’n Kandidaat kwalifiseer in die volgende gevalle om weer vakke in die aanvullende eksamens in Mei/Junie te skryf:
Slaag: As die kandidaat ’n maksimum van twee vakke steeds nodig het om die nasionale senior sertifikaat te slaag;
Mediese redes: As die kandidaat weens mediese redes nie die vraestel in die matriekeksamen kon aflê nie. ’n Geldige mediese sertifikaat moet aan die provinsiale onderwysdepartement verskaf word;
Sterfte in familie: As iemand in die kandidaat se onmiddellike familie in die eksamentyd sterf; en
Beter uitslae: As die kandidaat beter punte benodig om vir verdere tersiêre opleiding te kwalifiseer.
- Die aansoeke vir kandidate se aanvullende eksamens sluit op 31 Januarie.
- Besoek www.eservices.gov.za om aanlyn aansoek te doen.
- Aanvullende eksamens het in die verlede altyd in Februarie/Maart plaasgevind. Die onderwysdepartement het egter vanjaar besluit om dit te vervang met ’n tweede nasionale eksamen in Mei/Junie.
Luidens die departement van basiese onderwys is hierdie besluit geneem om leerlinge meer tyd te gee om voor te berei.
Leerlinge kon in die verlede slegs twee vakke se vraestelle skryf tydens die aanvullende eksamen, maar met die tweede nasionale eksamen kan hulle soveel vakke se vraestelle as wat hulle wil skryf.