-gemiddelde behaal. Langenhoven Gimnasium pronk met nege A-kandidate en by die Hoërskool Outeniqua het 20 kandidate sewe onderskeidings en vyf kandidate agt onderskeidings elk behaal.

Theo Willemse (18) van die Hoërskool Heidelberg was baie in sy noppies met sy twee onderskeidings. Hy gaan BSc(Bosbou-natuurwetenskappe) aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer en later chemiese ingenieurswese.

Die Senior Sekondêre Skool Kairos op Heidelberg se top-kandidaat, Valencia van Wyk (18) van Slangrivier, het vier onderskeidings behaal. Sy gaan vanjaar BCom(Rekeningkunde) aan die NWU studeer.

Die Hoër Landbouskool Oakdale het vir die 22ste agtereenvolgende jaar ’n 100 %-slaagsyfer behaal. Agt matrieks het A-gemiddeldes behaal. Onder die toppresteerders is Hanro van Rooyen (18) met 88,8% (sewe onderskeidings), Willem Wessels (18) 87,8% (agt onderskeidings) en Armand du Toit (18) 87,3% (sewe onderskeidings).

Valencia van Wyk (18) van die Senior Sekondêre Skool Kairos op Heidelberg is in haar skik met haar vier onderskeidings. Foto: Verskaf

Morton van Rooyen, hoof van die Hoërskool George in George, het gesê die skool het ’n slaagsyfer van 83,5% behaal. Altesaam 349 matrieks het die eindeksamen afgelê en verskeie vakonderskeidings is behaal.

“Ek is baie tevrede. Die outjies het ons regtig verbaas, maar ons onderwysers het ook baie hard gewerk. Ons het vanjaar ook ’n suksesvolle lenteskool aangebied en is dankbaar vir die hulp van instansies soos die Universiteit Stellenbosch, Universiteit van Kaapstad en die Nelson Mandela-universiteit.”

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement is genader oor die Suid-Kaapse skole se slaagsyfer, maar sal later terugvoering gee.

Theo Willemse (18) van die Hoërskool Heidelberg het twee onderskeidings behaal. Foto: Verskaf
Donalize Visagie (18; links) en Courtney Pyl (17) van die Hoërskool Outeniqua omhels mekaar nadat hulle hul uitslae ontvang het.Foto: Jackie Kruger
Meer oor:  Suid-Kaap  |  Matriekeksamen2018  |  Matrieks  |  Matriekuitlae2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.